Deur Griet Swanepoel
Ek moes lank gelede ʼn nagereg prakseer vir ʼn Bybelse ete met die tema “Koning Salomo se feesmaal”. Laat in die nag, in tye sonder die weelde van die internet, besluit ek toe op ʼn Roly-Poly met vyekonfyt, heel vye en neute. Dit was voorwaar ʼn besonderse nagereg en lekkerder as wat ek gedink het. Só… wat goed is vir koning Salomo kan seker ook goed wees vir ʼn spesiale geleentheid soos ʼn Somerkersfees onder die suiderkruis!
Bestanddele vir die deeg
- 2 koppies bruismeel
- 1 ml sout
- 125 ml bakmargarien
- 2 Jumbo eiers (anders 3 eiers)
- 5 ml vanieljegeursel
- 50 ml room of volroom melk
- 1 blik fyn vyekonfyt (340 g)
- 1 koppie grof gekapte pekanneute
- 5 ml fyn gemmer
Metode:
Sif die meel, sout en gemmer en meng die margarine in die meel tot dit lyk soos broodkrummels.
- Gooi dan die geklitste eiers en vanieljegeursel by en vou die room/volroommelk daarby in. Moenie te veel meng nie en laat dit ongeveer 10 minute staan met ʼn vadoek oor die deeg.
- Berei solank ʼn bak voor deur dit te smeer met bakmargarien of kleefwerende sproei te gebruik.
- Gooi bietjie meel op ʼn oppervlakte en druk die deeg eweredig in ʼn vierkant ongeveer 25cm by 25cm en so 1cm dik. Die deeg moenie uitgerol word nie, net saggies gedruk word.
- Smeer nou die laag met fyn vyekonfyt en strooi die gekapte neute daaroor. Rol die deeg op (soos ʼn rolkoek) en sny in skywe van so 2 cm breed en pak in die oondpan.
Bestanddele vir die stroop:
1 botteltjie heel vye se stroop (Bêre die heel vye vir die garnering)
- ’n Halwe koppie heuning
- 250 ml appelsap
- 50 ml botter/bakmargarien
- 5 ml vanieljegeursel
Maak nou die vyestroop
Voeg alles saam en kook saam vir 5 minute.
- Gooi die warm stroop oor die deeg en bak teen 180◦ C vir ongeveer ʼn uur.
- Versier met die heel vye en bedien met vla of roomys.