Geloofsgenote,
November. Die einde van die jaar. En ’n mens kyk terug op ʼn jaar met sy afdraandes, maar ook met sy steiltes. Steiltes somtyds só steil en glibberig dat ʼn mens wou teruggly en val. En soos dit met die klim van elke steilte maar gaan, raak die bene naderhand lam, die kuite seer en vol krampe en die liggaam kragteloos en uitgeput.
So voel ʼn mens mos dikwels hier teen die einde van die jaar, net maar van leef in die vinnige baan van die lewe: ons is moeg kinders aangery, moeg én geïrriteerd by die werk (so baie moet nog klaarkom daar is so min tyd oor), sat huis gehou, spyskaarte beplan, skedules bygehou. Kom ons wees eerlik: teen Novembermaand voel ʼn mens soms soos daardie Plutohond in die ou Walt Disneyflieks: hy lê plat op sy maag, sy voete leweloos langs sy lyf en sy ore hang laag op die grond.
Voeg daarby nog dat jy hierdie jaar beproef is deur ernstige siekte, die dood van ʼn geliefde (of geliefdes), die trauma van roof, kaping, betreding deur diefstal, teleurstelling van kinders of ouers wat verkeerde keuses gemaak het, ernstige familievetes, egskeiding, onvergewensgesindheid, wrokke en haat, en jy kan jouself maar tot verswak verklaar. Ons het baie terme daarvoor: afgerem, uitgebrand, depressief (of huiwerend op die randjie daarvan). ’n Kragteloosheid wat jou kort-kort wil oorspoel en ʼn vloedstroom van moedeloosheid wat jou wil meesleur soos stormwater.
Totdat jy stil gaan sit en besef: my krag is uitgeput, ja, maar dié Bron van ewige krag, dié Een wat skeppingsmagtig is (soos wat Jo so mooi daaroor jubel in Hartskatte) raak nie moeg of uitgeput nie. Dis dan wanneer Jesaja vir jou, wat verlam daar sit van die jaar se uitdagings, teleurstellings en beproewings, vra: “Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie” (Jes. 40: 28-31).
Hou vas aan die Here wat nooit moeg word nie en ondeurgrondelike insig het, gryp in vertroue aan Hom vas – Hy sal nuwe krag gee.
Mag God se krag in elkeen van ons se swakheid sigbaar word.
Vrede vir elkeen van julle.
Cobie Steyn
Wil jy gesels oor iets?
- SMS: 082 555 9586 (begin SMS met VB)
- E-pos: cobiesteyn@live.com
- Facebookblad: Gereformeerde Vroueblad
- Slakkepos: Posbus 178 Lydenburg 1120.
(Hierdie besonderhede is nie vir administratiewe soos inskrywings of kansellasies bedoel nie – skakel die Administratiewe Buro in Potchefstroom: (018) 297 3986)
Besoek gerus ons Facebookblad – ons Likes trek al oor die 2000 en daar kry pitkos vir die dag en verryk jouself deur met geloofsgenote te gesels. Kom gesels saam oor vrouwees in die Here en hoe jy in moeilike tye jou krag put by die Here.