Deur Jacomien Zwemstra
Petrus is vir ons ʼn bekende figuur in die Nuwe Testament. Dit voel amper asof ons hom persoonlik ken en ons kan beslis leer uit sy foute en prestasies. Kyk eerstens hoe stel hy homself bekend in 2 Pet. 1:1 – hy noem homself Simon, Petrus, ʼn dienaar en ʼn apostel. En iemand wat geloof ontvang het.
Wanneer ons vers 3 lees, leer ons nog iets van hom: Hy glo dat God reeds alles aan ons gegee het “wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.”
Hy klink dus na iemand wat weet wie hy is en wat hy moet doen. Hy is Petrus, die rots, ook Simon genoem en hy het alles wat hy nodig het om God te dien.
Maar dit is nie sy volle verhaal nie. Petrus was nie altyd die rots nie. Petrus het nie altyd geweet wat hy moet doen nie. Petrus was nie altyd bereid om te dien nie. Petrus was nie altyd Petrus nie, hy was ook Simon….
Van “impulsiewe Simon” na “Petrus, die rots”…
Ons lees in 2 Petrus 1:1-3 dat hierdie verandering aan Simon Petrus gegee is deur die goddelike krag van Jesus Christus, die Verlosser. Hierdie was egter nie ʼn eenmalige geskenk wat alles in ʼn oogwink verander het nie. Hierdie geskenk is iets wat Petrus stuk vir stuk deur sy lewe ontvang het. Hy het stadig en pynlik gegroei in geloof. Hy moes toelaat dat God hom laat groei van Simon tot Petrus.
Die heerlike pad van pynlike geloofsgroei…
Kom ons kyk na Simon Petrus se lewe: Jesus roep hom om ʼn dissipel te word, om te leer hoe om ʼn visser van mense te wees (Matt. 4). Ten tye van sy dissipelskap (vakleerlingskap) sien hy baie, hy hoor baie en hy praat baie. Simon is nie bang om te vra as hy nie verstaan nie, hy is ook nie bang om sy opinie te gee nie. Hierdie kan goeie eienskappe wees, maar Simon moes leer hoe om dit reg te gebruik, want hy is ook impulsief en hy praat voor hy dink.
Ons lees dat hy soveel op Jesus vertrou dat hy bereid is om saam met Hom op die water te loop, maar net daarna begewe sy moed (geloof) hom en hy sink (Matt. 14). In Johannes 6 lees ons hoe baie van die dissipels vir Jesus verlaat, maar die twaalf bly en Petrus praat namens hulle in vers 68: “Ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”
In Matt. 16 sien ons weer die teenstrydige optrede van Petrus. In vers 16 verklaar hy hard en duidelik: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” en in vers 22 berispe hy Jesus omdat Hy van sy lyding en vernedering praat! In vers 17-19 sien ons hoe Jesus hom leer. Hy noem hom eers Simon Barjona (Simon seun van Jona) en dan sê Hy: “Jy is Petrus,…”
Jesus noem hom nie Petrus omdat Simon nou vir altyd rotsvas in die geloof gaan wees nie. Ons sien duidelik uit Petrus se optrede dat dit nie die geval is nie. Dit begin sommer in vers 22 en 23 al! Ons lees ook hoe hy hierna weier dat Jesus sy voete was (Joh.13), hoe hy aan die slaap raak in Getsemane (Matt. 26), hoe hy die slaaf se oor afkap (Mark. 14) en hoe hy Jesus verloën (Joh.18).
Jesus noem hom Petrus omdat Jesus hom wil leer om Petrus te wees. Jesus wil deur al die foute wat Simon maak, sy geloof verryk, sodat hy ʼn rotsvaste geloof kan hê en dit met ander kan deel.
Daarom vat Jesus hom saam na die verheerliking op die berg (Matt.17) om te sien en hoor dat sy Rabbi die Seun van God is, al het Jesus geweet hy gaan die dom opmerking maak om hutte te bou. Daarom bly Jesus geduldig met hom toe hy nie sy voete wil laat was nie en ook toe hy van plan verander en vra dat sy hande en gesig ook gewas moet word (Joh. 13). Daarom waarsku Jesus hom dat hy Hom gaan verloën (Joh.13:36-38) en Hy vergewe hom ook wanneer hy Hom wel verloën. Ons lees dit in Johannes 21. Daar sien ons dat Petrus berou het en besef hy moet in die toekoms anders wees, maar ons sien ook dat hy nog dieselfde Simon is. Hy neem die leiding dat hulle moet gaan visvang (vers 3) en hy spring impulsief in die water om gouer by Jesus te kom (vers 7). In vers 15-19 praat die Here weer met hom om hom te versterk vir sy taak. Tog sien ons in vers 21 dat selfs dit nie maak dat hy bang is om vrae te vra nie. Selfs vrae wat dalk onnodig klink, maar Jesus bly steeds geduldig met hom.
God gee alles wat nodig is vir geloofsgroei
Simon was bereid om te leer, al was dit nie maklik nie en die gevolg daarvan was dat hy Petrus word. Petrus wat weet hy het alles wat hy nodig het van God ontvang.
Ons het ook alles wat ons nodig het om God te dien van God ontvang. God noem ons Christene. Mense wat deel het in Christus en soos Christus moet lewe. Dit beteken nie dat ons dit doen nie, dit beteken dat dít is wat God vir ons wil hê. Ons moet bereid wees om God se dissipels te wees. In 2 Pet. 1:2 praat Petrus van “julle kennis van God” en in vers 3 sê hy “Dit kom deurdat ons Hom ken…” Ons kan God leer ken deur sy Woord
Daarom moet ons ywerig studeer sodat ons kan groei van ʼn wankelrige, Simon-geloof tot ʼn rotsvaste Petrus-geloof.