Deur Karin Bain
‘n Verpleegkundige is iemand wat volgens wet verplig word om die voorspraak te wees vir ‘n pasiënt. Ek het jare lank in Intensiewe Sorg Eenhede gewerk en daar het ek begin besef wat dit beteken om ‘n voorspraak genoem te word.
Vanuit hierdie invalshoek is dit vir my ‘n groot troos om te weet dat Christus sê dat Hy – amper net soos wat ʼn pasiënt ʼn suster het wat vir hom of vir haar by die dokter kan intree – vir ons ’n ander Trooster gestuur het wat ons help en wat vir ons by God die Vader ons Voorspraak is.
Ek tree in
Wanneer die dokter in sy haas rondtes doen en vir my vra: “Suster, hoe gaan dit hier?”, rammel ek ’n rits feite af. Hy is taakgerig en ondersoek my pasiënt vinnig. Ek is die een wat die dokter moet stop voor hy verder gaan en sê: “Dokter, mevrou Swart het baie pyn. Kan dokter nie iets anders voorskryf nie?”
Sy het dalk nie eers geweet daar is ‘n ander middel nie. Sy het definitief nie geweet wannneer die gaping daar was tydens die ondersoek om te vra vir pynmedikasie nie. Ek is die voorspraak van die pasiënt. Dis my werk om tussen die dokter en die pasiënt in te tree en om te kry wat sy regtig nodig het.
In die Bybel staan daar die Heilige Gees tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge, wanneer ons nie eers weet hoe om te bid nie (Rom. 8:26). Hy weet wat ons nodig het nog voordat ons dit besef. Dit is so wonderlik om te weet dat wanneer my woorde min is en my krag weg, is die Heilge Gees hier om my te help bid. Hy is die Trooster wat help in nood en in my daaglikse lewe voor God.
Herinnering
As jy die eerste keer iemand na aan jou in Intensief het, is dit ’n traumatiese en angstige tyd. Daar is soveel inligting wat aan jou oorgedra word. Jy leer binne ses ure ‘n hele nuwe woordeskat. Die getalle verbind aan vreemde terme en begrippe moet jou soms vir dae en weke aan die gang hou en moed gee. Soms kry jy moed en ander kere is daar ‘n terugslag wat jou teen die grond gooi. Dis dan wat die Suster tussenbeide tree. Sy vertel weer van waar alles begin het. Onthou jy: eergister was die bloeddruk baie laag. Ons het dit reg, nou fokus ons op die suurstof. Sy bring weer perspektief en hoop. Sy herinner jou aan wat gebeur het en wat gaan kom.
Johannes 14:26 sê dat die Heilige Gees ons aan alles herinner wat Jesus vir ons gesê het. Hy leer ons alles van die Vader en Hy verkondig die verlossing wat sal kom. Die Trooster gee ons hoop en fokus in moeilike tye. Ons geloof het ‘n verlede wat teruggryp na Christus wat vir ons gesterf het, maar ook ‘n toekomsverwagting wat ons anker in hierdie lewe. Ons Trooster herinner ons dat ons ‘n ewige plek het. Hy leer ons van die liefdevolle en regverdige Vader wat ons kan nader met al ons geestelike en fisieke probleme.
Die waarheid
Daar is nog ‘n gedeelte van Intensief wat my aan voorspraak laat dink en dit is wanneer die simpatiseerders bel en hulle mening gee oor sake waarvan hulle regtig niks weet nie. So goed bedoel, maar soms só onstellend vals. Die suster herinner jou dan weer aan wat al gesê is deur die dokter. Die dinge wat jy weet, maar waarvan jy vergeet het toe hulle so oortuigend vir jou verkeerde feite gegee het.
Die Heilige Gees is die Gees van die waarheid (Joh. 14:16) wat vir ewig by ons is. Hy verlaat ons nooit nie, maar herinner ons dag vir dag aan dié dinge wat ons moet weet om te bly glo in ‘n stukkende wêreld. Van oraloor hoor jy halwe waarhede wat mense met groot oortuiging verkondig en aan jou opdis. Sommige oortuigings spreek van bygeloof en laat jou twyfel aan dinge wat jy verseker geweet het. Die grootste twyfel wat jou kan tref is as jy nie besef dat jy met liggaam en siel aan Christus behoort nie.
Laat jou deur die Gees van waarheid lei
In Rom. 8:14 word ons verseker dat: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” Jesus belowe dat Hy vir ons ‘n ander Trooster stuur om ons in die waarheid te lei oor die werk wat Christus gedoen het en die ewige lewe. Hierdie belofte verseker ons dat ons as dissipels van Christus aan almal kan vertel wat in ons eie lewe gebeur het en hoe ons uitsien na ‘n lewe saam met Christus.
INFOBLOKKIE:
Karin Bain is die redakteur van die GKSA se jeugtydskrif: Kruispad. Dié tydskrif fokus op lesers van 16-34 jaar en verskyn kwartaalliks. Indien jy wil inteken of die tydskrif vir iemand as ‘n geskenk wil gee skryf ‘n e-pos aan kruispad@gmail.com of ‘n brief per slakkepos aan Posbus 20700, Noordbrug, 2522.