Ek het ’n persoon ontmoet wat in my belangstel, maar hy is nie gelowig nie

Dr. Trudie antwoord

Ek is ’n 35- jarige vrou en het ’n goeie pos, maar dit is net roetine, roetine en roetine.  Ek het as jong meisie gedroom dat my lewe ’n man en kinders gaan insluit. Ek het wel so vyf jaar terug verloof geraak,  maar om een of ander rede wat ek nou nog nie verstaan nie, nooit aan die trou gekom nie. Hy het die verlowing dan ook sowat twee jaar gelede verbreek en is al klaar met iemand anders getroud. Dit was vir my ’n baie groot skok.  Ek het egter besef dat ek geen ander keuse het as om ’n glimlag op my gesig te plak en aan te gaan met my lewe nie.

Nou voel dit vir my asof ek nie goed genoeg is vir ʼn verhouding nie. Al die skool- en universiteitsvriende wat ek gehad het, is reeds getroud en die meeste het al begin met ’n gesin. Ek het wel ’n persoon ontmoet wat baie in my belangstel en vir wie ek baie lief sal kan raak, maar hy is ongelukkig glad nie gelowig nie. Dit is vir my ’n  groot probleem waaroor ek baie worstel.

Intussen moet ek so teen myself baklei om nie jaloers en verbitterd te voel as ek al die gelukkige gesinne om my sien nie. My selfbeeld is besig om ernstig te verswak. Tussen my vriende voel ek al hoe meer soos ’n buitestaander. Nou het ek begin om kontak met hulle te vermy. Ek raak al hoe eensamer en voel soms dat God van my vergeet het. Is daar raad vir my?

Dit is deesdae glad nie meer snaaks as mense eers later in hulle lewe trou nie.  Eintlik kan groot dinge nog vir jou voorlê. Wat my egter bekommerd maak oor jou situasie, is die feit dat dit lyk asof jy jou selfvertroue verloor het en selfs praat van verbitterd, selfbewus en soos ʼn buitestaander voel as jy by jou vriende is.  Veral ook dat jy kontak met hulle soveel as moontlik vermy.

Die feit dat jy ʼn groot liefdesteleurstelling gehad het, dra natuurlik grootliks daartoe by dat jy so fyngevoelig is en onwelkom voel tussen jou vriende wat oënskynlik so gelukkig is. Moontlik herinner dit jou telkens aan die seer in jou lewe omdat jou eie drome en planne versplinter het toe jou verloofde julle verhouding verbreek het.

Maak seker dat jy deur hierdie gebeure in jou verlede werk deur daaroor te praat met ʼn vertroueling of selfs net daaroor te skryf in ʼn joernaal. Jy moet dit verbaliseer sodat jy al hoe meer objektief na die gebeure kan kyk. As jy dit net ignoreer en ʼn glimlag op jou gesig plak, sal die intense seer wat jy beleef het al hoe meer deel van jou denkpatrone word, en moontlik aanleiding gee tot vrees dat dit weer mag gebeur. Dit kan selfs aanleiding gee tot siektes soos depressie.

Werk daaraan om al die betrokkenes by die verbreking van die verhouding te vergewe.

Onthou dat om te vergewe, eintlik die enigste voorwaarde is wat in die volmaakte gebed voorkom wat Jesus Christus aan ons gegee het  (Vergewe ons ons oortredinge, net soos ons diegene vergewe wat teen ons oortree (Matt.6:12). Jou gewese verloofde en enigiemand anders betrokke was ook maar net stukkende mense in ʼn stukkende wêreld.  Jy moet altyd in gedagte hou dat God ʼn ander plan het vir jou lewe.

Verder is dit baie belangrik dat jy met al jou mag teen ʼn lae selfbeeld stry.  Tel jou kop op en kyk die wêreld vierkantig in die oë kyk.  As kind van God het jy baie waarde. Jy bestaan  nie net toevallig nie. Inteendeel, jy is vir God so belangrik dat Hy jou eeue terug, reeds voor die skepping, uitverkies het om in Christus ʼn kind van Hom te wees (Ef.1:4). In Jes. 26:3-4 belowe Hy dat Hy jou gedra het van jou geboorte af, en jou sal vashou tot in jou grysheid.  Hy is altyd by jou. Daarom kan jy weet dat alles wat met jou gebeur deel is van sy perfekte plan vir jou lewe, al verstaan jy nie nou ten volle hoe God se bestiering in jou lewe werk nie. Paulus verseker ons dat alles vir jou as gelowige ten goede sal meewerk (Rom. 8:28-39), ook die moeilike dinge wat op jou pad mag kom.

Waak daarteen om bitter te raak oor jou omstandighede.  Dit sal net jou positiewe energievlakke verlaag en waarskynlik, onwetend, mense van jou af wegstoot.  En jy wil juis nie ʼn geïsoleerde lewe hê nie, maar jou omring met mense wat positiewe toegeneentheid teenoor jou sal openbaar en graag by jou wil wees. Volgens Heb. 12:15 spruit bitterheid net uit soos ʼn wortel wat baie moeilikheid veroorsaak en baie besmet (Heb. 12:15).

Jy moet dit veral glad nie oorweeg om in ʼn verhouding met ʼn ongelowige te tree nie. Paulus waarsku ons byvoorbeeld dat diegene wat hardkoppig in hulle ongeloof verhard, se verstand verduister is, en dat hulle gedagtes na niks lei nie (Ef. 4:17-18).

Daarteenoor moet die gelowiges wat in Christus is, lewe as nuwe mense wat gevul is met die Heilige Gees en weet waar hulle hulp vandaan kom en waarheen hulle op pad is. Aanvanklik mag so ʼn verhouding opwindend lyk omdat daar ʼn aantrekkingskrag tussen julle ontstaan het wat nog verder gevoed mag wees deur julle eensaamheid, maar uiteindelik kan dit net lei tot groot frustrasie en ongelukkigheid. Julle denkraamwerke verskil waarskynlik totaal en dit sal spoedig geweldige spanning in ʼn huweliksverhouding veroorsaak.

Meer prakties

  • Maak stiltetyd jou eerste prioriteit elke dag, sodat jy elke dag kan ingaan met die wete dat die Heilige Gees jou sal lei.
  • Volgens Fil. 4:6 mag jy al jou bekommernisse aan God bekend maak.  Bid gereeld vir innerlike krag om jou moedeloosheid oor jou omstandighede teen te werk,  en vir insig om die groter prentjie van jou lewe raak te sien.
  • Begin ʼn joernaal waarin jy al die negatiewe gedagtes waarmee jy elke dag stoei neer kan skryf.  Stelselmatig sal jy ʼn ander raamwerk daarom kan plaas en ʼn verhoogde mate van beheer daaroor ervaar.  Eindig egter elke inskrywing met die mooi en positiewe dinge in jou lewe. Loof God dan daarvoor.
  • Dwing jouself om sosiaal te verkeer met positiewe en gelowige mense. Sluit aan by ʼn Bybelstudie- of ʼn kleingroep in jou gemeente. Jy sal op die wyse agterkom dat hulle ook sporadies probleme ervaar. Dan kan jy op jou beurt daar wees vir hulle.  Om mekaar se laste te dra ten einde uitvoering te gee aan God se wet, is immers ʼn Bybelse opdrag (Joh.13:36; Gal 6:2).
  • Dwing jouself om uit jou totaal geroetineerde lewe te breek.  Sluit aan by interessante klubs soos byvoorbeeld ʼn fotografieklub, ʼn voëlkykklub of ’n  bergklimklub waar jy nuwe mense ontmoet en ook geleenthede kry om in die natuur te kom.
  • Gesels met jou predikant oor die gevaar verbonde aan ʼn verhouding met ʼn ongelowige!

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Picture of Grietjie Prinsloo
Grietjie Prinsloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top