Deur Ds. Kotzé
In Matt. 18:3 hoor ons Jesus aan sy dissipels sê: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Maar in 1 Kor. 13:11 hoor ons Paulus sê: Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind, maar noudat ek ’n man is, is ek klaar met die dinge van ’n kind.
Nou hoe nou? Is geloofsgroei om soos ’n kind te wees, of om klaar te wees met die dinge van ’n kind?
Ry in die Kaap by ’n wynplaas verby net nadat die wingerde gesnoei is, en dit lyk vir jou of dit totaal en al verby is met daardie wingerd, of die hele wingerd verdroog het. Al wat jy sien is hierdie droë stompe en knoetse, met geen teken van lewe nie, op die oog af ’n prentjie van totale agteruitgang. Maar daarin lê die groei! Dit is die beginsel van geestelik groei wat ons twee Skrifgedeeltes beklemtoon.
Die dissipels wou by Jesus weet: Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel? En Jesus wys na ’n voorskoolse kind. Vir die mense van destyds was daar nie ’n enkele eienskap aan kindwees wat ’n volwassene sou wou begeer nie. Dit sou vir die dissipels na agteruitgang geklink het. Daar lê die groei, leer Jesus. ’n Groei in nederigheid, en ’n volle groei in die besef van volkome afhanklikheid van God. Eers as jy daar is, kan jy groei na volwassenheid in die geloof.
As die Korintiërs by Paulus wil weet: Wie se gawes is die belangrikste, dan wys hy na die liefde. Word groot, sê hy vir hulle, kyk na die agape-liefde wat Jesus self kom leer het, deur Homself te verneder in die gestalte van ’n dienskneg, en die grootste offer van liefde daardeur kon bring. Want dit is die beginsel van geestelike groei: Om klein te word voor God, sodat jy deur die Gees gevul mag word met Christus se liefde, om in volwassenheid sy beeld uit te leef.