Saamgestel deur Ds. Christo Swanepoel (GK Lyttelton)
Kom ons fokus op deugsaamheid. Petrus sê (2 Pet. 1:3) dat ons ons geloof moet verryk met deugsaamheid. Deugsaamheid is ’n woord wat ons vandag nie meer baie hoor nie, maar die woord dui op ’n lewenswyse waar ’n mens gefokus is op ’n doel.
Deugsaamheid streef die doelwit na dat jy as gelowige moedig, dapper in die geloof sal leef sodat jy ’n verskil vir die Here sal maak in die wêreld waarin jy woon. Deugde verwys na goeie dinge wat gedoen word, sodat die heerlikheid van die Here in ons weerspieël kan word.
Daar is ‘n uitdrukking wat sê: “Die welriekendheid van jasmyn en sandaalhout waai net wind-af, maar die geur van deugsaamheid deurdring alle rigtings” – Anoniem.
Matigheid is die fyn sydraaitjie wat die pêrel van al die deugde aanmekaar snoer – Joseph Hall.
Deugsaamheid en nederigheid gaan saam — soos ’n kosbare edelsteen die heel beste vertoon in ’n eenvoudige montering – Francis Bacon.
Deugsaamheid is dus die basiese eienskap wat geloof, geloof maak. Dit is die aard van jou geloof – Ettienne Schalekamp.
Deugsaamheid is nie soseer om weg te bly van die kwaad nie, maar eerder om dit nie te begeer nie – George Bernardus Shaw.
Om deugsaam te wees, is om groot te wees in die klein dingetjies – Francis Xavier.
Om jou geloof met deugsaamheid te verryk, beteken dat jy energie en aksie by jou geloof byvoeg. ʼn Leunstoelgeloof gaan jou nêrens bring nie – Danie de Kock.
Die deugsame vrou is die vrou wat besig is vanuit die wysheid wat in Christus se verlossing aan ons gegee word – Christiaan Jooste.
Deugsaamheid is nie dit wat my prokureur sê ek kan mee wegkom nie, maar dit wat God se regverdigheid sê ek behoort te doen – Edmund Burke.
Omdat ek glo dat God goed is, verryk ek my geloof met die strewe om ook goed te wees en goed te doen – Andries Cilliers.
In die handboek van Christen sakemanne staan die beginsels van sake-etiek dikwels in die voorwoord en dis waar dit gewoonlik bly – Peter Drucker.
ʼn Deugsame leier is die een wat dit uitleef wat hyself verkondig – William J. Bennet.
Heilige Gees, ons bid dat U van ons harte u woning sal maak. Skyn in ons en laat die donker in ons verdwyn. Kom vul u tempelwoning, versier ons met u deugde en gee ons vreugde – Solly Ozrovech.
Dit is ’n teenstrydigheid om ’n Christen sonder deugsaamheid te wees – Richard Baxter.
Die basis van elke Christelike deug is nederigheid – Charlotte Brontë.
God het die wêreld uit niks gemaak en solank ons niks is nie, kan Hy iets uit ons maak – Martin Luther.
Hoe kleiner ons is, hoe meer plek is daar vir God – Moeder Teresa.
Jou gawes kom van God af. Wees deugsaam – John Wooden.
Lewe asof Christus gister gesterf het, vandag uit die dood opgestaan het en ons môre op die wolke kom haal – Theodore Epp.
ʼn Deugsame lewe sal die diepste indruk op ander laat. Ligtorings hoef nie ’n geraas te maak nie; al wat hulle moet doen, is om hulle lig te laat skyn – Dwight L Moody.
’n Halfhartige draadsittende Christen is ’n foltering vir homself en ’n struikelblok vir ander – Earnest Worker.
As dit ’n eienskap van die sondaar is om te ontheilig wat heilig is, behoort dit ’n eienskap van die Christen te wees om die heiligheid van God in die sekulêre lewe in te dra – Thomas Chalmers.