Liefde sonder beperkings Nick Vujicic

Resensent: Annamie Odendaal

 Liefde sonder beperkings –  ʼn aangrypende verhaal van ware liefde wat alles oorwin

Dit was vir my ‘n aangename verrassing om te sien dat hierdie Nick nie net naam gemaak het omdat hy suksesvol deur sy swaarkry stoei nie, maar dat hy  werklik ‘n diep gelowige is en boonop dapper en eerlik genoeg is om sy lewensverhaal so te deel dat dit ‘n blywende impak op sy lesers kan hê.  ’n Mens voel aan dat iemand met sy liggaamlike beperkings dinge baie goed sal moet deurdink voordat hy die verantwoordelikhede van ‘n huwelik en ouerskap aanvaar – maar as jy begin lees hoedat hy dinge deurgrond, kom jy agter dat dieselfde riglyne vir almal geld. Ons is eintlik almal ewe swak toegerus vir die lewe as ons ons eie paadjie stap sonder om doelbewus eerste te vra wat die Here wil hê.

Die boek word nie aangekondig as leefstylraadgewer nie, en dit is waar sy sterkpunt lê: Mense wat nooit sal raad soek nie, sal hierdie boek lees uit nuuskierigheid oor die unieke verhaal van ‘n man sonder arms en bene en hoe hy ’n vrou gekry het en pa geword het. Met die lees daarvan, sal hulle kry wat ek gekry het: Uitstekende Bybels-gefundeerde raad oor hoe om ‘n huweliksmaat te soek en hoe om ‘n huwelik te bou wat sal hou. Selfs ou getroudes kan maar lees – julle sal weer herinner word dat dit aanhoudende harde werk kos om ‘n huwelik wat tot God se eer strek, te onderhou. En werk, sê Nick, beteken eintlik fokus. Moenie dink as jy eers getroud is, is die werk afgehandel en nou bly julle tweetjies vir ewig gelukkig en sonder sorge saam nie. Hou aan om jou huweliksmaat se behoeftes bo joune te plaas. Hou aan kommunikeer. Wees nóg eerliker. Fokus op die sterk punte van jou maat en wees baie dankbaar daarvoor.

Nick se vrou kom uit ‘n gebroke gesin, terwyl hy uit ‘n gelowige gesin kom. Kosbare raad oor die ekstra struikelblokke wat iemand uit ‘n onstabiele of ongelukkige agtergrond moet oorkom, word storie-gewys gegee. Die leser kan regtig met die mooi vroutjie assosieer. Sy vertel haar eie storie, en Nick vertel hoe hy dit ervaar het. As jy iemand anders goed verstaan, word jy nie so kwaad oor hulle eienaardighede nie, en as jy boonop lief is vir hom of haar, en jy glo dat jy jou geliefde moet ondersteun en versterk, en jy wil dit boonop graag doen, is die uitkoms ’n triomf oor gebrokenheid.

Praktiese raad oor aanpassing in ‘n huwelik word ook gegee. Dit begin by ‘n sterk begronding rondom onthouding van seks voor die huwelik sonder om hoegenaamd prekerig te wees en bou voort rondom die struikelblokke wat die meeste huwelike teister: Skoonfamilie en geldsake word uitgelig.

Die skrywer maak ’n oortuigende saak uit dat jou geliefde se leefwêreld nie sommer agtergelaat of weggegooi kan word as jy regtig sy of haar belange vooropstel nie – raad wat baie jongmense nie sommer van enigiemand sal aanvaar nie. Maar as Nick dit beredeneer, klink dit so logies! Twee verstandige en gelowige mense sal in elk geval nie in hul hofmaaktyd heeltyd alleen wil wees as hulle uit die moeilikheid wil bly nie, en as hulle mekaar regtig goed wil leer ken, sal hulle onder andere by mekaar se gesinne ook kuier. Respekteer die ter saaklike kultuurgebruike rondom hofmaak, ouers vra en trou, ook as dit van joune verskil.

Geld dikteer ʼn dik streep van jou daaglikse wel en weë. As jy gaan trou, moet jou aanstaande weet watter finansiële verpligtinge jy reeds het en waarop jy maklik of moeilik geld uitgee. Daar is goeie raad in die manier waarop die twee hulle sake met mekaar uitgepraat het. Ek dink menige jong paartjie se oë sal oopgaan vir maniere waarop hulle mekaar moontlik afbreek. Daar is ook stories oor oplossings vir konfliksituasies wat almal maar beleef wanneer hulle eers getroud is.

Ook oor Kanae (Nick se vrou) se swangerskap, die geboorte van hul seuntjie die dag na hul eerste huweliksherdenking en die tydperk daarna word met eerlikheid in detail verhaal. Elke nuwe pa sal met Nick se vrese dat hy nie meer die middelpunt van sy vrou se aandag sal wees nie, identifiseer. Elke nuwe ma sal getroos voel om te lees wat Kanae moes deurworstel met borsvoeding en koliek en die strewe daarna om Superma te wees.

Hierdie boek is uitstekende huweliksvoorligting juis omdat dit die storie vertel van ’n  baie unieke paartjie!

 

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Picture of Grietjie Prinsloo
Grietjie Prinsloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top