Griet Swanepoel
Voorleser:
Op die vooraand van die herdenking van die dood en opstanding van onse Here Jesus Christus kan ons hierdie gebeure inlei om stil te staan met die sewe keer wat Jesus gepraat het aan die kruis. Sewe woorde waarin God se liefde en genade oor ons hang soos die sewe kleure van die reënboog.
Hierdie sewe woorde is van besondere betekenis nie net vir ‘n Paasprogram nie, maar vir ons elkeen se reis na die ewigheid. Jesus se ontsaglike lyding word reeds deur Jesaja geprofeteer:
Voorleser: Lees Jesaja 52: 3-7
Hy was verag en deur die mense verstoot,
‘n man van lyding wat pyn geken het,
iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.
Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.
Tog het hy óns lyding op hom geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan en gepynig word.
Oor óns oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom,
deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.
Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word
en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
Voorleser:
Die eerste kruiswoord is vol vergifnis.
Terwyl hulle Jesus se klere verdeel en die lot daaroor werp sê hy:
“Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie”.
Voorleser:
Jesus bid, Hy bid tot Sy Vader. Hy bid vir die begenadiging vir sy oortreders. Almal wat Hom onskuldig oorgelewer het. Die gebed van Jesus om begenadiging het selfs die Romeine ingesluit wat met Israel saamgespan het om Jesus te verwerp en te kruisig. Daar word dus vir alle mense oral op aarde gebid wat Jesus weens onkunde verwerp het. Ons het elke dag behoefte aan vergifnis. Hierdie eerste kruiswoorde leer ons dat God ons nie wil en sal los nie, selfs na alles wat ons gedoen het. Kom ons hoor hoe hierdie woorde van vergifnis in Ps. 130 weerklink.
Sing : Ps. 130:1,2
Voorleser
Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Voorleser:
Jesus hang daar in die middel aan ‘n kruis, die middelpunt waar hemelse liefde en hemelse regverdigheid bymekaar kom. Selfs in Sy eie sterwensoomblikke, bly Hy enduit aan diens, vee Hy die poorte van die dood weg en vervang dit met die ewige lewe. Niemand is ooit te ver weg van God se liefde, genade en redding nie. Vir die een misdadiger was die kruis ‘n skande en twispunt, vir die ander die begin van ‘n nuwe lewe. Ons leer in hierdie woorde van Jesus — solank jy asemhaal is daar nog hoop tot redding. Al wat God van ons vra, is geloof in die verlossingsplan van sy gekruisigde Seun.
Sing: Ps. 66:7
Voorleser:
(Joh. 19:26-27).Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.
Voorleser:
Vir Maria sou dit ‘n bitter pyn en smart beteken om haar seun daar aan die kruis te sien hang, so ‘n smartlike dood. Sy moes toe verstaan het dat die profesie van Simeon by die geboorte van Jesus uitgespreek het dat dié Kindjie die oorsaak sou wees dat daar eendag ‘n swaard deur haar siel sou gaan.
As Jesus egter van die kruis af met sy moeder en Johannes praat is dit die laaste keer wat hy met mense praat aan die kruis. Vir oulaas stort Hy sy liefde en vertroosting in versorging van sy moeder uit. Jesus vertrou sy moeder toe aan Johannes, hy sal voortaan haar aardse seun wees. Hy sal vir haar ‘n huis gee, die hulp en steun wat sy nodig sal hê. Terwyl die berouvolle misdadiger ‘n plek in die hemel kry ontvang Maria ‘n woonplek op aarde.
Al is die toekoms so onseker. Vetrou op Hom, Hy wat vir Maria en Johannes na liggaam en siel versorg het, sal ons ook versorg.
Sing: Ps. 42:5
Voorleser:
Matteus 27:46 Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lema sabagtani! Dit is: My God, my God waarom het U my verlaat?
Voorleser:
Die vierde kruiswoord is die draaipunt van Jesus se kruiswoorde. Dit bring ons by Jesus se diepste en swaarste bitter. Dit is nou drie ure donker oor Golgota. Oor Jesus hang die donker wolke van God se oordeel. Jesus ervaar hoe God Hom verlaat as Hy nou die toorn van God oor die sonde van die hele menslike geslag oor Hom voel spoel. Hy haal Ps. 22 aan. Anders as Dawid wat net ‘n gevoel gehad het dat God ver van hom is … is Jesus nou totaal van God verlate. Hy het volkome die plek ingeneem van alle verlore sondaars wat van God verlate is, en wat deur die donkerte van goddelike toorn en oordeel omring word. Hy spreek die Here nie meer aan as sy Vader nie… Hy het nie ‘n Vader nie want die ganslike menslike geslag se sonde het soos ‘n groot berg tussen hulle ingeskuif … Jesus is hier in die diepste geestelike eensaamheid en innerlike pyn aan die kruis. Hy dra volkome onskuldig die straf wat ons verdien het. Hierdie vierde kruiswoord leer ons dat ons deur die kruisdood van Jesus soveel troos en sekerheid ontvang het. Na die versoeningsdaad van Jesus aan die kruis sou die mens nooit weer deur God verlaat word nie.
Sing: Ps. 74:7 & 15
Voorleser: “Ek het dors” (Joh. 19:28).
Voorleser:
Die vyfde kruiswoord beklemtoon dat Jesus volledig mens was wat die pyn van sy marteling en lyding moes verduur. Hy was reeds sestien ure sonder kos en water … Hy is naak aan ‘n paal vasgemaak. Sy arms is ook vasgemaak en sy voete gebuig waar spykers dit deurboor het. Hy is onder die toorngloed van God. Hy is dors. Hy is in intense pyn, het baie bloed verloor en is nou moeg tot die dood toe. In skok en in asemnood. Christus se dood was iets veel erger as ’n gewone mens se dood. Hy is deur die totale sondelas van ’n gevalle mensdom gekonfronteer en moes onder die toorngloed en oordele van God sy lewe aflê. Deur Sy wonde het daar vir ons genesing van ons wonde gekom. Ons ontvang die fontein van die lewe waaruit ons kan drink sodat ons nooit weer dors sal hê nie.
Sing: Ps. 63: 1
Voorleser:
“Dit is volbring!” (Johannes 19:30)
Voorleser:
Tetelestai. Die oorwinningswoord. In die eerste plek is die woord tetelestai in Bybelse tye as die sleutelwoord op ’n kwitansie gebruik. Dit het die betekenis gehad van ten volle betaal. Jesus het vir ons sonde betaal. Ons is vry. Ons sondeskuld is betaal.
Het die gedagte ooit by jou opgekom dat die Here Jesus jou gekoop het toe Hy sy bloed gestort en sy lewe vir jou afgelê het? Paulus herinner ons hieraan wanneer hy sê: “Want julle is duur gekoop.
Sing: Ps. 116:5
Voorleser:
“Vader in u hande gee ek my gees oor!” (Lukas 23:46)
Voorleser:
Die woorde van Dawid in Ps. 31:6 het die Joodse kinders as ‘n aandgebed aan moederskoot geleer. Na al die dagtake kon die kinders dan voor hulle slaap rustig raak en vas glo dat hulle bewaar sou word en in ‘n nuwe dag wakker sou word. Jesus roep met sy laaste krag dus ‘n kindergebed uit. Aan die kruis verander dit egter in ‘n oorwinningskreet. Hy het die volle rekening van die hele menslike geslag se sonde betaal. Hy was gehoorsaam aan God se reg. Jesus weet egter dat die Vader sy gees na drie dae vir Hom sou teruggee.
Voorleser:
Daarom kan ons ook op ons sterfbed ons gees in ons Vader se hande plaas. Daar is dit veilig. Ja, niks kan ons nou meer skei van God se liefde nie. Saam met Paulus jubel ons dit uit
Want ek is verseker dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here is nie.
Sing: Ps. 146:1-8