Geloofsrykdom inspireer en motiveer tot verdere geloofsverryking!

Deur Dr. Pieter Heystek (GK Pretoria-Montanapoort)

Die keurig uitgesoekte taal en tyding en boodskap van Petrus.  Die rykdom aan inhoud.  Die bekende verswoorde van 2 Petrus 1:5-7 maar ook die ingeboude krag en rykdom aan evangelie opgeskryf in 2 Petrus 1:3-5.  Testamenttaal in verse opgeskryf wat geloofsarmoede wegpraat en rykdom opteken in die hart en gemoed van God se kind!  In ʼn omgekrapte lewe en lewensomstandigheid kon die lesers van die tweede Petrusbrief, maar ook die 2015 n.C. leser van dié verse, hoor: GOD SE KIND IS REEDS RYK!

God gee

 Inderdaad, God gee ʼn rykdom van geloofsgoed. Die 2 Petrus 1:3 woorde.  Bomenslik maar ʼn aardse werklikheid!  Verswoorde wat getuig van oorvloed en meer as genoeg en weelde.  In Goddelike krag te gee alles wat ek nodig het om te lewe en Hom te dien.  Nietig, mens in my onvermoë en eie krag . . . .  maar die Goddelike krag van my Vader.  Onuitputlik in gee-krag. En dink ’n mens vir ʼn oomblik dat vers 3 te goed is om waar te wees, en blaai jy deur die Bybel soekend na die rykdom van God se beloftes, lees jy in 2 Kor. 9:8 raak:  “En God is magtig om alle genade oorvloedig vir julle te laat wees, sodat julle altyd in elke opsig selfversorgend kan wees en oorvloedig kan bydra tot elke goeie werk.” 

Goddelike krag kenbaar en sigbaar in Jesus Christus.  ʼn Rykdom van krag wat motiveer en inspireer.  Nie armsalig nie, maar geluksalig.  Gefokus en geïnspireer…  lewensdiens en diens aan God.  Petrus skryf en sê en verseker en bemoedig die leser.  Soos ʼn testament wat in sy bepalings ʼn werklikheid word.  En God se kind wat hoor en weet en besef dat elkeen ryk erf – ʼn geestelike rykdom van onskatbare waarde reeds ontvang om ongeag wêreldarmoede en aanslae en beperkinge te kan lewe.  Om dwaaldinge wat verkondig word  te kan onderskei en lewensgevare te kan trotseer in die lig van testamentêre bepalings wat ʼn geestelike weelderykdom onderstreep.  Geloofsryk, en om dit te besef en te beleef en nie blind te raak en te wees vir wat God wel reeds gegee het nie.

God voorsien alles wat sy kind nodig het om te lewe en Hom te dien.  ʼn Rykdom reeds ontvang wat baie meer is as wat ʼn mens-kind se verstand kan bevat.  Al God se heerlikhede en mag tot sy kinders se beskikking om te kan lewe en om Hom te kan dien.  Skatryk in die geloof… lewensweelde in die geloof.  Geloofsdankbaarheid vir ʼn erfenis om enduit te kan volhard.

Alles behalwe arm!

God gee gawes

God se kind . . . .  in werklikheid een van die rykste en mees bevoorregte persone op aarde.  Gawes in die Goddelike testament opgeskryf en uitgedeel.  Kosbare geskenke beskikbaar omdat ʼn mens God ken.  Die Gewergod wat kenbaar is in Jesus Christus.  Testamentêre uitdeelgoed wat uit die aard van die saak nie met geld gekoop kan word nie, nooit gesteel kan word nie en wat ʼn innerlike weelde bewerkstellig.  Die kosbaarste en allergrootste gawes wat die lewende Here belowe het.

Vir die geroepe en uitverkore Godskind wat in die elke dag se tyd moet lewe… het Hy sy kosbare en grootste beloftes reeds gegee.  Waardevol vir die tree vir tree leef in die lewe.  En sonder dat Petrus die gawes waarvan in 2 Pet. 1:4 sprake is in ʼn tabel opskryf, inspireer en motiveer die spesifieke vers ons om in God se testamentdokument, sy Woord te blaai en met verwondering raak te lees wat geërf is:

  • ʼn Lewe wat baie meer is as opstaan en gaan slaap (Rom. 8:9-13);
  • Opstandingslewe (Joh. 11:25; 1 Kor. 15:21-23);
  • Die Heilige Gees (Hand. 2:33; Ef. 1:13)’
  • Onuitspreeklike genade (Rom. 5:15, 20);
  • Vreugde (Ps. 132:16; Gal. 5:22);
  • Nuwe krag elke dag (Jes. 40:31);
  • Leiding (Joh. 16:13);
  • Hulp (Jes. 41:10; 13 en 14);
  • Onderrig (Joh. 14:26);
  • Wysheid (Spr. 2:6-8; Jak. 1:5).

Erfgoed wat nooit swerfgoed sal wees nie.  In God se testament opgeskryf en aan sy kind uitgedeel.  En wanneer die gelowige mens die testamenttaal van Petrus aanhoor en eintlik God se stem hoor, val die glans van Goddelike heerlikheid en ewigheid vir altyd oor ʼn mens se lewe.  Testamentêre genade wat Godskinders laat deel kry aan die lewe van God wat ryk en onverganklik is.  Die ewige lewe–  ʼn mens se ewige deel al is die aardse dae nog nie verby nie.  Skatryk in die deel kry aan die Goddelike natuur!

Om deelgenoot te wees aan die Goddelike natuur en so baie gemeenskaplik met God te mag besit, sonder om in God op te gaan of as mens vergoddelik te word.  Maar gewoon net toegerus met ʼn erfporsie wat God se kind in staat stel “om die verderf te ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is”  (2 Pet. 1:4).  God se kind, koningskind, gesterk en stewig.  Onwrikbaar op koers.  Meer as genoeg reeds geërf om met vreugde te kan lewe.  Jy wat God mag ken en die bemakings in sy testament op die bladsye van die Ou- en Nuwe Testament mag aflees en kinderlik-verwonderd in jou hand mag neem en in die diep binnekant van my hart mag koester.  Erfporsie ongekend mildelik in die ken van die Gewer wat sy Seun gegee het…  ook deel van die rykdom van die testament.  Verlos en vergewe.  Nuut en vry omdat die Heilige Gees die geloof wat mens in staat stel om kinderlik die testament te lees en die heerlike erfporsie te waardeer, in menseharte lewend hou.

God gee en dit inspireer

 Hoe wonderlik om aan geloofsverryking te dink met die woorde van 2 Pet. 1:1-7 in gedagte.  Erftaal, erfdinge, weelde, rykdom, genade.  Hoe wonderlik om in die geloof te groei, steeds meer en meer.  Met die geloof en in geloof vorentoe.  Reeds skatryk, maar juis daarom mag jy nie verarm en veragter nie.  Inteendeel:  Omdat jy begenadig is, omdat jy uitgekoop en dus uitverkies is, omdat jy kosbaar is, omdat jy uit genade reeds geloofsryk is, verryk jouself daarom, meer en meer:

  • Delf dieper;
  • Voeg by;
  • Verdiep jouself in die rykdom van die guns en genade reeds ontvang;
  • Moenie die erfporsie “opgebruik” nie, maar verdien verdere guns en godsvrug.

Die testament is gelees . . . .  jy het ryk geërf.  Moenie in die geloof verarm nie en onthou:

Arm was ek gister . . . .  nou is ek ryk.

Skatryk in die Here.

Ek dank U Here, in Christus Naam.

 

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Grietjie Prinsloo
Grietjie Prinsloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top