Die heel eerste Gereformeerde Vroueblad (tydskrif van Die Gereformeerde Kerke in SA) verskyn in Junie 1946. Die blad bestaan al vir 80 jaar. Daar was in 1946 nog nie ‘n redaksie nie. Die redakteur, Mev. JL du Plooy was redakteur en het ‘n span medewerkers gehad wat saam met haar gewerk het, naamlik: Mevroue JA du Plessis, F. Rumpf, NH van der Walt en PJS de Klerk. Die blad is toe genoem: “Orgaan van die Bond van Gereformeerde Sustersverenigings”. Die sustersverenigings het al sedert 1932 bestaan. Voor die Sinode van 1961 is die susters van die Gereformeerde Kerke saamgesnoer in ‘n landswye organisasie wat bekend gestaan het as Die Gereformeerde Sustersorganisasie en is daar gereeld Provinsiale en Uniale kongresse gehou.
Daar is egter beswaar ingedien teen die feit dat die susters op kerklike erf in ‘n vereniging georganiseer is. Volgens die Sinode se besluit [Acta 1961:454, B.2] het die Uniale en Provinsiale Komitees verval en is die laaste konferensie van susters onder die ou bedeling op 2 Mei 1963 gehou. Met die Sinode van 1964 word gevra om nadere verduideliking van sy besluit van 1961. Die finale verduideliking lui dan so:
Gesien teen die historiese verloop van die Gereformeerde Susters-Aksie, besluit die Sinode: “…om die mandaat van die Deputate van Die Kerkblad sodanig uit te brei sodat die deputate ook die uitgee van Die Vroueblad sal behartig…”.
Van toe af tot nou toe dien die redakteur van Die Gereformeerde Vroueblad as ‘n deputaat op die Deputategroep vir Kerklike Tydskrifte. Verskeie redakteurs het sedert die ontstaan van die blad, gedien: Tannie Dollie du Plooy (1946-1973); Annaline De Bruyn (1973-1993); Ansie du Plessis (1993-1999); Mariana Venter (1999-2003); Marina van Loggerenberg (2003-2009); Cobie Steyn (vanaf 2009 en sy is tans steeds redakteur).
In die heel eerste vergeelde kopie van hierdie tydskrif stel die redaksie dit duidelik dat hulle daar is om by te dra tot die verryking van die gelowige vrou – en dit bly steeds ons blad se hoofdoel.
Dit is ons gebed dat Die Gereformeerde Vroueblad sal bydra tot geloofsverryking vir elke vrou wat ons blad lees.
Dinamies. beGeesterd. Saam in diens van ons Koning.
Ek is Cobie Steyn, begenadigde redakteur van ons blad sedert 2009. Skryf en lees was van kleinsaf my intense passie, en my liefde vir die Here en sy Woord het ek by my ouers van kleintyd af saam met moedersmelk ingekry. Die Here het my geseën met ‘n siggestremde (blinde) eggenoot (predikant in die GKSA) met diep geestelike insig in dié Woord. Só het die Here my toegerus en begenadig vir my werk wat ek ook as ‘n roeping sien.
Ek is ’n onderwyseres met ’n liefde vir taal, skryf en kommunikasie. Buiten my werk in die onderwys help ek ook met die bestuur van die webtuiste en sosiale media van die Gereformeerde Kerk Vroueblad, waar ek betrokke is by die deel en bevordering van inhoud wat vroue in hul geloof en daaglikse lewe bemoedig en verbind. Ek geniet dit om deur skryf en digitale platforms ’n verskil in mense se lewens te maak.
Ek is Marlette van Rooyen en die sekretaresse van die Vroueblad. Ek is deel van die Gereformeerde Kerk Lyttelton in Pretoria, is getroud met Fritz, en het drie kinders, Rykers, Liné & Jani, wat my lewe vul met baie vreugde, lag en baie gebed. Ek is ‘n bedryfs ingenieur van beroep en ek wil graag ‘n verskil maak in my werk, by die kerk, in die lewens van mense met wie ek elke dag te doen het, asook by die Vroueblad.
Ek is vir die afgelope 36 jaar ‘n grafiese ontwerper en doen al vanaf 2003 die ontwerp en uitleg van die GVB nadat die destydse nuut aangewese redakteur, Marina van Loggerenberg my daarvoor genader het. Ek bly in Johannesburg en is in 1994 getroud met Hieronymus. Ek het 2 dogters: Emma (27) en Nina (24). Dit verskaf my groot vreugde om my kreatiwiteit uit te leef in my beroep, maar ek kry net soveel vervulling daaruit om ‘n mooi tafel vir ‘n spesiale funksie te dek of ‘n moeë kamer op te tower... As gelowige is dit vir my ‘n voorreg om elke maand die blad uit te lê tot seën van almal wat die tydskrif lees.
Ek is affi plaas in die ou Wes-Transvaal – jongste van 4 kinders, vrou van ‘n besonders oulike man, ma van ‘n dromerdogter en karring-aan-alles seun en werk by die privaat Ambulansdienste in Rustenburg (administratief). Ek ry graag perd; is lief vir alle diere (behalwe voëls); vir bewolkte weer en reën, modder is fantasties en kaalvoet is koning. My geloofsfamilie is Kruisberg Gereformeerde Gemeente en ek skryf sedert 2020 Leefdinge-artikels vir die Vroueblad – ligter artikels, met ‘n tikkie humor, maar met dieper geestelike nuanses.
Karel Steyn, saam met Susan en Sion, is woonagtig in Port Elizabeth waar hy as predikant dien van die Gereformeerde Kerk Port Elizabeth sedert 2022. Hy is in 2010 in sy eerste gemeente bevestig deur ds. Abel Steyn (ons redaktrise se eggenoot) waar hy werksaam was tot in Oktober 2012. Daarna was hy predikant in Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Oos (2012-2017) en Gereformeerde Kerk Vredenburg/Saldanha (2017-2022). Hy word genader wanneer daar enige teologiese vraagstukke opkom waarvoor daar antwoorde gegee moet word.