Deur Dr. Johannes Bingle (emeritus)
Tetelestai. Dit is volbring!
Die sprekende Man van smarte daar aan die kruis het net één Griekse woord nodig om te sê: My pad van lyding eindig – my werk is klaar gedoen.
’n Woord gelaai met hemelse werklikhede
In Afrikaans is hierdie een Griekse woord drie woorde: “Tetelestai”, of dan: “Dit is volbring.” Hierdie kort kruiswoord is die voorlaaste woord van die Sterwende.
Nou gaan bloed en lewe stol in die dood. Langer kan dit nie. Die einde is besig om aan te breek.
Een woord, in die laaste oomblikke, maar by die klink van dié woord knars die sesde venster op Golgota wyd oop. Ons kyk in die gemoed van die Nasaréner, en die verhelderende strale van God se ewige Raad skyn deur.
“Tetelestai – dit is volbring!” ’n Woord gelaai met hemelse werklikhede. “Tetelestai – dit is volbring!” En vandag nog dawer dié woord oor die velde van die geskiedenis.
Wat is volbring?
Maar as hierdie woorde so vanaf die doodsheuwel naby die Joodse hoofstad tot ons kom, moet ons sekerlik nou eers die vraag beantwoord: “Wat is volbring?” Dit is eers dan, as ons die antwoord hierop het, dat ons die inhoud en betekenis van dié kort, vol sin sal begryp.
Ons moet sekerlik hier aan minstens twee sake dink.
As die moeë Man van Nasaret met een van sy allerlaaste asemstote dié woord uitspreek, tot klank bring, dan sê Hy daarmee (dit is tog logies, nie waar nie?) “My lydenspad is nou voltooi, Ek is by die einde”; en dan sê Hy óók daarmee: “Ek het alles volbring, die ganse Wet en die profete”.
“Dit is volbring.” Die pad van lyde, en die pad van Wetsgehoorsaamheid. Dié twee, hulle einde, is in die sesde woord van die kruis aangekondig.
Die pad van lyde is in die eerste plek volbring – dit is die pad wat van die krip oor die kruis na die graf lei. Dit is die pad van geen gestalte of heerlikheid nie, van geen aansien nie, van veragting, verlating – die pad van smarte vir die Man van smarte.
Die hoofhaltes van sy smartpad
Ons ken almal die hoofhaltes waarlangs sy pad van smarte geloop het:
Getsémane: Die gebedstuin anderkant die Kedrondal, Jesus Christus, die Eensame, worstelend onder die nagtelike hemel – sy gesig bleek van spanning en nat van trane, sy hande bewend om die wrange lydensbeker.
Gabbata: Die verhoorsaal in die buitelug, Jesus Christus, die Regverdige op die plaveisel van die brug van Antonia, die woonplek van die Romeinse prokurasiehouer in Judéa – sy rug ontbloot en rou en rooi van bloed, sy kop gekroon met dorings terwyl Hy gespot word as die Koning sonder verdediging in die onregsverhoor.
Golgota: Die bloedgrond buite die poorte van die stad, Jesus Christus die Heilige, tuimelend in die donker-duister van die raaiselagtige heuwel waar liggaam en siel skei in die krisisure!
Getsémane, Gabbata, Golgota… en nou roep die Worstelende aan die einde van sy lydenspad uit: “Dit is volbring!” Tot hier loop die lydenspad. Nou gaan lewe en bloed stol in die dood. Die pad van lyde is enduit deurly.
Hoogtepunt én eindpunt
Waar die lyde sy hoogtepunt bereik, op Golgota, bereik dit ook sy eindpunt. ’n Moeisame pad van drie-en-dertig jaar lank, langs ruwe rotserande, kronkelend langs die steiltes van die Godsbestel, sluitend in die verlatenheid van die Hoofskedelplek. En die Sterwende roep dit uit (ja, hier het Hy ook pas nou die tweede dood, die ewige dood, die dood van die swaelvuurpoele gesterf vir sy volk): “Tetelestai!”.
Hy plaas ‘n punt agter sy lydenspad. Sy moeisame lewe en smartlike bloed gaan nou stol.
“Tetelestai!” Met hierdie woorde reik Jesus ‘n verklaring uit tot God en die mense.
Tot God: Vader, die moeilike en vernederende pad tot in die dood het Ek voltooi. Vader, u verordeninge het Ek volbring. Hoor my oorwinningskreet: “Tetelestai!”
En tot die mense: Júlle pad van dood het Ek afgelê. Vir júlle het Ek die wil van God gedoen. Hoor my oorwinning: “Tetelestai!”
Dít is sy oorwinningskreet En my oorstelpte uitroep van vreugde in God die Seun wat my as sterflike mens meer as oorwinnaar in Hom gemaak het.
Share your comments
Altyd verrykend om enige artikel in Die Vroueblad te lees. Vertroostend om weer Christus se pad te beleef en te besef: ook ek is vrygekoop