Ek is gestuur… om mense te red

Deur Jozelle Smit

Kerstyd is vir my, en ek glo vir die meeste van ons, van my kinderjare af ʼn betowerende tyd. Die opwinding van ʼn Somerkersfees en tyd saam met familie. Uitpak van die groot bruin boks met Kersversierings en vrugte koek bak saam met Ouma. Tog het die aansit-Kersete na kerk, elke jaar sekerlik gesorg vir die meeste beplanning en opwinding. ʼn Ware familie affêre.  Na die ete was ek so versadig geëet dat ek somtyds gedink het dit is die familie se strategie, ons gaan almal eers weer kos kry in die nuwe jaar.

’n Ete met ʼn verskil

In hoofstuk ses van die Johannes evangelie lees ons ook van ʼn groot ete wat gehou is, oorkant die see van Galilea, waar ʼn groot skare mense vir Jesus gevolg het na al die wonderwerke wat hulle Hom gesien doen het. Dit is nou nie heeltemal ʼn aansit-Kersete nie, maar hoeveel te meer spesiaal moes hierdie ete nie gewees het nie. Om die wonderwerk te aanskou waar Jesus net vyf brode en twee vissies vat om ʼn hele skare mense te voed!

Die mens wil sy aardse honger stil – ook tydens Kersfees

Na hierdie wonderwerk-ete het Jesus na Kapernaum toe gegaan. En die mense het Hom ook daar gaan soek, want hulle was honger en hierdie Mens, wat hulle in Joh. 6:14 bely  as die “ werklike Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom”, het dan langs die see van Galilea tevore hulle honger gestil. Nou soek die mense vir Jesus vir die verkeerde redes. In Joh. 6: 26 sê Jesus self “ Dit verseker Ek julle: julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.” Die mense kom agter Jesus aan omdat Hy hulle aardse honger gestil het.

Ons ken dit al te goed, dié aardse honger. Veral voor ʼn groot Kersete, met al die familielede wat hulle beste beproefde resepte voorberei het. Tog waarsku Jesus in vers 27: “Moenie werk vir die voedsel wat vergaan nie. Dit gee aanleiding tot een van sy “Ek is”-uitsprake. Daar is sewe “Ek is”-uitsprake wat in die evangelie van Johannes vir ons opgeskryf is. Hierdie uitspraak van Jesus is sekerlik een van die mees bekendstes; “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in my glo, sal nooit weer dors kry nie” (Joh. 6:35). Jesus openbaar Homself hier as die brood wat lewe gee. In ander teksgedeeltes verwys die woord wat hier vir “brood” gebruik word, na fisieke brood, maar in hierdie “Ek is”-uitspraak verwys die brood na Jesus self. Hy voed ons na liggaam en na siel. Hy is die seun van God. Hy wat vir ons gely het, wat gesterf het en Hy wat uit die dood uit opgestaan het. Hy is ons verlosser en ons Saligmaker. Jesus Christus die ware seun van God.

Geestelike sielskos vir Kersfees

Gedurende die Kersfeestyd kan ons so besig raak met die reëlings vir ʼn vakansiekuier of die beplanning van ʼn Kersete dat ons so maklik die ware boodskap van Kersfees vergeet – die wáre voedsel, die sielsvoedsel wat ons moet voed wanneer ons die goeie tyding van ons Messias se geboorte gedenk.

Ons ken so goed hierdie gedeelte in die Johannes evangelie , waar Jesus aan ons verkondig dat Hy die brood van die lewe is (Jh. 6:35).  Tog is daar ʼn baie spesiale boodskap in Joh.6:39 wat ons baie kere nie raak sien nie: “En dit is die wil van Hom wat my gestuur het; dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan”.

Ja, Jesus is die brood van die ewige lewe,  maar is Hy ook dié Een wat deur die Vader gestuur is om vir ons, God se kinders, redding te bring. Hy is gestuur om ons te voed met die lewensbrood , sodat ons Hom kan erken as ons Verlosser. Dit beteken dat elkeen wat opreg in Jesus Christus as Verlosser te glo, die versekering van die ewige lewe het. God sal nie toelaat dat sy kinders deur die bose afgerokkel word nie.

Jesus, ons lewensbrood, verseker ons daarvan “dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan” (Joh. 6:39).

Jesus gestuur om ons te red

Hierdie boodskap is vir ons soos ʼn ware “Kersete” – mét nagereg. ʼn Dubbel bederf, so is die woorde van Johannes 6 vir ons ʼn dubbele seëning. Nie net openbaar Jesus Homself as die brood van die lewe wat ons ewige honger sal stil nie, maar Hy word geopenbaar as ons Verlosser wat deur genade aan ons die ewige lewe verseker.  Ons word hiervan verseker in Johannes 12:49: “ Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat”. Die uitspraak wat Jesus hier maak, kom van die Allerhoogste Vader en Skepper.

Hoe maak ons hierdie openbaring van Christus van toepassing vir onsself? Jesus sê in Joh.6:35: “…Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in my glo, sal nooit weer dors kry nie”. In die grondteks is die woorde “wie na My toe kom” in die deponente vorm, dit beteken dat die woorde in passiewe vorm is maar dat dit aktief in betekenis is. Ons moet aktief na die Here gaan en lééf –  vervul met die ware brood van die lewe. Wat beteken dit om na die Here toe te gaan? Ons moet in Hom glo, Jesus Christus erken en loof as ons Verlosser.

Jesus openbaar Homself aan ons as die Messias, die gebore Seun van God vir die redding van die mens. Hy is deur die Vader gestuur en het nie uit sy eie gepraat nie maar die Vader het aan Hom opgedra wat Hy moet praat. Wanneer Jesus dus vir ons sê dat Hy die brood van die lewe is (Joh.6:35) en dat Hy almal wat die Vader aan Hom gegee het nie verlore sal laat gaan nie (Joh.6:39) praat Hy met die gesag van die Vader.

Gedenk Kersfees met ’n versadigde siel die Brood wat lewe gee

In die Kerstyd van 2017 gedenk ons die geboorte van Christus Jesus. Ons Verlosser wat gebore is in Bethlehem en gestuur is om ons te red. Dit is die hele doel van Jesus se aardse bediening, sy kruisdood en sy opstanding, om aan ons God se kinders die ewige lewe te verseker. Jesus het gekom, Hy is gestuur om te kom red. Wat ʼn wonderlike versekering is dit nie vir ons in hierdie Kerstyd wat so maklik oorskadu kan word met aardse Kersetes en tradisies nie: Dat ons Jesus Christus, die Messias wat gebore is, gestuur is om ons te red.

Ons gedenk met vreugde en ʼn versadigde siel die Brood wat lewe gee, die Messias wat vir ons gestuur is, want Jesus is gestuur om mense te red.

 

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Picture of Grietjie Prinsloo
Grietjie Prinsloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top