Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as ons weer ons asems terugkry en saam sing, word ons stemme deel van ’n komplekse klank in harmonie met die berge… maar wat draai en swaai en LEWE.
Deur Annamie Odendaal
’n Mens kan lewende organismes, eenvoudig of ingewikkeld, groot of klein, maklik in detail beskryf. Jy kan hoogs interessant vertel van al die verskillende funksies wat deur verskillende dele van die organisme vervul word om dit aan die lewe te hou, maar een ding kan jy nie doen nie: Jy kan nie verduidelik hoekom dit lewe nie. Niemand kon nog ooit daarin slaag om iets aan die lewe te kry nie. Net God kan dit doen.
Alles wat lewe bestaan uit selle, meestal ʼn hele paar miljoen of triljoen daarvan. Groot getalle selle is egter nie ’n vereiste vir lewend wees nie. Daar is baie eensellige organismes. ‘n Membraan hou die binnekant van elke sel bymekaar en reguleer wat die sel kan binnekom en verlaat. Die malariaparasiet, wat omtrent 0,0002 millimeters (2 mikrometers) groot is, bestaan uit net een sel, klein genoeg om in ‘n muskiet te kan lewe tot dit ‘n beter gasheer (mens) se lewe begin vergal. Party eenselliges is verstommend groot: daar is eenselliges wat tot 20 cm lank is.
Bakterieë, wat vir ons soveel moeilikheid en siekte besorg, is ook eensellig. Alles wat gedoen moet word om aan die lewe te bly, gebeur in en deur hierdie een sel. Daar is baie, baie soorte bakterieë, en hulle lewe oral op aarde. Hulle leef sommer ook binne en op ander lewende organismes, en nie net om siekte te veroorsaak nie. Daar is omtrent 10 keer meer bakterieë in en op ons liggame as wat daar selle daarin is, en meeste is vir ons voordelig. Ons verteringstelsel is vol bakterieë en ander mikroskopiese lewende organismes. Die regte balans tussen “goeie” en nadelige organismes in die verteringstelsel het glo ’n groot invloed op jou gesondheid en gemoed. ’n Mens se vel is oortrek met klein lewende wesentjies waarsonder dinge nie so voorspoedig vir jou sou wees nie. Bakterieë is letterlik oral.
Die heel eenvoudigste diertjie wat al ontdek is bestaan uit omtrent 50 000 selle. Vyftigduisend selle is steeds baie min: Trichoplax het nie ‘n mond of ‘n maag of spiere of bloed of are nie. Ook nie ‘n voorkant of agterkant nie. Dis bloot ‘n vel plat selle, 3 selle dik, so groot soos ‘n sesamesaadjie. Dit verander aanmekaar van vorm soos dit voortbeweeg, of eintlik voortspartel. Tog is daar verskillende soorte selle met verskillende funksies in dié klein spoegseltjie. Trichoplax lyk nou nie juis soos ’n diertjie nie, meer soos ‘n amoeba – maar dié het nou weer net een sel. (Net vir die interessantheid: baie amoebas is groter as die Trichoplax.)
Uit hoeveel selle bestaan ’n mens? Meer as wat daar sterre aan die hemel is. En waar eenselliges alles in die een sel doen, het die menslike liggaam ‘n baie groot verskeidenheid selle, elk hoogs gespesialiseerd in funksie(s). Die grootste selle in ʼn mens se liggaam is aan die binnekant van jou wang geleë. Jy kan dit deur ‘n gewone mikroskoop bekyk. Ander soorte selle is meestal te klein hiervoor.
Alle selle bestaan uit ‘n membraan aan die buitekant, en allerhande organelle met verskillende funksies daarbinne. Die belangrikste is ʼn selkern. Die selkern gee instruksies aan die sel soos om te groei, volwasse te word, te verdeel of te sterf. DNA, ‘n mens se oorgeërfde materiaal, is ook in die selkern. Sitoplasma is die medium waarin die organelle “dryf”. Die sitoskeleton is ’n netwerk van lang vesels wat aan die sel struktuur en beweegbaarheid gee. Dit speel ook ‘n rol in seldeling. Hierna word die lys van organelle te ingewikkeld om een vir een te beskryf, maar dis deeltjies wat die sel se genetiese instruksies gebruik om allerhande molekules en proteïne te vervaardig wat die liggaam nodig het. Ander organelle funksioneer om vreemde bakterieë te vernietig, gifstowwe uit te skei en verouderde selkomponente te hersirkuleer.
Die mees komplekse organelle is die mitokondria. Benewens baie ander funksies, is hulle verantwoordelik vir die energieverskaffing in die sel. Ek sal baie lank kan aanhou vertel oor die wonderlik ingewikkelde mitokondria, so klein dat daar gemiddeld tussen honderd en tweeduisend daarvan in elke individuele mikroskopiese sel ywer om die mens of dier of wat ook al dit aan behoort, aan die lewe, beweeg, voortplant, groei, eet, drink en wat nog alles te hou. Wetenskaplikes se navorsingsverslae oor elke iedere aspek van lewe maak my altyd opgewonde oor hoe groot God is, hoe slim, vernuftig, liefdevol, regverdig, almagtig en aanbiddenswaardig. Ek het al geleer om verby die rigiede raamwerk van evolusionisme te lees waarin die meeste navorsers hulle nuwe ontdekkings plaas.
Mense wat hul werk so streng probeer reguleer sodat hulle nie tot valse konklusies moet kom nie, kan darem so sonder insig verby die wonders van die skepping kyk! Die Here kan beslis die rustige ontwikkeling van evolusie gebruik wanneer Hy skep, maar Hy is nie beperk tot hierdie een metode nie. Ons kan tog nie namens Hom besluit hóé Hy geskep het nie.
Dit voel vir my die een feit wat almal moet laat wakker skrik hieroor, is reg voor ons oë: daardie bakterie met sy een selletjie lééf! Hy doen sy ding sonder dat ’n mens kan verstaan hoe dit moontlik kan wees. Elke mens het al voor die misterie van lewe en dood gestaan. Hoe hartsgraag sou ons nie ons geliefdes weer aan die lewe wou bid of wens of huil of iets nie, maar dit is nie binne ons vermoë nie. Ons kan nie eers die liewenheersbesie wat ‘n ywerige klein handjie per ongeluk stukkend druk, heelmaak en laat vlieg nie. Maar die Here het daardie dingetjie ontwerp en gemaak en daaraan die onverklaarbare wonder van lewe gegee.
BRONNE:
- https://medlineplus.gov/genetics/understanding/basics/cell/
- https://www.sciencenewsforstudents.org/article/living-mysteries-meet-earths-simplest-
animal - https://en.wikipedia.org/wiki/Protozoa
- https://www.healthline.com/health/bacteria
- https://en.wikipedia.org/wiki/Mitochondrion