Deur Jo van Rooyen
Die Iceberg-roos op die hoek was yslik groot, soos ʼn spog onthaal se hoofruiker totdat die rukwind net sy stam laat bly staan het. Sonder sorg en liefde het net die stam waarop die Iceberg geënt was bly groei, maar die nuwe takke wat uitgegroei het was lang nuttelose lote sonder blomme, ʼn yslike deurmekaar bos!
“Niks hang so rooi soos wingerdblaar by Hexrivier…” Indien jy die asemwegslaanprentjie al aanskou het, vergeet jy dit nooit – jy slaan rem aan en kyk lank en eerbiedig, soos ʼn mens na so ʼn herfs moet kyk. As jy laatherfs deur die Kaapse berge kom, wag hierdie kleurvolle wingerde op jou. Soos elke kultivar se vrugte ryp word op sy eie tyd, verkleur die blare ook ná die oes op hulle eie tyd – ʼn lappieskombers, ’n kleurespel van ou groen tot geel, tot rooi, tot bruin voordat die blare uiteindelik val. As die wingerd kaal staan, kom die snoeiskêre om die onnodige ranke en lote af te sny sodat die wingerd weer ʼn goeie oes kan lewer. Wilde, onnodige lote wat die wingerdstok benadeel en geen vrugte gedra het nie, word weggesny. Met kennersoë word die wingerdstokke bekyk, dan met sorg en seker hand gesnoei en gevorm om die beste moontlike oes weer te kry.
Net so sê Christus in Joh. 15:1: “Ek is die ware wingerdstok en my Vader die boer.” Ons is sy lote wat uit Hom groei en vir Hom vrugte moet draai, ʼn oes vir Hom moet lewer. Vrugtelose lote, hoe mooi ook al, sal afgesny word. Wanneer ons nie meer in God geanker bly nie, waai die wind ons om soos die Iceberg-roos. Dan staan ons, die wingerdlote nutteloos op die land.
Maar soos die druiweboer sorg ons hemelse Vader ook vir ons, sy wingerd, hier op aarde. In sy groot genade het die Vader sy Seun laat sterf, sodat ons stewig ingeënt in Christus sal bly – geen rukwind van hartseer of voorspoed, afdwaal en val, die sonde wat ons soms laat verwelk, kan ons uit die stam ruk nie. Christus het ook na sy hemelvaart vir ons ʼn versorger agtergelaat: Die Heilige Gees wat help sorg dat ons vasgeanker bly aan die ware Wingerdstok sodat ons kan bly groei in die geloof. Geen storm op jou pad kan jou afsny van die liefde en genade van God nie: “Julle moet in My bly en Ek in julle” (Joh. 15: 4a).
Die boer stuur sy werkers met groot oesmandjies die wingerde in. Hulle moet gevul word met die oes van die seisoen. As die mandjies leeg bly het sy oes misluk.
As ons, die lewende lote, ingeplant in Christus bly, kry ons die versekering dat ons mandjies nie leeg sal bly nie: “Wie in my bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder my kan julle niks doen nie” (Joh. 15:5b).