Leer jouself ken deur God se oë

“Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” Só vra Dawid vir God om hom te lei en op die regte pad te hou (Ps. 139: 23-24).

Deur Marie Blignaut

Hoeveel van ons het die moed om aan God so ‘n vraag te stel? 

Sien ek kans dat God mý hart deurgrond en evalueer? O nee! Ek is té gebroke, té vet, té maer, té arm, ryk of skelm! Ek is nie suksesvol genoeg nie, ek skinder gereeld van ander mense, soms ooreet ek my en ek sukkel soms om my naaste lief te hê.


“O, ‘seblief God, moet my níé deurgrond nie, ek is geen Dawid nie!”

Dawid: man na God se hart…

Kom ons leer ken Dawid bietjie beter ken: In 1 Sam. 13:14 word hy die man na God se hart genoem. Ek wonder of hy aan die hoë vereistes wat ons aan onsself en die wêreld aan ons stel, sal voldoen? Ons eerste reaksie sal wees om aan te dui dat Dawid ‘n aansienlike jongman was (vgl. 1 Sam. 16:12), hy was braaf: het leeus en bere kaalhande aangevat (vgl. 1 Sam. 17:36). Hy was ‘n musikant (sien 1 Sam. 16:16-21); ‘n goeie vriend (so lees ons in 1 Sam. 18) én uiteindelik ook ‘n koning. Gemeet aan wêreldstandaarde, was Dawid se lewensverhaal ‘n suksesverhaal; geen wonder hy was so braaf om God te vra om sy hart te deurgrond nie…

… en tog ook net feilbare, gebroke mens…

Uiteindelik was Dawid egter ook net ‘n gebroke mens met baie foute: hy pleeg egbreuk (2 Sam. 11), hy moor (2 Sam. 11:14-27), hy wen nie pryse op Vadersdag nie (vgl. 1 Kon. 1:6, 2 Sam. 13:21), hy is trots en hou ‘n sensus om die omvang van sy mag te bepaal (2 Sam. 24). Hy oordeel té vinnig (2 Sam. 16:1-4 ) en toon swak onderskeidingsvermoë (2 Sam. 19).

As ons na dié kant van Dawid kyk, kan ons bietjie beter met hom identifiseer. Ons kan onsself opweeg een hom en selfs ‘n veer in die hoed kry omdat ons nie heeltemal só sleg is nie. Bid jou aan, moordenaar en egbreker; hy sal sy sokkies moet optrek!

Hoe op dees aarde gaan ek myself leer ken?

My vraag is: “Hoe noem God steeds vir Dawid ‘n man na sy hart? Hoe het God hom steeds lief en hoe kies God sy bloedlyn om die voorvaders van Jesus Christus te word? Hoe op aarde het hy aan dié vereistes voldoen? Hoe op aarde kan ek aan die vereistes voldoen?”

Die antwoord, myns insiens, is dat jy moet besef dat geen mens aan God se vereistes kan voldoen nie, ons almal spartel rond in ‘n poel van sonde en as ons na mekaar, of na onsself, kyk deur menslike oë, sal ons nooit die paal haal nie. Onafhanklike introspeksie sal ons ons laat blindstaar teen die sonde. Die uiteinde van ons selfontdekking sal ‘n donker depressie wees. Ons sal, soos Dawid in Ps. 69:6 depressief vir God sê: “U weet hoe sondig ek is. O God, my verkeerde dade kan ek tog nie vir U wegsteek nie.”

As ek myself deur aardse oë leer ken, wil ek ook soos Jesaja uitroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk wat onrein is!”(Jes. 6:5).

Is ek dan nou verlore? Dawid, Jesaja en verseker ook ek, maak dit nie! Hoe moet ek myself dan leer ken? Hoe moet ek vrede maak met my sondige natuur en met my gebrokenheid? Hoe kan moordenaar Dawid ‘n man na God se hart word en Jesaja se lippe weer rein word as niemand waardig is voor God nie?
Kyk na jouself – en ander – deur God se oë.Ons moet onsself eerder deur God se oë leer ken. God kyk nie na ons deur menslike lense nie. Hy kyk na ons deur sy Seun, Jesus Christus, ons Verlosser.

Wanneer ons ons knieë buig voor Jesus, word ons God se kinders: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Jesus Christus is nie”(Rom. 8:1). “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus” (Rom. 5:1). Hoe wonderlik is dit nie? God kyk na my deur Sy Seun se oë! God deurgrond my hart deur genade-oë.

Dawid het sy sonde bely en telkens weggedraai daarvan af. Deurlopend het hy vergifnis gevra en sy knieë gebuig voor God. Hy het ook besef dat God hom gevorm het in die skoot van sy moeder. Hy het God geloof want Hy het hom op ‘n wonderbaarlike wyse geskep het (vgl. Ps. 139:13-14). As ek dan myself leer ken as ‘n waardevolle, unieke skepsel van God, as sý kind deur Jesus Christus, kan ek nie anders as om in ‘n ander lig na myself te kyk nie. Ek, net soos Dawid, is ‘n gebroke mens hier op aarde, maar ek kan myself liefhê en nederig dankbaar wees dat God ons sonde vergewe het deur sy geliefde seun aan die kruis te laat sterf vir ons sondes.

John Newton sê dit so mooi: “I am not what I ought to be, I am not what I want to be, but still I am not what I once used to be, and by the grace of God, I am what I am!”

As ek myself deur God se oë leer ken, kan ek dan uiteindelik , soos Dawid in Ps. 131 sê:

“Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge
nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.”

Dankie Here dat ek myself deur U oë kan leer ken. Ten spyte van al my swakhede, is U
genade vir my genoeg!

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Picture of Grietjie Prinsloo
Grietjie Prinsloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top