Deur Prof. T van der Walt
Hoogtepunte (ons kan dit ook bakens of die aanbreek van ʼn nuwe era noem – Red. se eie invoeging) in die wêreldgeskiedenis gebeur nie maar sommer vanself nie. Daar is altyd iets wat dit laat gebeur. Hoogtepunte kan ook nie altyd voorspel word nie. Maar hoogtepunte in die geskiedenis vertoon sekere eienskappe: dit gaan gewoonlik gepaard met geweldige druk, hoogspanning en somtyds gaan dit ook gepaard met ’n onderdrukte gevoel van angstigheid.
Dan word sulke geskiedenishoogtepunte ook gekenmerk deur erge stroomversnellings. As die aanwesige blokkasie dan weggespoel is, neem die stroomversnelling se spoed toe. Gewoonlik kla sommige betrokkenes dan alles gaan te vinnig; terwyl andere die stroomversnelling verwelkom en die moed het om die water te kanaliseer. Hulle word die pioniers van die nuwe era.
Elke stroomversnelling in die geskiedenis het ook sy kwota opdrifsels en vuilgoed, maar uit die stoormversnelling word ook mense met geestelike staal, kulturele goud en diamante van geloof gebore.
Net so vier ons hierdie jaar die kosbare hoogtepunte van die Reformasie – in ʼn wêreld wat nie baie verskil van die wêreld van die Reformasie nie: Ons leef in ʼn tyd van enorme spanning waar alles daarop dui dat ons daagliks meer en meer begin stres. Van ons kla ook dat dinge darem nóú te vinnig gaan.
Maar, om ʼn hedendaagse beeld te gebruik: God voorsien nie net die goeie branders in die geskiedenis nie, maar ook die branderplankryers – die afstammelinge van die Reformasie wat maar alte bewus is dat jy sonder ʼn goeie, behoorlike brander nie met jou branderplank tot op die vaste grond van die strand kan kom nie.
Stroomversnellings
Ons hier in Suid-Afrika leef in ʼn tyd van enorme stroomversnellings wat dikwels vir ons soos ʼn bedreiging voel en ons angstig maak. In die tyd wat die stroomversnelling oor jou spoel, kan dinge skielik en onverwags skeefloop, maar dinge kan ook baie vinnig regkom.
Stroomversnellings dwing ʼn mens om weer te besin oor wat werklik die basiese, onverhandelebare beginsels is wat jou vasanker. Dit dwing ʼn mens ook om ontslae te raak van oortollige bagasie wat jou net sal laat sink.
Die Donker Middeleeue wat ook nie nét donker nie – die Middeleeue het ʼn belangrike brug gevorm tussen die twee hoogtepunte van die geskiedenis, naamlik die Klassieke era en die Renaissance. In die Middeleeue is ʼn kosbare skat van geestelike en intellektuele goed bymekaargemaak, maar dié tydperk het onsamehangend, ordeloos en versmorend geword.
Die Reformasie moes weer orde uit hierdie chaos skep, moes die kaf van die koring skei en die kanale oopmaak na die primêre bron van die lewe: Terug na die Bybel en na die God van die Bybel.
Die drie eienskappe van die Reformasie wat vir ons vandag nog net so belangrik is, is krag, rigting en kontrole (beheer). Kom ons gebruik die alledaagse voorbeeld van ʼn motor: As jy die petrolpedaal intrap, moet daar krag kom sodat die motor kan beweeg – maar nie sommer net enige kant toe nie, daar moet tog in ʼn rigting beweeg word. Om in ’n sekere rigting te kan beweeg, moet jy stuur, jy moet beheer uitoefen – jy kan vinnig ry op ʼn reguit, oop stuk pad, maar jy moet stadiger ry om draaie, jy moet ook kan rem as dit nodig raak.
Die Reformasie was ’n periode van krag… waarin baie dinamiese dinge plaasgevind het, daarom vier ons vandag nog die Reformasie. Die hervormers het nie geskroom om enigiets aan te pak nie – sommer groot uitdagings wat amper onuitvoerbaar gelyk het, en hulle hét dit deurgevoer.
Die Reformasie het in ʼn rigting beweeg… hulle het nie wild en wakker en onbeheersd rondgefladder nie. Die hervormers het ’n duidelike rigting ingeslaan. Daar was ʼn patroon van eenheid in al hulle aksies.
Die Reformasie het beheers, gekontroleerd plaasgevind… Om dinge te hervorm of te reformeer beteken nie om holderstebolder, ongekontroleerd vorentoe te storm nie. Die hervormers het opgetree in nederigheid, matigheid, beheersd, gedissiplineerd, sober en oopkop vorentoe gegaan – eienskappe wat diepgewortel is in die Skrif.
Krag, rigting en beheersing… vir vandag
Ons moet onsself vandag afvra: Leef ons as gereformeerde gelowiges só dat mense ook kan sien ons het krag, rigting en beheersing? Of eggo ons maar net leë woorde?
Kan buitestaanders aan ons dade sien dat ons kinders van die Reformasie is wat triomferend lewe… of het ons belydenis dooie dogma geword?
Semper Reformanda
Bly altyd reformeer! Reformasie, verandering, is ’n voortdurende proses wat nooit ophou nie. Ons mag nie selftevrede dink ons “het gearriveer” nie. Gereformeerdes weet hulle is op ʼn reis op pad na die ewige bestemming en is voortdurend op hierdie reis bewus van die onvolmaaktheid van hierdie lewe. Hulle weet ook dat slegs die genade van God hulle op hierdie reispad vorentoe kan dra.
’n Ware Gereformeerde is nie net bereid om te kritiseer nie (wat ook reg en nodig is as ʼn mens sien iets gaan lynreg teen die Skrif in – Red. Byvoeging), maar is ook bereid om kritiek te aanvaar, te verwerk en te respekteer. Ons moet onsself voortdurend toets aan die Woord van God om vas te stel of ons nog op die regte pad is.
Behou fokus
In ʼn wêreld wat alhoemeer kompleks raak, moet ʼn mens jou nie blind staar teen die bos nie – sien die bome raak!
Gereformeerdes staan vas by die basiese waarhede van die lewe. Die hervormers het dit so geformuleer:
- Sola Sacra Scriptura: Dit beteken ons glo vas dat daar net een, onveranderlike riglyn vir ons lewens is – God se Woord.
- Sola Fide: Ons staan in baie verhoudings in die lewe en word deur verskillende bande in hierdie verhoudings verbind soos bande van bloed, van gemeenskaplike belange en verantwoordelikhede. Maar die belangrikste band wat mense saambind is die band wat mense in die geloof saambind.
- Sola Gratia: Die Gereformeerde gelowige leef net wérklik deur die genade van God. Alles wat ons is en het, kom van God af en is net genade.
- Sola Deo Gloria: Ons hooffokus in ons lewens moet wees om God in alles te eer en te verheerlik – soos wat Paulus in 1 Kor. 10:31 skryf: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God”
Die grootste geheim van die Reformasie is…
…. leef altyd naby God – in sy gesigsveld. Die Latyn sê dit so mooi: Coram Deo…Onder God se oë! Ons kan nooit van God af wegvlug nie (Ps. 139). Al probeer ons ons van Hom af losmaak, hou Hy ons steeds stewig vas. Watter blye boodskap om te weet God is altyd by ons. Dit versterk ons en stel ons in staat om ook te waag om die stroomversnellings van ons tyd aan te durf.
Wees kinders van die Reformasie deur te leef volgens die eise van die Reformasie. Wees altyd gewillig om te verander (reformeer!) – ook op ʼn persoonlike vlak, of miskien juis in jou persoonlike verhouding met die Here. Onderskei tussen belangrike en onbelangrike dinge en stel die grondslag vir jou lewe ondubbelsinnig.
Gaan voort in God se Krag, sy Rigting en sy Gees!
Herdenk die Reformasie deur reformerend te leef!