Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter leer ken”. Dit is ʼn mooi ding wat hier gebeur: Een lidmaat wat na ʼn ander uitreik – ’n gelowige wat moeite doen om die ander een waarlik te leer ken, ja, les bes ook lief te kry.

Deur Ds. Abel Steyn (GK Lydenburg)

In ’n klein gemeente waar ek vroeër bedien het, het ek in gesprekke met broers en susters voorgestel dat ons regtig moeite sal doen om mekaar beter te leer ken. Die reaksie van die meeste van hulle was: “Ons ken mekaar tog goed genoeg, waarom moet daar aksies geloods word om mekaar nog beter te leer ken?”


Met huisbesoek het ekself, omdat ek blind is, op verskillende maniere by lidmate uitgekom. My vrou het my soms na hulle toe geneem, of ‘n ouderling of ‘n diaken. Totdat ek ’n volgende praktiese plan bedink het: ek het my vrou gevra om my na die eerste besoekpunt toe te neem en dan vir die betrokke enkellopende of gesin gevra om my na die volgende huis toe te neem. Op hierdie manier het die aktualiteit van “Ons ken mekaar nie” na vore gekom. Die broer of suster wat my na die volgende huis toe moes neem, het (in ‘n klein dorpie) soms nie eens geweet waar die ander gesin of persoon bly nie.


So het die Here my siggestremdheid gebruik om broers en susters in mekaar se gesigsveld te bring. Op hierdie manier het hulle mekaar werklik beter leer ken – mekaar se huise ontdek en so ook die harte. Alles in ’n gemeente kan op geoliede wiele loop, maar as daar nie ʼn opregte behoefte is om mekaar beter te leer ken en mekaar te waardeer vir wie en wat die ander ene is nie, dan help al die aksies en die byeenkomste net mooi niks nie.

Die spreekwoord lui nie verniet: Onbekend maak onbemind nie.

Leef as lede van Christus se liggaam
Dit is nodig dat broers en susters in ’n gemeente mekaar ook buite eredienste, vergaderings en byeenkomste nog beter sal leer ken. Die Here roep ons om as lede van een liggaam te leef, na mekaar toe uit te reik, ons voete onder mekaar se tafels in te stoot. Ons Here Jesus het tydens sy bediening hier op aarde self ook in verskillende mense se huise gekom – maak nie saak wie hulle was of wat hulle status in die samelewing was nie. So was Hy onder andere in die huis van tollenaars, vrouens, siekes. Hy het hulle bedien, maar ook toegelaat dat hulle Hom met liefde bedien.


Leer ken jou broer en suster nóg beter.
In hoeveel huise van lidmate in die gemeente waar jy tans is, was jy al self? Wanneer jy onbevooroordeeld in iemand se huis instap en jou hart vir hom of haar oopmaak, leer jy hulle ken vir wie hulle is. Daarmee saam leer jy ook meer van hulle besondere omstandighede.

Iemand wat altyd met ‘n glimlag by die kerk aankom, het dalk ‘n kind met ‘n gestremdheid tuis wat besondere aandag verg. Of dis iemand wat nie maklik sy of haar hart oopmaak in ’n groep nie.

So ontdek jy na watter musiek luister hulle, wat lees hulle graag of wat is hulle stokperdjies. In die proses van saam wees onder een dak, ontdek jy wat maak hom of haar hartseer of bly – so ontdek jy hierdie mens is ‘n unieke skepsel van God, Sý mens. Die liefde van Christus bind ons saam tot ʼn heilige eenheid. Die liefde is die goue draad wat dwarsdeur ons lewens loop. Daarsonder is ons lewens betekenisloos (vgl. 1 Kor. 13).

Die grootste gawe wat die Here aan ons, sy kerk gegee het, is die liefde: “Lê julle toe op die beste genadegawes… Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ’n stuk klinkende metaal of ‘n galmende simbaal geword” (1 Kor. 12:31 & 1 Kor. 13:1).

Kom ons maak ons harte en ons huise vir mekaar oop.
Om hier en daar
iemand te ken,
iemand by wie jy
aanvoel dat daar begrip is ten spyte van
afstand
of onuitgesproke gedagtes;
dit kan van hierdie
aarde ‘n tuiste maak.

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Picture of Grietjie Prinsloo
Grietjie Prinsloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top