Ons deel graag Johannie Hanker Verhoef se lidmaatpraat oor die saamtrektema. Sy sê: “Hier is die gedig wat ek vir die 2015 sustersaamtrek Limpopo geskryf het…”
Ek, ons is vrou….
Ek, ons is vrou, kind van God.
Korrels uit sy ewige soutpot.
Sout van die aarde,
meer werd as enige skat.
Dit is ons waarde.
Offers met liefde ingesout
om die lewe én wêreld
te kan heel en reinig.
Wat daarna moet strewe
om met meer kennis
gegeur te word, en nie as
laf tot niet te gaan nie.
Die wêreld met liefde te sout,
met sy liefde, ’n liefde wat
liefde kweek en vrede wek.
Ek, ons is vrou…
God se sonverligte maan.
Lig vir ’n duister wêreld.
Ons leef onder die mantel van
die Alomteenwoordige ligbron,
waar geen kwaad onbedek bly nie.
En is ons soms in donkerte, blind,
stap Hy die pad saam met ons
tot by die einde van die tonnel.
Die ewige lig binne.
Ons, sy spieëlbeelde wat
soms weerloos staan,
maar tog nie struikel nie.
’n Lewegewende fontein
waar ons sy heerlikheid,
vrede en regverdigheid,
liefde, seën en genade
waterblink laat skyn.
Om nie op te gee
met ons medemens
voor sy lig in die vensters
van hul siele skyn nie.
Hy is die Lig. Hy sout.
Hy kleur en geur.
Ek, ons is vrou….
Wat ’n genade om met
smaak sy lig vir die wêreld
voor te kan hou!