Deur Grietjie Prinsloo
ʼn Botteltjie tuisgemaakte tamatiekonfyt is vir my baie meer as net ‘n soet tamatiestropie met ‘n gemmer smakie. My liefde vir dié konfyt herroep nostalgiese herinneringe uit my kinderdae op. Ek onthou dit soos gister…
Ons het as kinders (tydens my pa se bediening in Messina gemeente), soms saam met my pa gegaan as hy Nagmaal gaan bedien het of huisbesoek gedoen het op plase in Zimbabwe. Ek en my jonger suster het dan altyd gekyk wie kan die meeste krokodille in die Limpoporivier tel as ons oor Beitbrug ry. Toe ons vir die eerste keer met ons nuwe paspoorte na die mooi land gereis het, was die Zimbabwiese Dollar toe net ’n bietjie swakker as die rand.
My pa was altyd opgewonde oor die bediening daar in die verre noorde.
Ons het by die Bata Bata-winkel op Beitbrug vir ons skoene of tekkies gekoop. Daarna was ons eerste stop by oom Archie en tannie Annamie Stander, Mateke Hills, in die suide van Zimbabwe. Daar het hulle ons ingewag met ope arms. Ons pastoriegesin het ‘n spesiale gastekamer gehad waar ons dadelik ons tasse kon neersit.
Die eerste kennismaking met tamatiekonfyt was by tannie Annamie. Sy het haar tuisgemaakte tamatiekonfyt vir my op ʼn warm geroosterde broodjie gesmeer. Dit was so soet en lekker dat ek daarna sommer so die laaste bietjie konfyt aan die lepeltjie afgelek het (skelm sodat my ma nie raas nie).
Oom Archie het altyd laatmiddag sy Landrover uitgetrek vir ’n wildsrit. Ek onthou die keer wat ons sewe kameelperde sommer so bymekaar gesien het. Dit was ‘n wildsplaas om te onthou.
Almal in die omgewing het al geweet dat daar dié Sondag gaan kerk wees en daar was altyd groot opgewondenheid om mekaar weer te sien. Ons was altyd vroeg by die kerk (die dominee moet mos altyd vroeg daar wees!), dan het ek op die muurtjie gesit en buite gewag en gekyk hoe die mense so kuier-kuier naderstap. Die muurtjie het ‘n stoflagie gehad wat ek moes afvee sodat ek nie my kerkrokkie (wat dieselfde gelyk het as my sussie s’n) vuilmaak nie.
Dit was jare gelede, intussen moes ons die verre noorde verruil vir die stad.
Hier by ons in Lytteltongemeente het ons ‘n Dopper Parlement (naam van ons werkende jeug). Ons groep jongmense kan hier in die hartjie van die stad sê: “Ons is nie net vriende nie, maar soos ’n familie”. Dit gee vir my daardie plattelandse gevoel van omgee.
Selfs by ons kerkbasaar verkoop oom Eric sy eie tuisgemaakte konfyt waaraan hy die hele jaar kook. Ek koop twee botteltjies tamatiekonfyt. Die gedagte dat hy dit self gekook, gebottel en daardie tikkie liefde bygesit het om dit vir die kerk te bring, maak sy konfytstalletjie vir my so spesiaal.
Tamatiekonfyt sal my altyd aan tannie Annemie laat dink op die plaas daar in Zimbabwe. Haar omgee, gasvryheid en die saamkuier met al die gelowiges in die omgewing.
Dit was tamatiekonfyt vir die siel.
Baie meer as ’n soet tamatiestropie met ‘n gemmersmakie.
Interessante feite oor tamaties:
Tamaties kom oorspronklik van Peru af, en die Indiaanse naam het min of meer beteken: Ronde vrug met ’n naeltjie!
- Tamaties se wetenskaplike naam is: Lycopersicon lycopersicum, wat “wolfperske” beteken.
- Mense was eers skrikkerig om tamaties eet – bang dat die vrug giftig sou wees, omdat tamaties familie is van nastergal, wat ʼn baie giftige plant is.
- Tamaties neem toe in gewig wanneer hulle ryp word – selfs nog nadat hulle gepluk is.
- Tamaties is die vrug wat die rykste is aan likopeen (rooi kleurstof in vrugte). Dit hou sekere gesondheidsvoordele in.
- Tamaties is vir die eerste keer gedurende die 1500’s na Europa toe gebring.
- Die eerste tamaties in Europa was van die geel variëteite – daarom praat die Italianers van “pomodoro”, oftewel die goue appel!
- ʼn Tamatie is ʼn vrug en nie ʼn groentesoort nie. In 1890 het daar verwarring ontstaan toe die Amerikaanse hoërhof tamaties as groente geklassifiseer het ter wille van belastingdoeleindes. Vrugte is die eetbare deel van ʼn plant wat saadjies bevat; terwyl groente die eetbare stam, blare of wortel van ʼn plant is.
- Tamaties word nêrens in die Bybel of in die werke van Shakespeare vermeld nie.
- Tamatiesaailinge is al suksesvol in die ruimte gekweek.
- Daar bestaan meer as 10 000 tamatievariëteite en hulle kom in ’n verskeidenheid van kleure voor: Benewens die gewone rooi kleur is daar ook pienk, pers, swart, geel en wit tamaties.
(Inligting verkry van Quick Crop Blog: https://www.quickcrop.ie/blog/2014/02/top-10-facts-about-tomatoes)