Deur Jacomien Zwemstra
Het julle al gewonder hoeveel keer op ‘n dag hoor ʼn mens hierdie dialoog:
“Hallo, hoe gaan dit?”
“Goed dankie, en met jou?”
“Goed. Net besig!”
Ons is altyd besig! En ons is altyd moeg! En as ons nie besig is nie, dink ons daar is fout, of ons soek ’n verskoning soos: “Ons het so hard gewerk! Ons verdien ʼn ruskansie!”
Wanneer ons Matt.11:28-30 lees, kan ons dink dat Jesus hier praat met mense soos ons – mense wat oorwerk en altyd moeg is: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”
Maar wanneer ons in die Nuwe Testament oor “juk” en “las” lees, het dit ‘n baie spesifieke betekenis. In Matt. 23:4 sê Jesus dat die Fariseërs en Skrifgeleerdes swaar laste op mense se skouers sit, maar self wil hulle dit nie dra nie. In Hand. 15:10-11 sê Petrus dat hulle ‘n juk op die heidennasies lê wat hulle voorvaders nie in staat was om te dra nie.
Ek wens ek was goed genoeg
Jesus praat dus met mense soos ons, maar Hy praat oor die oorsaak van ons uitputting. Dit is nie ons baie werk nie, maar ons rusteloosheid om goed genoeg te probeer wees. Dit is die las wat ons op onsself plaas, omdat ons wil bewys dat ons die dinge doen wat die wet sê.
Maar ons weet mos dat ons deur genade gered word en nie deur die wet nie. Tog leef ons dit nie altyd uit nie. Ons verstaan ook nie altyd die invloed wat dit op ons lewe moet hê nie. Ons het almal die ingebore wete dat ons perfek moet wees en ons is nie. Selfs ongelowiges weet dit. Ons weet dat ons nie aan die standaarde voldoen nie en dit maak ons rusteloos. En dan soek ons ‘n manier om onsself te bewys.
Jesus se voldoening vir ons ewige rus
Ons kan nie onsself bewys nie. Maar Jesus het dit vir ons gedoen, en dit is hoekom Hy sê ons moet sy juk op ons neem.
Reeds in die Ou Testament kry ons die belofte dat God vir ons rus sal gee. Jesaja 40: 28-31 vra: “Weet jy dan nie?” en dan kom die antwoord: “Die Here is die ewige God…Hy word nie moeg nie…Hy gee die vemoeides krag, Hy versterk die wat nie meer kan nie…” Ook die Psalms is vol met beloftes van rus.
God is van ewigheid af dieselfde. Hy gee ware rus, want Jesus het alles vir ons gedoen om ons perfek te maak vir die ewige rus. Ons moet aanvaar dat Hy die weg, die waarheid en die lewe is. Ons hoef niks te doen om onsself te bewys nie. Ons hoef nie goed genoeg te wees. Dit is hoekom sy juk sag is en sy las lig is.
Hoekom word ons dan elke keer weer so moeg?
Omdat ons vergeet wat Jesus vir ons gedoen het. In Heb. 3:16-4:11 verduidelik die skrywer dat die Sabbat en die beloofde land net ‘n vooruitsig is na die ewige rus. God het hierdie dinge in die wêreldgeskiedenis ingewerk om vir ons prentjies te wees van die wonderlike ewige rus wat op ons wag.
Volgens Heb. 3:19 is dit ongeloof wat voorkom dat jy die rus kry. Die rus wat ons nou ervaar is dus net tydelik, dit is nie die ewige rus nie, maar ons kan nou reeds iets daarvan sien. Ons ontneem onsself daarvan wanneer ons nie in Jesus se redding glo nie. Of wanneer ons die gevolge van sy redding vergeet en dan onsself probeer bewys. Ja, ons glo met ons harte dat Jesus alles vir ons gedoen het, maar ons lewe asof ons onsself moet bewys. Ons laai take op onsself sodat ons vir almal kan wys en vertel hoe besig ons is, want dit is die mode van die tyd. As jy nie oorwerk is nie, voel dit nie reg nie.
God het gesê dat ons moet werk – en ook dat ons hard moet werk. Werk was reeds deel van ons lewens voor die sondeval, maar God het nie gesê dat ons onsself moet oorwerk om iets te bewys nie. Hy het “werk” en “rus” saam ingestel. Nadat God in ses dae alles geskep het, het Hy die sewende dag gerus en dit as gereelde rusdag ingestel (Gen. 2:2-3).
In Matt. 11:29-30 gee Jesus ons die belofte van rus twee keer: “Ek sal julle rus gee.” En “julle sal rus kry vir julle gemoed.” Maar Hy gee ook drie opdragte: Kom na my toe, neem my juk op julle en leer van My.
Wat moet ons doen om hierdie rus te verkry?
Ons moet na Jesus toe gaan, ons moet ons sondes voor Hom bely en erken dat net Hy ons kan red van ons onvermoë om perfek te wees. Ons moet sy juk van liefde op ons neem. Sy wet is liefde vir God en liefde vir ons naaste. En ons moet leer van Hom. Deur sy Woord te bestudeer kan ons Hom waarlik leer ken en leer lewe soos Hy dit wil hê. Dit wat ons uit die Woord leer is ook nie moeilik om te verstaan nie, wanneer ons op Christus vertrou sal Hy dit ook aan ons openbaar. Hierdie belofte kry ons in Matteus 11:25-27. Jesus loof God omdat Hy hierdie dinge vir geleerdes verberg en aan eenvoudiges bekendmaak. En Hy sê ook dat Hy dit aan ons kan bekendmaak.
Ware rus
Slegs wanneer ons na Jesus gaan sal ons ware rus ervaar – ware rus wat ’n mens nie deur ‘n Desembervakansie kan kry nie. Ware rus wat ons laat uitsien na die ewige rus in God se teenwoordigheid.
Share your comments
Dit so waar want ek het my self altyd traai bewys