Ek is verloof aan my droomman, maar sy seun hou niks van my nie.

Dr. Trudie antwoord

Ek is verloof aan my droomman. Ons is sielsgenote, absoluut gek oor mekaar en volgens my pas ons in alle opsigte bymekaar.  Ons het net een probleem: Sy seun (nou tien jaar oud) hou duidelik niks van my nie.  Hy groet my nooit as ons alleen is nie, praat net met sy pa en reageer skaars as ek met hom praat. Ek weet nie meer hoe om hom te benader nie. Dit maak my baie seer.

Hy sien sy eie ma elke tweede naweek en vakansies.  Sy is al lankal weer getroud en hy en sy pa het vir twee jaar alleen gebly voordat ek op die toneel gekom het. Gevolglik bestaan daar ʼn baie nou band tussen hulle. Sy ma is altyd baie vriendelik met my as ons mekaar sien, maar dit is gewoonlik baie kort en ek weet nie of ek die situasie moet vertrou nie.

Ek is so opgewonde oor my toekoms saam met my verloofde, en wil net graag weet wat ek kan doen om sy seun se vertroue te wen.

Ek kan verstaan dat jy baie opgewonde is oor jou voornemende huwelik, maar onseker voel oor jou verhouding met sy seun.  Dit moet ook so wees, want dit is nie vanselfsprekend dat hy jou met ope arms sal ontvang in sy nou reeds kleiner gesinsopset saam met net sy pa nie. Gewoonlik besef ʼn mens die konsekwensies van so ʼn saamgestelde gesin gewoonlik eers na die huweliksbevestiging. Voor die tyd droom die meeste persone net oor die persoon met wie daar in ʼn huwelik getree gaan word, maar omdat jy hom van die begin af in ag gaan neem, is die kanse baie groot dat julle  ʼn baie gelukkige gesin gaan wees. Daarom is dit baie goed dat jy voor die tyd al begin besin hoe jy sy seun moet benader.

Die wortel van al die probleme wat kinders, veral tussen die ouderdom van 7 tot 10 jaar na ʼn egskeiding ervaar, is dat hulle nie kan verstaan waarom die egskeiding in die eerste plek plaasgevind het nie.  Selfs as die egskeiding met baie spanning vooraf gegaan het, verkies die kind die spanningsvolle situasie ver bo die afwesigheid van die ander ouer in die huis. Sy hele wêreld het immers inmekaar getuimel toe sy pa en ma geskei is en die angs wat daarmee gepaard gaan, het ʼn geweldige impak op sy omgang met ander mense gemaak.

 In sy geval is dit duidelik dat jy by hom die  vrees wakker maak dat hy sy pa ook gaan verloor, omdat jy nou volgens hom die belangrikste plek by sy pa sal inneem, terwyl hy die plek vir homself toeëien. Die feit dat hy jou so maklik ignoreer is bloot ʼn ontkenning van jou betrokkenheid by sy pa.  Maar onderliggend aan hierdie ontkenning is hy eintlik baie onseker en jaloers. Hy is baie bang is dat hy sy pa se voltydse betrokkenheidby hom ook gaan verloor.

Vanselfsprekend moes hy al veelvuldige ontwrigtende veranderinge en skokke beleef. Moontlik sien hy emosioneel net nie kans vir die waagstuk om die groot verandering wat die huwelik tussen jou en sy pa teweeg sal bring te beleef nie.   Gevolglik gaan hy baie krities optree teenoor dit wat nou aan die gang is tussen jou en sy pa, en ervaar alles as net nog bedreigings in sy lewe.  Daarom kan dit vir jou voorkom asof hy jou nooit sal vertrou nie.

 Natuurlik sal sy liefde vir sy eie ma ook nog ʼn groot rol speel in sy houding. Ondersteun hom daarin om genoeg positiewe kontak met haar te maak. Die meeste kinders wat deur ʼn egskeiding gegaan het, fantaseer nog met die gedagte dat hulle ouers weer bymekaar sal uitkom. Hy begeer weer dat alles weer moet wees soos voorheen, en hoe meer uitgebreid sy gesin nou word, hoe meer word hy bewus van die realiteit dat dit nie sal gebeur nie.  In hierdie opsig word jy dus ook vir hom struikelblok wat sy drome en fantasieë betref.

Jy moet nooit vergeet dat God die belangrikste plek in julle lewe moet inneem nie.  Julle, as toekomstige gesin, se grootste taak is immers om God bo alles lief te hê en dan jou naaste (veral jou gesinslede) soos jouself  (Matt. 22:37-39). Dit sal beteken dat julle Hom in al julle weë sal ken en dan kry julle die belofte: Hy sal julle paaie gelykmaak (Spr. 3:6).  Dan sal julle ook so gevul wees met die Heilige Gees dat julle alles met liefde en vreugde sal doen en selfs in moeilike tye, met nederigheid en selfbeheersing mekaar se laste sal wil dra (Vgl. Gal. 5: 22-23; Gal. 6:2). Kinders is immers ʼn geskenk van God en het ewigheidswaarde. Jou grootste taak ten opsigte van jou aanstaande se seun is dus om hom met liefde in sy heiligwordingsproses te lei vir die tyd wat jy deel is van sy lewe.  Ook dat jy daar sal wees vir hom, al word daar soms struikelblokke in sy pad gelê.

 

  • Om ʼn vertrouensverhouding met hom te bewerkstellig moet jy hom tyd en kans gee om jou te leer ken. Wees altyd oop en eerlik in jou kommunikasie met hom.  ʼn Kind van sy ouderdom sal onmiddellik opmerk as jy voorgee om te wees wat jy nie is nie.
  • selfbeheersing en geduld aan die dag, veral as hy deur sy optrede juis jou geduld wil beproef. Moenie hom probeer uitoorlê nie en tree met liefde en grasie, beslis maar sag op. Hy sal stelselmatig leer dat jy nou permanent deel van sy lewe sal wees, en dat hy jou kan vertrou.
  • Fokus in op sy vlak en belangstellings en soek die dinge wat julle gemeen het, sonder dat jou toekomstige man teenwoordig is. Dit moet julle saak wees.  Aan die ander kant moet jy nie inmeng in die dinge wat hy en sy pa gereeld doen waarin jy dalk nie so goed is nie.  Dan is jy net weer die indringer.
  • Maak verder plek vir balans in die huishouding. Jy en jou toekomstige man moet wel saam uitgaan, al gaan hy nie daarvan hou nie.  Jy is sy pa se vrou en hy moet leer om dit te respekteer.  Julle moet hom ook nie bederf ten einde sy goedkeuring te kry nie, maar hou by roetine en reëls waarby hy veilig kan voel.
  • As jy en jou aanstaande verskil in die hantering van ’n saak wat sy seun betref, mag sy seun nooit daarvan bewus wees nie. Praat dit privaat uit, anders gaan hy die situasie net uitbuit.
  • Moet nooit sy eie ma voor hom bespreek nie. Inteendeel, behandel haar met respek, want hy is lief vir haar. En as hy opgewonde is voor ’n kuiertjie, moet jy hom dit gun. Jy mag nooit met haar kompeteer vir sy aandag en liefde nie.  Sou dit gebeur, is dit bloot ’n manifestasie van jou (of jou man) se pyn, maar dit is sy seun wat die slegste daarvan gaan afkom.

Ten slotte, leef altyd in geloof, hoop en liefde.  En onthou, die grootste daarvan is die liefde!

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Picture of Grietjie Prinsloo
Grietjie Prinsloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top