Ons leser vra: “Christus het vir ons sondes gesterf, so het Hy ons, ook vir my, vergewe, maar ek dra die gevolge van my sonde. Hoe is dit dan dat mense mekaar ‘straf’ en nie vergewe nie? Vir jare aaneen! Die duiwel se werk?”
Heerlike sekerheid
In hierdie hartseer vraag is daar tog drie baie troosvolle woorde. Christus het nie net vir ons vergewe nie, maar “…ookvir my…”. Iemand wat “jare aaneen” beleef dat mense mekaar straf en nie vergewe nie, weet tog gelowig dat Christus haar vergewe het. Ek is seker toe sy die drie woordjies geskryf het, is daar gejuig in die hemel, en het die duiwel koue rillings van vrees gekry. Want sulke heerlike sekerheid oor jou Verlosser en jou verlossing jubel eintlik uit: “Jesus Christus het die houvas van die duiwel in my lewe verbreek en my vrygekoop. Ek is vergewe, my skuld is ten volle betaal. Jesus het in my lewe die oorwinning behaal!” Dis groot genade.
Wraak
Sedert die sondeval is dit eie aan die mens om terug te slaan as jy geslaan is, te vergeld en op elke moontlike manier wraak te neem. Lameg was moontlik die eerste mens wat sy wraaklied gesing het, maar hy was beslis nie die laaste nie. As hy sê: “Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewe en sewentig maal!” (Gen. 4:24), word hy eintlik die solis saam met ʼn koor van wraakgieriges in die wêreld wat jare lank al saamsing dat hulle enigeen wat hulle wond, sal doodmaak. Dis mos hoe wraak werk: Die reaksie is baie erger as die fout wat jy begaan het. Dit het deel van die mens se sondige natuur geword om so hard as moontlik terug te slaan, en nie net seer te maak nie, maar ook te verneder en af te kraak. Die duiwel juig daaroor.
Die Gees maak vergifnis moontlik
Mense wat in Jesus verlossing gekry het, is ongelukkig nog nie volmaakte of sondelose mense nie, maar smag nog na die volheid van die vrug van die Heilige Gees se werk in ons lewe, sodat ons onsself al hoe meer as “lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is” (Rom. 12: 1b) aan God kan toewy. Ons heiligmaking is iets wat lewenslank voortgaan, die afsterf van ons ou sondige natuur én die begin van ʼn nuwe lewe om “volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe” soos ons in die Heidelbergse Kategismus bely (Sondag 33).
Die vernuwende werk van God se Gees in dissipels van Jesus maak dit moontlik dat ʼn mens iemand wat jou seergemaak en verneder het, kan vergewe, want Hy leer ons om nie kwaad met kwaad te vergeld nie, “maar oorwin die kwaad deur die goeie… seën julle vervolgers, moet hulle nie vervloek nie” (Rom.12:14, 17,21).
Daarvoor het ʼn mens groot genade nodig. Die kragtige vernuwende werk van die Heilige Gees genees ʼn mens van jou seer sodat jy dit in perspektief kan sien en begrip kan hê vir die ander. Hy verlos jou van wraakgedagtes ook deur jou te leer om jou eie onvolmaaktheid te besef, en om eerder vir ander te bid en hulle in liefde by te staan. Hulle het waarskynlik ‘n stryd om aan die Here getrou te wees, en jou liefdeloosheid mak dit nog moeiliker.
Selfondersoek
Ons leser se brief dring ons tot selfondersoek oor wat ons soms aan ander doen.
- Het ek nie dalk mense so seer gemaak dat hulle met haat en wraakgedagtes aan my dink nie?
- Is ek werklik bereid om mense wat my seermaak van harte te kan vergewe en met die krag van die Gees verder met vreugde te lewe?
Hy maak dit alles vir ons moontlik, net Hy!
“Die kragtige vernuwende werk van die Heilige Gees genees ʼn mens van jou seer sodat jy dit in perspektief kan sien en begrip kan hê vir die ander.”