Deur Jacomien Zwemstra
Dit is ongelooflik wat ʼn mens van jou kinderjare onthou! My gedagtes begin vandag in die erediens. Toe ek ʼn kind was, het ons gemeente vir jare lank dieselfde predikant gehad. Al het ek toe (as kind!) gedink hy is ʼn ou en vervelige oom, het hy met sy moeilike preke en groot woorde vir my baie meer geleer as wat ek toe besef het. Een van die dinge wat ek onthou, is dat hy elke Sondag voordat hy die wet gelees het, ook hierdie gedeelte gelees het: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat” (Matt. 22:37-40).
Hierdie woorde van Jesus is natuurlik ʼn aanhaling uit Duet. 6:5 en Lev. 19:18. In Deut. 6:4 is die rede hiervoor: “Die Here is ons God, Hy is die enigste Here.” Dit is hoekom ons Hom alleen moet dien. Deut. 6:6-9 vertel weer vir ons wat ons met hierdie kennis en liefde moet doen: “Hierdie gebooie… moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan…”
Ons liefde vir God moet ʼn lewenswyse wees. Dit moet deel wees van ons soos asemhaal. Wanneer dit so deel is van ons kan ons nie anders as om dit met ander te deel nie en God sê dat ons by ons kinders moet begin. Ons moet elke geleentheid wat ons het gebruik om ons kinders te leer: En een van die beste geleenthede hiervoor is wanneer hulle stilsit om te eet.
Die etenstafel staan sentraal
’n Etenstafel staan sentraal in baie gebeurtenisse in ons lewens. Ons gebruik elke geleentheid om ʼn gesamentlike ete te reël. Ons almal weet dat die kerk se probleme nie in die konsistorie opgelos word nie, maar rondom die braaivleisvuur…
Tog skeep ons gesinsetes af en daarmee verbeur ons een van die wonderlikste geleenthede om ons gesinslede in die oë te kyk. Ons as ouers het by die doop van ons kinders ’n belofte teenoor die Here afgelê. Ons het belowe dat ons ons kinders so sal grootmaak dat hulle Hom werklik sal ken.
Jesus is ook vir ons ʼn voorbeeld van hóé om rondom die tafel te onderrig. Hy eet keer op keer saam met mense en gebruik dan die geleentheid om hulle te leer (byvoorbeeld in Joh. 12). Hy eet saam met sy dissipels en onderrig hulle tydens hierdie etes (lees maar in Johannes hoofstukke 13-17 en 21). En Hy belowe ons ʼn feesmaal tydens ʼn bruilofsfees met sy wederkoms (vgl. Op. 19:5-10).
Die noodsaak van gesinsetes
Ek het vir my kinders gevra of hulle dink dit is nodig dat ʼn gesin gereeld saam eet en hoekom. Hulle antwoorde was almal min of meer dieselfde: Ons moet saam eet sodat ons tyd kry om met mekaar te gesels, sodat ons almal saam kan bid en sodat Mamma en Pappa ons kan leer van die Bybel.
Dit is natuurlik hoe die meeste van ons gesinsetes beleef of onthou. Dit is ʼn tyd om te gesels. Ons kan weer tyd opvang en hoor wat in almal se lewens gebeur. Dit is ʼn tyd wat mens kan gebruik om met die kinders te praat oor goed wat nie reg is nie, maar dit is ook ʼn tyd om goeie nuus vir hulle te vertel.
Etenstyd is ook ʼn tyd vir huisgodsdiens, maar dit hoef (en moet ook nie!) altyd formeel te wees nie. Wanneer almal saam om die tafel sit en gesels, word jou gesin se probleme en vreugdes alles op die tafel blootgelê. En wat is ʼn beter manier om hierdie dinge te hanteer as met die waarhede uit die Bybel? Daar kan ons aan ons kinders Bybelse riglyne te gee oor hoe om as Christen-kind te lewe. Moet ook nie verbaas wees as jou kind dalk vir jou wyse raad gee nie! Rondom die tafel kan ons die feite uit die Bybel leer en dit prakties toe pas.
Wat moet ons ons kinders aan tafel leer?
Presies wat God in Deut. 6 vir ons sê: Die Here is God – ons moet Hom met ons hele lewe moet liefhê. Ons moet ook op Hom vertrou, want Hy weet wat Hy doen. In vers 16 van hierdie Skrifgedeelte word ons gewaarsku om nie soos die Israeliete ontevrede te raak met die manier waarop God ons red en lei nie. Al kry ons swaar, moet ons weet dat God in beheer is en dat sy manier van doen die beste manier is.
Deut. 6:20-25 help ons om te weet wat ons moet antwoord as ons kinders vra: Hoekom moet ons in die Here glo en doen wat Hy sê?
Dit is die antwoord wat die Bybel ons gee: Ons was slawe van die sonde en die Here het ons deur sy magtige dade bevry. Hy het Jesus Christus gestuur het om mens te word en aan die kruis te sterf om die straf vir ons sondes te dra. Die Here het ons dus bevry van ons sondes en Hy belowe vir ons ʼn nuwe ewige lewe saam met Hom. Hy het ons beveel om sy gebooie na te kom, omdat dit goed is vir ons en omdat ons daardeur sy wil kan doen.
Luister, suster in die geloof, moeder, vrou en ouma: Die Here ons God, Hy is die enigste Here. Wees vir Hom só lief dat jy elke geleentheid gebruik om saam met jou gesin om die tafel te vergader en saam met hulle hierdie waarhede leer. Dek die tafel in plaas daarvan om op te skep vir die televisie. Maak van elke ete ʼn feesmaal en berei hulle voor vir die ewige feesmaal wat God beloof.