Deur Dr. Amanda du Plessis
God offer sy Seun vir ons. ʼn Paar woorde wat so oorbekend is vir Christene, dat ek soms wonder of ons werklik die impak van hierdie woorde (nog) verstaan. Paasnaweek is om die draai en Christene reg oor die wêreld sal die gebeure vervat in hierdie woorde, herdenk. My gebed – of hartversugting – is dat ons in hierdie Paastyd tyd sal uitkoop om in stille afsondering oor die impak van hierdie woorde te mediteer. In ons nadink oor hierdie woorde, is daar hoofsaaklik vier woorde wat uitstaan, naamlik God, Seun, ons en offer. Drie betrokke partye en een daad.
God offer sy Seun vir ons…
Die Bybel begin met die woorde: In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Amper elke ander godsdiens het hulle eie weergawe van hoe die wêreld begin het en die wetenskap het ook hul eie teorie van hoe alles begin het. Ons as Christene, glo en bely dat God die Skepper was. Die skeppingsverhaal leer ons veral drie eienskappe van God, naamlik dat Hy die almagtige Skepper is, dat Hy as Skepper van sy skepping onderskei word, en dat Hy in beheer van die skepping is.
Hoekom het God geskep? Omdat God liefde is (1 Joh. 4:7) en omdat liefde teenoor iets of iemand anders tot uiting gebring moet word. God was, is en sal altyd dieselfde wees, en ons menslike verstand is te beperk om Hom ten volle te ken. Maar ons kan Hom ken in die mate waartoe Hy Homself openbaar.
Die skepping is een manier van hoe ons God kan leer ken (Ps. 19). In ons geloof moet ons waak teen emosionele meesleuring, maar kom ons dink vir een oomblik hoe die Liefde gevoel het nadat Hy alles geskep het – die Woord is tog baie duidelik dat God ook gevoelens het. Na die skepping het Hy daarna gekyk en dit was baie goed (Gen. 1:31). En toe – die sondeval (Gen. 3). Die hartseer, die teleurstelling, die seer, soveel so dat toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op die aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep getref (Gen. 6:5-6).
Ons weet dat die sondeval die hele mensdom beïnvloed het (Rom. 5:23). God was diep getref hierdeur en in sy liefde kon Hy nie anders as om weer sy hand na die mensdom uit te reik nie, maar die prys was duur. God offer sy Seun vir ons. Sy kosbaarste het Hy gegee. God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh. 3:16). Sy kosbaarste het Hy gegee, sodat ons nie verlore mag gaan nie.
Watter liefde! Watter genade! Wat het dit God gekós om sy Seun te gee?
God offer sy Seun vir ons…
Jesus Christus die Seun van God, die vleesgeworde Woord het aan die kruishout gesterf om vir ons sondes en ongeregtigheid te betaal, en versoening met God vir ons te bring (Rom. 3:25; Heb. 7:27; 9:28). Die aand voor daardie verskriklike dag waarop Hy gekruisig sou word, het Jesus in die tuin van Getsemane gebid. Sy gebedsworsteling was so intens, dat sy sweetdruppels bloed gevorm het (Luk. 22:39-45). Tog het Hy daar die oorwinning behaal en sy lewe oorgegee as offer. Al die Ou Testamentiese offers wys heen na die volmaakte offer van Christus (Heb. 9:11-14; 24-26).
Daar is al heelwat geskryf oor die geweldige fisieke marteling van ’n kruisdood, maar iets wat ek hier wil beklemtoon is Jesus se intense rou hartseer uitroep: Eli, Eli, lemá sabagtani? My God, my God waarom het U my verlaat (Matt. 27:46; Mark. 15:34). Dit is wat sonde doen – dit bring skeiding tussen die sondaar en God (Jes. 59:1-2), dit veroorsaak die dood (Rom. 5:12). Jesus Christus het die lydingsbeker gedrink, daarna kon Hy uitroep: Dit is volbring (Joh. 19:30) – die volle prys vir die sonde is betaal. Die Seun van God is geoffer.
Watter liefde! Watter genade! Wat het dit Jesus gekós om sy lewe as offer te gee?
God offer sy Seun vir ons…
Paastyd gaan egter nie net oor die kruisiging nie, maar ook oor die opstanding. Jesus Christus het opgestaan (Joh. 20:1-10). Hy leef en ons is die ontvangers van hierdie liefde en genade, van die verlossing en vernuwing wat deur die offer bewerk is. Ons – die mensdom – wat deur ongehoorsaamheid in sonde verval het, ontvang ʼn offer om weer met God versoen te kon word. Wanneer ons ons harte oopmaak om hierdie offer te ontvang (Joh. 3:3), leef ons ons lewe in toewyding aan Christus (Matt. 16:24-28; Mark. 8:34-9:1; Luk. 9:23-27). Ons staan dan uit dankbaarheid in diens van God (Rom. 12:1-8; 1 Pet. 2:5) deur liefde aan God, ander, en onsself uit te leef (Heb. 13:16). En ons groei in liefde en genade.
Wat kos dit ons?
God offer sy Seun vir ons…
Eintlik kos dit ons niks nie. Dit is ʼn offer van God aan ons. Ons moet net in totale oorgawe aan God alleen leef, maar as ons eerlik met mekaar wil wees, is totale oorgawe nie altyd maklik nie. Het jy al iets geoffer? En ek verwys nie na die Ou Testamentiese manier van diere-offers nie, ek verwys na iets wat vir jou spesiaal en kosbaar was. Iets waaraan jy wou vasklou en beskerm met jou lewe, omdat jy dit net nie kón verloor nie, omdat jy jou lewe daarsonder nie kon voorstel nie? Omdat jy in jou menslike beperktheid dalk nie God se soewereine plan vir jou lewe daarsonder kon sien nie. Word net vir ʼn oomblik stil en dink aan iets of iemand wat jy nie wil of kan opgee nie. Kan jy dít vir God offer? Met ander woorde, dit kos jou ook iets – selfverloëning of die kruisiging van jou eie wil, sodat Hy meer word en ons minder (Joh. 3:30; 2 Kor. 3:18).
Wanneer ons dit tog regkry om iets wat vir ons baie moeilik is, aan God oor te gee, offer ons dit as’t ware vir Hom en die vrede wat alle verstand te bowe gaan (Fil. 4:7) vul opnuut ons binneste. Ek het geleer dat as jy iets aan God offer, het jy dit nie verlóór nie, mense het dit nie van jou weggeneem nie – jý het dit vir God gegéé om in sý soewereiniteit daarmee te handel soos Hy wil. Dit waaraan jy vasgeklou het, gee jy weg en daarna maak sy liefde en genade die storm stil. Wat eintlik gebeur is dat God jou in die proses help om jou fokus weer reg te skuif (Heb. 12:1-2). Wég van dit wat ons dink lewensbelangrik is, na dit wat wérklik Lewensbelangrik is.
En jou hart sing daarna ʼn lied: Hý het my lief, Hý het my nie vergeet nie! En jou hoop is vas in Hom. Watter liefde! Watter genade!