Deur Prof. Ben de Klerk

Ons vraesteller noem dat sy nie sterk voel oor nuwejaarsvoornemens nie, maar dat sy eerder oor gebedsvoornemens wil nadink. Kom ons dink saam met haar hieroor.

Voornemens

Ons almal het meestal sekere voornemens. Ons kan dit ook ideale of besluite noem. ʼn Skolier se voorneme is om ʼn bepaalde persentasie te behaal. ʼn Besigheidsma kan haar voorneem om rustiger te lewe en meer tyd te maak vir haar gesin. By oorgange in die lewe, soos belangrike verjaarsdae, is daar ook voornemens soos om meer aandag aan gesondheid te gee. Die probleem met baie van hierdie voornemens is dat ons dit in eie krag aanpak en dan is die voorneme gou-gou vergete of loop dit uit op ʼn teleurstelling en selfverwyt.

Voornemens moet altyd gepaard gaan met ʼn besef van diepe afhanklikheid van die Here. Hy is die Een wat aan ons gawes, geleenthede en energie gee om realistiese en bereikbare ideale na te streef. Ons voorneme moet gekoppel wees aan gebed om die kragtige werking van die Heilige Gees in ons harte. Die stigma wat aan nuwejaarsvoornemens kleef is juis dat dit nie altyd met afhanklikheid, gebed en sekerheid van die werk van die Heilige Gees gepaard gaan nie.

Gebedsvoorneme in verhouding met God

Gebedsvoorneme is in die algemeen gesproke verdieping en verinniging van die gebedslewe. Gebed is die weerspieëling van ons verhouding met die Drie-enige God. In die verhouding neem God die inisiatief want Hy roep ons om kinders van Hom te wees en Hy dra ons deur met ons te praat. Gebedsvoorneme behoort veral te wees om met nuwe ore en harte na God te luister. Met sy Woord roep God gebed op. God se Woord het deur die werking van die Heilige Gees ʼn geweldige uitwerking op ons lewe, want deur kinderlik te luister sien ons meer van die grootheid en heerlikheid van God en dit gee nuwe stof om God te prys en te dank. In die verhouding met God, maak God vir ons ruimte en gee Hy vrymoedigheid om met Hom te praat. Hoe inniger ons verhouding met Hom, hoe groter vrymoedigheid en openheid is daar in ons gebedsgesprek met God. Hierdie verhouding maak dit moontlik om selfs met God te worstel wanneer ons sy pad met ons nie goed verstaan nie.

Gebedsvoorneme om meer te fokus of lofprysing

Die belangrikste deel van ons gebedslewe is lofprysing. Jesus sê aan die Samaritaan wat God hardop prys na hy van melaatsheid genees het: “Is daar niemand wat omgedraai het om God die eer te gee nie?”. So leer Hy dat die sin van ons bestaan en daarom van ons gebede is om God te loof, te prys en so die eer te gee. Lofprysing is om in woorde aan God te sê wie Hy vir ons is. Dit is nie altyd maklik nie, maar die Psalms en ander lofprysingsgedeelte in die Bybel help ons daarmee.

My gebedsvoorneme is om te konsentreer om my ontsag en bewondering al meer en meer die belangrikste deel van my gebed te maak.

Gebedsvoorneme om vas te gryp aan God se beloftes

Die Bybel is God se belofteboek, daarom die name Ou – en Nuwe Testament. God het heerlike beloftes gemaak wat alreeds vervul is. Aan hierdie beloftes gryp ons vas in ons gebede. God is ons God en ons is sy volk. Christus het gekom soos belowe is, en ons gryp vas aan die belofte dat Hy weer sal kom. Een van die belangrikste beloftes waaraan ons in elke gebed kan vasgryp is dat God die Heilige Gees gee aan elkeen wat dankie sê vir die gawe van die Gees en elkeen wat bid om die volheid van die Gees. Om vas te gryp aan God se beloftes gee wonderlike sekerheid en gee ook nuwe inhoud aan ons lofprysing van God.

Gebedsvoorneme om nie alleen op tydelike behoeftes te fokus nie

Wanneer ons as bidders nie vooraf goed na God luister nie en wanneer ons nie vooraf peins oor wat en hoe ons moet bid nie, verval ons gebede in vraesessies wat meestal om tydelike behoeftes draai. Ons kan vra en soek, want die Here belowe dat wie soek sal vind en wie vra sal kry. Daarom moet ons behalwe ons klein behoeftes van elke dag ook groot vra: Vra om ons meer en meer die sin van ons aardse bestaan te laat verstaan. Vra om ons geloof te versterk en ons bly te maak oor die wonderlike hoop wat ons het. Vra om ons meer bewus te maak dat die Heilige Gees liefde in ons harte stort en ons so in staat stel om liefde te kan gee.

Die Here sal ons lei om hierby nog gebedsvoornemens deur die krag van die heilige Gees te voeg.

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Picture of Grietjie Prinsloo
Grietjie Prinsloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top