Ontdek die verlossende krag van vryheid in Christus
Resensent: Annamie Odendaal
Party boeke kan jy vat en in ʼn aand of twee deurlees. Ander boeke is net nie daarvoor bedoel nie – en Beth Moore se Bybelstudieboek val in hierdie kategorie. Ek kla glad nie daaroor nie – inteendeel! Ek gee niks om dat ek by ‘n tafel moet sit en besonder sinvol Bybelverse moet opsoek nie. Wat ek net nie verstaan nie, is waar sy die gedeeltes vandaan kry – ek het my Bybel al ‘n paar keer deurgelees, en spesifiek ook die boeke waarin ek hierdie keer weer ‘n paar verrassings gekry het. Heerlik!
Die sterkste punt van die boek is Moore se deeglike verkenning van die hele Bybel rondom ‘n tema – oor die vyf dae van ‘n week kom mens uit by gedeeltes uit verskillende boeke van die Ou Testament, sowel as by die Evangelies, en nog ‘n brief of twee in die Nuwe Testament. Dit is wonderlike Skrif-met-Skrif vergelyking waarin ’n mens weer besef hoe lank die Here al met die mens besig is, en dat Hy nog altyd dieselfde is en sal wees. Die leser raak bewys van oor hoe ‘n lang tydperk die verskillende boeke van die Bybel geskryf is, en hoe uiteenlopend hulle is. Met hierdie studie is dit opwindend om te ervaar hoedat dieselfde Gees die hele Bybel deur adem. Daar is nét een Skrywer!
Die boek is as ’n tien weeklange kursus geskryf – daar is Bybelstudies vir vyf dae per week en daarna volg elke keer ’n samevatting van die week se werk – tyd dan vir stil word en nadink. Dit is geskik vir persoonlike sowel as groepsbybelstudie.
Die eerste week sentreer rondom ‘n studie van die konings van Juda in Jesaja se tyd. Die algemene tema is: Die bande wat ons bind. Uit hul lewens wys Moore op soveel verskillende leuens wat in alle eeue mense in slawerny hou. Leiers het ’n belangrike invloed in ’n mens se lewe, positief en negatief. Heelwat aspekte hier rondom word prakties en in besonderhede behandel. Altyd lei die Woord ons na Jesus en hoe ons ons met ons hele hart aan sy leiding moet onderwerp. Berou en bekering is ’n genadegawe uit God se hand en daarom kan swaarkry vir ’n mens só goed wees. ’n Mens se hart breek nie sommer vanself nie, en ‘n gebroke hart is broodnodig voordat jy jou aan God sal onderwerp!
Gedurende week 2 leer Moore ons van die rykdomme wat ons Here ons in oorvloed gee: Kennis en geloof in Hom, lofprysing en verheerliking, tevredenheid, vrede en bowenal – die vreugde daarvan om in God se teenwoordigheid te mag lewe. Haar vreugde en entoesiasme oor elkeen van hierdie oorvloedige gawes vloei voort uit die beloftes wat oral in die Woord daaroor gemaak word. Enigiets wat die gelowige verhinder om bewustelik hierdie hemelse vreugdes as jou daaglikse omgewing te beleef, is bande wat verbreek moet word sodat jy in Christus vry kan lewe.
Week 3 werk aan die afbreek van 5 hindernisse wat keer dat ons God se rykdomme voluit ons eie kan maak: Ongeloof, hoogmoed, afgodsdiens, ʼn gebedlose lewe en wettisisme. Susters, elkeen van ons word in ’n mindere of meerdere mate deur elkeen van hierdie hindernisse aan bande gelê. Dit is die moeite werd om hard te werk om hulle van jou af te skud!
In week 4 raak dinge moeilik: Indringend en steeds Skrifgetrou, eerder as om in sielkunde te verval, praat Beth Moore met ons oor al die kettings uit ons voorgeslagte en hoe dit ons van ‘n lewe van vryheid in Christus weghou. Hierdie hoofstuk het vir my besondere betekenis gehad: onthou julle die boek van Wentzel Coetzer wat ek vantevore resenseer het? Generasiebagasie: die onverwerkte pyn wat van geslag tot geslag oorgedra word. Selfs die mees geseënde families het maar hulle eelte en dorings in die vlees, en die meeste families het sommer erge bagasie.
Die daaropvolgende weke noem ek net: Vertroos die gebrokenes van hart; Eer in plaas van smart; Die Pottebakker en die klei; God se onveranderlike liefde; Doelgerigte gedagtes; Die toonbeeld van sy heerlikheid. As ek moet eerlik wees: Ek het nog self nie behoorlik deur die eerste 4 weke gewerk nie en daarom wil ek nie nou meer sê nie! Maar deurwerk gaan ek nog elke week deurwerk – met vreugde! En ek hoop van harte dat ek baie van julle kon motiveer om dieselfde te doen.
Enkele opmerkings is nog ter sake: Ek was heeltyd bewus daarvan dat ek ‘n vertaling lees. Miskien is dit die moeite werd om eerder die oorspronklike Engels in hierdie geval aan te koop. Verder het Beth ʼn steurende manier om ‘n vraag te vra en dan veelvuldige keuse antwoorde voor te hou waaruit die leser moet kies. Ek verstaan nie heeltemal wat sy daarmee wil bereik nie. Haar geselstrant is ook nie lekker vlot nie. Dalk het die vertaler hiermee gesukkel? Ek is nie seker wat hier oorsaak en wat gevolg is nie.
Ten spyte van hierdie enkele klagtes, beveel ek die boek hartlik aan vir enigiemand wat hunker na ‘n lewe in die holte van die Here se hand.