Wat maak jy met die mense wat jou pad kruis?

Deur Dr. Tessa van Wijk  (toerusting gegee tydens Saamtrek 2015, Kameeldoringstreek)

My man is baie lief vir kamp en doen dit al van sy kinderjare af, maar ek het eers onlangs daaraan begin dink. So besluit ons mos om die kamp-ding te begin doen – ek ʼn bietjie vrywillig verplig, maar ons druk deur!Maar laat ek nou sommer aan die begin sê: Kamp is nie vir sissies nie – jy moet ingerig wees en baie hare op jou tande hê. My eerste keer was ʼn nagmerrie – ek het alles verkeerd gedoen! Dit was ʼn ernstige beproewing vir ons huwelik, maar gelukkig het ons dit oorleef en tot ʼn mondelingse vergelyk gekom dat ons sal moet  “compromise”!  Ons voeg die daad by die woord en die tent word vervang met ʼn luukse ConQuerer waentjie. Met groot opgewondenheid gaan haal ons die waentjie een Vrydagmiddag,  en kry toe sommer ook  ʼn 2- ure opleiding.

Die waentjie moet toegerus word en elke ding kry ʼn plek.  Tot die koninginggrootte bed word oorgetrek met fyn linne –  ʼn vrou moet darem ʼn tuiste skep.

Tydens ons inpaksessie, is ons besig met die krat wat al die skoonmaakmiddels en gifstowwe bevat.  Die bottel “Blue Death”  is te groot  – dit pas nie in die krat nie.  Ek gaan haal ʼn leë sjampoobotteltjie  wat net die regte grootte is. My man se reaksie?

“’n Mens gooi nooit gif in ʼn verkeerde bottel nie – veral as dit nie gemerk is nie!”

Hierdie wyse woorde laat my dadelik aan menswees dink: Dit is darem so waar, hoe baie is dit nie presies wat ons doen nie – ons gooi gif in die verkeerde bottel.

Gif in die verkeerde bottel

Die hartseer van menslike gedrag is dat ons dikwels ons seerkry en pyn (ons “gif”) onderdruk, en dan op die verkeerde plek, teenoor onskuldige mense hierdie bomme  laat bars en so maak ons dié  naaste aan ons baie seer.  Dit veroorsaak dat jy nie lig of sout kan wees nie – al wil jy – wat jou seerkry oorskadu dit. Omdat jy seer het word jy passief en aggressief.  Jou gif is in die verkeerde bottel.  Jou kinders, familie, geliefdes en vriende weet dit nie,  want hierdie bottel is nie gemerk nie.  Hulle ervaar net die nagevolge: Gif maak dood!

As ons ons pyn, woede, bitterheid, haat onderdruk en nie eerlik is oor die emosionele wonde nie, sit ons die gif in ʼn verkeerde bottel wat nie gemerk is nie, en die  mense wat dan in aanraking met ons kom, kan emosioneel vernietig word.

Maar wat moet jy dan hieraan doen?

Erken dat jy seer het, merk jou bottel “Gif” en gee die waarskuwings en gebruiksaanwysigings  duidelik aan. Gee mense die naaste aan jou ʼn kans en wees eerlik, dan gaan hul harte vir jou oop.

Kom ons kyk na Jesus as voorbeeld: Wanneer mense sy pad kruis, genees, inspireer, vergewe Hy hulle. Hy raak  hulle harte aan, bevestig hulle waarde, laat hulle geliefd voel.  Hy doen wonderwerke om mense se geloof te versterk, Hy praat mooi met hulle en konsidereer hulle. Jesus gee moed en bemoedig waar Hy met mense in aanraking kom.

Van gif na lig – soos Maria Magdalena

Sy was ʼn vrou met ʼn twyfelagtige verlede. Sy het ’n reputasie gehad, as ʼn slegte vrou – nou nie juis die vrou wat ʼn respektabele man noodwendig aan sy ouers sou gaan voorstel het nie. Haar tuisstad Magdala  was bekend vir sy promiskue lewenswyse – sy het die etiket van ʼn prostituut gedra. Haar lewe was in ʼn gemors – Jesus het 7 duiwels uit haar uitgedryf. Maar ons weet dat die uiteinde van haar verhaal anders verloop het.

Baie van ons loop ook so met etikette rond – dalk is daar ʼn etiket op jou lewe geplak omdat jy arm is, seksueel misbruik was as kind,  of dalk is jy sieklik, nie geleerd nie en dan worstel jy omdat daardie etiket om jou nek hang.

 Hoe verander my etikette van Gif  na SOUT EN LIG?

 Wie het my etiket geaktiveer?   Identifiseer die ondervinding, gesprek of omstandighede wat jou die etiket gegee het. Iets moes gebeur het, dat jy geëtiketteer is. Wat of wie het veroorsaak dat jy dink jy is nie goed genoeg nie, arm of lelik?

  • Hoe het hierdie etiket my lewensbeskouing beïnvloed? Watter etikette glo jy met soveel oortuiging, dat dit al jou dominante beskouing geword het? Jy begin glo jy is sleg, of nie goed genoeg nie. Hierdie dominante beskouing bepaal dan ook uiteindelik jou gedrag.  Wanneer jy weet wie jy is, ontwikkel jy ʼn sterk selfrespek; wanneer jy volgens ʼn etiket – wat eintlik niks anders as ʼn leuen is nie –  leef en optree, ontwikkel jy selfhaat. En dit is presies wat die ou duiwel wil hê. Dit loop uit op chaotiese gevolge. Stel vas hoe jy emosioneel op daardie etikette reageer en watter gedrag en gewoontes jy as gevolg daarvan ontwikkel het.
  • Nadat jy al hierdie goed in die oë gekyk het – vat alles na God toe.  Gaan vind by en in God uit wie jy werklik is – hoe Hy jou gemaak het, en watter besondere identiteit Hy aan jou gegee het. Hy gee ook beloftes van hoop en ʼn beter toekoms in sy Woord. So kan jy van bedrukking na vreugde en vervulling beweeg. Bly in geloof gefokus op God, sodat jy sy droom vir jou kan ontdek.

 Eers dan kan jy moeiteloos sout en lig wees vir ander.

 

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Picture of Grietjie Prinsloo
Grietjie Prinsloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top