Deur Jacomien Zwemstra
Die meeste van ons gaan gereeld kerk of Bybelstudie toe of ons bid as gesin saam. In al hierdie gevalle het ons toegang tot God. Ons kan vryelik met Hom praat en Hom aanbid. Ons toegang tot Hom is nie eers beperk tot hierdie gevalle van formele aanbidding nie. Ons kan enige tyd en enige plek tot Hom bid, met ander woorde: Tot Hom nader. Ons het nie nodig om soos die Ou Testamentiese gelowiges ’n offer van een of ander aard te bring nie. Ons sleep nie ’n bok agter ons aan kerk toe nie. Maar hoekom nie?
Wanneer ons die Ou Testament lees, lees ons van offers. Baie offers. Soveel offers dat ’n mens nie al die diere kan tel wat geoffer is nie. Waarom was al hierdie offers nodig? En waarom bring ons nie offers nie?
Reg van toegang voorbehou
God is heilig en ons is sondig. Sondige mense kan nie naby ’n heilige God kom nie. Daarom moes die Israeliete offers bring. Hierdie offers het hulle daaraan herinner dat daar betaling vir hulle sondes moet wees om in God se teenwoordigheid te kom. Maar selfs dan, kon hulle nog nie naby die verbondsark kom nie. Die verbondsark was ’n teken van God se teenwoordigheid en dit het in die allerheiligste deel van die tempel gestaan – agter ’n dik gordyn (die voorhangsel) en net die Hoëpriester kon een maal per jaar daar ingaan. Selfs wanneer die verbondsark vervoer is, moes dit bedek word en niemand mag dit sien of daaraan raak nie (lees meer hiervan in 2 Sam. 6).
En tog lees ons in Heb. 10:4 dat die bloed van bulle en bokke nie die sondes kan wegneem nie. Ten spyte van al hierdie bloed wat gevloei het, kon die mense nooit skoon en sondeloos genoeg wees om voor God te verskyn nie.
Toegangsgeld word betaal
Maar God het ook vir hierdie probleem ’n oplossing gehad. Hy het vir ons die volmaakte offer gegee. En dit is waaroor al die offers in die Ou Testament gegaan het. Al die offers wat dag vir dag en jaar vir jaar gebring is, het gedui op een volmaakte offer. En hierdie offer was God se eie Seun. Sy enigste Seun. Dit is ’n ongelooflike groot offer om van enige iemand te vra (dink byvoorbeeld aan Abraham wat vir Isak moes offer in Gen. 22), maar God het dit vrywillig vir ons gedoen. Hy het sy enigste Seun gegee as betaling vir die sondes, sodat elkeen wat in Hom glo, gered kan word (Joh. 3:16).
Dit word ook baie mooi verduidelik in Heb. 9 en 10. Nadat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het (geoffer is!), is dit nie meer nodig dat ons ’n bok saamvat wanneer ons vir God wil aanbid en met Hom wil praat nie. Jesus was die een volmaakte Offer. Hy het vir ons die pad na God finaal oopgemaak en Hy hou ook hierdie pad vir ons oop. Heb.10:19-20 “Broers (dit sluit natuurlik Susters in – outeur se eie byvoeging, Red.), ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.”
Ewige vrye toegang
Met Jesus se kruisdood het die voorhangsel van die tempel in twee geskeur. Daar is nie meer ’n gordyn tussen ons en God nie. Wanneer ons met Hom wil praat, kan ons reguit na Hom gaan en alles vertel wat ons wil. Soos ’n dogtertjie wat na haar pappa toe hardloop en vir hom vertel wat alles vandag by die skool gebeur het. Sy is nie bang dat haar pa haar gaan veroordeel omdat haar voete vuil is of omdat daar konfyt op haar wang sit nie. Sy is ook nie bang dat haar pa gaan sê: “Jy mag dit nie vir my vertel nie!” Nee, sy hardloop na hom toe, spring op sy skoot en vertel alles! Haar pappa gaan dalk vir haar sê: “Dit is nie mooi om so van ’n maatjie te praat nie” of “Dit is nie ’n mooi woord om te gebruik nie”. Hy gaan haar reghelp, maar nie veroordeel nie. En so is ons Hemelse Vader ook. Hy het vir ons die pad na Hom oopgemaak deur Jesus Christus en nou bly dit vir altyd oop.
Wanneer jy vir jou ’n beker koffie by ’n restaurant bestel, betaal jy daarvoor en dan kry jy ’n vol beker koffie. Wat jy natuurlik leeg drink. As jy nog wil hê, moet jy weer betaal. So was dit ook met die offers in die Ou Testament. As jy toegang tot die tempel (dit is ’n simbool van toegang tot God) wou hê, moet jy betaal. Die betaling wat God vra, is bloed, maar jy kan nie jou eie bloed gee nie, daarom offer jy ’n dier. Dan kan jy in die tempel ingaan. Maar as jy weer tempel toe wil kom, moet jy weer ’n offer bring.
As jy egter restaurant toe gaan en iemand anders bestel vir jou ’n bodemlose beker koffie, kan jy soveel drink as wat jy wil en jy het nie nodig om te betaal nie. Dit is hoe Christus se offer aan ons is. Hy het betaal met sy bloed en omdat sy offer volmaak is, het Hy dit net een keer gebring. Nou kan ons soveel keer met God praat as wat ons wil en ons sal nooit daarvoor betaal nie.
Vertel almal: die weg is oop!
Hierdie wonderlike voorreg beteken natuurlik ook dan ons ’n verantwoordelikheid het. ’n Verantwoordelikheid om soos Johannes vir die wêreld te sê: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29)