Resensent: Annamie Odendaal
As jy al ooit gewonder het hoekom dit so moeilik is om hulpbehoewendes te help? Of gewonder wat jy dan verkeerd doen want jou hulp het geen impak nie? Of hoe moet ek help om regtig te help soos die Here dit wil hê?
Dan is hierdie een van die boeke wat jy moet lees. Lindie is al lank genoeg daarmee besig om te weet hoe, en eerlik genoeg om te vertel hoe níé. En die inhoud gaan vir jou ʼn aangename ervaring wees: Sy het ‘n talent om op ʼn lekker geselstrant by die kern van ʼn saak uit te kom. Dan vul sy dit aan uit haar eie ondervinding. Van Lindie weet ek meer as dat sy lank ʼn Egoli-sepiester was: Ek het die voorreg gehad om by die Vrouekonferensie in Bloemfontein te luister hoe sy vertel van die hulpverlenings-projek Mama Afrika waarmee sy so ’n paar jaar gelede besig was.
Dis egter nie die belangrikste rede waarom jy gerus die boek kan aanskaf nie. Op soek na God se hart gaan nie in die eerste plek oor hulpverlening nie, soos die titel ook aandui. Dis ‘n lekker vertelling uit haar hart uit hoe sy van jongs af ‘n gelowige was en hoe sy by die begeerte om mense – en God – te probeer beïndruk (klink dit vir jou ook bekend?) verby kon groei tot by die punt waar die stof wat sy neerpen, ons almal kan verryk.
Dis geloofsversterkend om te lees hoe sy die bekende en geliefde feite van hoe God se hart is en hoe Hy dit aan ons openbaar, vars vertel. Lindie hou van struktuur en haar skryfwerk het opskrifte wat dit moontlik maak om so deur te blaai en opskrifte te lees tot jy by iets kom wat jou aangryp, en dan kan jy net daar rondom ook lees. Dis nou nie die beste manier om die boek te lees nie: Dis eintlik ʼn van-voor-tot-agter boek, maar vir later weer lees is die opsie daar.
ʼn Paar sulke opskrifte, lukraak gegryp, gee ’n mens ʼn idee van die inhoud:
Daar is ‘n verskil tussen ver voel en ver wees;
- Kom nader aan God om beter te kan sien – met die uitbreiding: Kom nader aan die mense rondom jou om beter te kan help/dien/blye nuus oor te dra.
- God se tyd en plek is myne.
- Hoe verander drome en hoop ons toekoms?
- Hit and run geld (daardie twee-randmunte wat ’n mens gee om jou skuldgevoel te sus!).
- God gee liefde.
- God gee hoop.
- God gee intensioneel en berekend.
- God gee sy beste, sy eerste.
- God gee vir verhouding en vanuit verhouding.
- Liefde is doen. Liefde is soms radikaal.
- Liefde is nie selektief nie.
- Gebreekte hart, gewillige hande is die opskrif van die voorlaaste hoofstuk.
Dié dinge wat God se hart breek, moet my hart ook breek. As ek dan help, is dit nie omdat dit my plig is nie, maar omdat ek nie anders kan nie.
Share your comments
Geagte Redakteur
Ek is ‘n pensionaris en was deur Dr Kassie Aucamp gevra om in te teken op die Kerkblad. Ek het voorheen die harde kopie van Vroueblad vir my sekretaresse, Irma Dreyer gekoop. Na my aftrede is sy oorlede en ek het nie weer ingeteken nie. Nou wou ek slegs 1 artikel bekom van Lindie Strydom se praatjie by Vroudag 2024 wat in die Vroublad sou verskyn. Kan mens een artikel koop?