Deur Prof. Ben de Klerk
Ons briefskrywer noem die voorbeeld van gebed vir genesing voor ʼn operasie. As die persoon gesond word, glo ons dit is verhoring van ons gebede. Maar as die persoon sterf, dan kan ons wonder: was ons geloof te klein? Moes ons meer mense betrek het om te bid en sou die Here dan die persoon se lewe verleng het?
God laat alles ten goede meewerk
Die wonder van die Here is dat Hy ons ruimte gee om met Hom te kan praat in die gebed en dat Hy luister na ons gebede. Hy verseker ook in Romeine 8 vers 28 waar Hy pas oor die gebed en ons sukkelende gebede gepraat het, dat Hy alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. Ons moet dus altyd wanneer ons vir genesing of vir ander behoeftes bid, onthou dat ons gebed verhoor word, al kry ons nie wat ons vra nie, want dit is dalk nie vir ons ten goede nie. Ons mag dink dat wanneer die Here ons gebede anders verhoor as wat ons gevra het, dit nie op daardie oomblik tot ons beswil is nie. Die Here weet en Hy tree altyd teenoor sy kinders in liefde op.
Probeer ons God manipuleer?
Dit is wonderlik as iemand opreg vra dat ander vir hom/haar moet bid. Paulus, geïnspireer deur die Heilige Gees vra ook dat gelowiges vir hom moet bid. Ons is soms te skaam of oorbeskeie om ander te vra om vir ons te bid. Dit hang nie af van hoeveel mense in gebed tree nie, want God hoor selfs die eenvoudigste gebed en Hy kan nie deur getalle gemanipuleer word om te maak soos ons wil nie. Ons mag ook nie selfbejammerend dink dit is omdat ons geloof te klein of swak is dat God nie wil maak soos ons vra nie. Ons moet altyd kinderlik opreg wees in ons gebede en dit aan ons Vader oorlaat om die goeie vir ons te gee.
Hoekom dan bid?
As die Here sy wil buitendien laat geskied, hoekom moet ons dan nog bid dat die operasie ʼn sukses sal wees? Omdat ʼn gebed oor baie meer gaan as ons behoeftes. Ons gebede kan dalk net maar oor eie begeertes gaan, en dan begeertes wat ons nie broodnodig het nie. Ons wil, soos ons briefskrywer sê, graag hê wat ons buurvrou het. Die Here gee ons leiding dat ons wel oor ons daaglikse behoeftes na die Here kan gaan. Christus leer in een van ses bedes: “Gee ons vandag ons daaglikse brood”. Bid is egter baie meer as om versoeke oor daaglikse behoeftes voor God se troon te kom lê.
Ons bid om God te verheerlik. Dit is die grootste doel van ons gebede. Daarom wanneer ons bid dat die Here sal gee dat die operasie ʼn sukses sal wees, moet ons motief wees dat God deur, wat ook al met die operasie gebeur, verheerlik sal word. In ons voorbereiding vir ons gebede moet ons vooraf nadink, bepeins, hoe ons God gaan verheerlik in hierdie gebed. Deel van die verheerliking van God is dat sy Naam geheilig word, dat ons Hom en sy werke wat so wonderlik is, sal prys. Ons bid sy Naam moet verheerlik word deurdat ons hele lewe, ook ons gesondheid, ons woorde en gedagtes Hom sal eer en prys. Ons verheerlik die Here deurdat ons vra dat sy wil sal geskied en dat ons vreugde sal hê in wat Hy wil.
Baie saam bid?
Dit is wonderlik dat meer mense betrokke is in ons gebede, ook as dit gaan om gesondmaking van ʼn sieke. Hoekom meer mense? Sodat meer en meer mense Hom kan verheerlik. Selfs as een persoon God verheerlik is dit ʼn kragtige gebed, maar as ons as’t ware in ʼn koor dit kan doen, sal sy grootheid en heerlikheid soos ʼn magtige koor voor die Here se troon gehoor word. Vra met vrymoedigheid, want Jesus het ons aangemoedig om te vra. Dit gebeur net nadat Hy die modelgebed, die Ons Vader met sy ses bedes, vir ons geleer het. Fokus in so ʼn vra-gebed veral op verheerliking van die Here.