vroueblad logo flt

Feesviering, sodat die wêreld kan weet

Deur Cobie Steyn

Christelike Feesdae. So noem ons hulle: Kersfees, Paasfees, Goeie Vrydag, Opstandingsondag, Hemelvaart. Dae waartydens die gelowige stil moet word voor God, stil voor God se almag en krag, stil voor sy liefde en sy reddende genade. Dae wat ʼn mens verlof kry by die werk (wel meeste van ons wat nie noodsaaklike dienste lewer nie!) en ʼn mens bewustelik tyd kan maak vir stilword voor die Here.

Daarom dat ons gemeentes dan ook eredienste op hierdie dae het: Niks is mooier as ’n gesin of selfs groter families wat op Kersdag saam opdaag by die erediens nie. Of die stemmige voorspel van die orrel wanneer ons op Goeie Vrydag as gelowiges saamkom om stil te word aan die wreedheid van die kruisdood en die straf van God wat Christus aan sy eie liggaam moes dra nie. Of die vreugde van Opstandingsondag wanneer ons dink daaraan dat Jesus Christus waarlik uit die dood opgestaan het nie. En dan: veertig dae later op Hemelvaart die heerlikheid om te sien hoedat lidmate sommer partykeer met hulle werksklere die aand by die Hemelvaartdiens opdaag, omdat die hart reg is – hy of sy wil daar wees, daar was nie nog tyd om te gaan verklee nie. Hemelvaart: Ons Here vaar op na die hemel en ons dink terug aan die uitstorting van die Heilige Gees – die ander Trooster wat tot aan die voleinding van die wêreld by ons sal wees.

Dit is in ons gelowiges se afsondering in hierdie dae, die manier waarop ons die dae inklee, dat ons ook die koms van die Verlosser, die kruisdood en opstanding van die Verlosser, sy hemelvaart aan ander wat nog nie glo nie, kan voorleef… sodat die wêreld kan weet!

Dan sny Eveleen Castelyn se gedig se woorde díép en séér wanneer sy sê dat ons Jesus in Desember “toegedraai [het] in geskenkpapier en Hom neergelê [het] in die supermark” en op Goeie Vrydag ʼn vrolike uittog gehad het – maar beslis nie ene met bitter kruie en ongesuurde brood nie en dat ons sy opstanding “feestelik gevier [het] met paashasies en paaseiers in blinkpapier”. En dat Hemelvaart (wat toe sy die gedig geskryf het nog ʼn vakansiedag was, maar nou nie eers meer is nie!) die eerste dag was wat ons dam toe kon gaan!

Eveleen Castelyn vlek die waarheid oor ons Christelike feesdae óóp: Ons verkies ons eie geroesemoes en beplan ons eie sake op dié dae, in plaas daarvan om in eerbied stil te word voor God die Vader wat in sy alwysheid sy Seun aarde toe gestuur het om vir ons sondes te sterf.

Miskien het dit tyd geword dat ons Christene ernstig besin oor die manier waarop ons ons Christelike feesdae vier, sodat die wêreld kan weet…

Sluit by ons aan

Bestel jou aanlyn Vroueblad Tydskrif

Wat bied Die Gereformeerde Vroueblad jou?

Lees ons blad in hoë kwaliteit bladuitleg aanlyn, of laai dit af in ‘n PDF-formaat (lae resolusie) indien jy dit op jou tyd wil deurlees en wil herlees.

Betaling geskied veilig aanlyn deur PayFast en jy kry onmiddellike toegang tot jou lidmaatskap sodra jy betaal het.

Enkel Tydskrif

R35
Eenmalig
  • As jy eenmalig wil lees, of dalk net eers wil “proe” ons blad “smaak”, teken in op ‘n enkel uitgawe.
Teken aan
Aanbeveling

6 Uitgawes

R160
Herhalend elke 12 maande
  • Hierdie opsie bied jou ledetoegang vir 12 maande – dit sluit 6 uitgawes van Die Gereformeerde Vroueblad in, want ons blad verskyn tweemaandeliks.
Teken aan
kieslys