Deur Ansu Heyns, Hannelie van Dam en Ankie de Klerk
Op 25 Oktober 1890 is ons kerk gestig met die hoeksteenlegging wat plaasgevind het op 14 Junie 1891. Ons het begin met 106 lidmate. Die eerste kerkgebou is in Januarie 1891 in gebruik geneem en het slegs R3 680 gekos. Hierdie gebou is gedurende die oorlog deur die Rooikruis as ’n hospitaal gebruik. In daardie stadium was ons 137 belydende- en 136 dooplidmate.
Omdat die kerkgebou later uitmekaar begin val het, is daar in 1944 besluit om die kerk te herbou. Die huidige kerkgebou is in 1969 gebou. Daar was altyd van ’n voorsanger gebruik gemaak en in 1917 is ’n rietorrel aangekoop vir slegs R200. Op 25 Oktober 1980 is ’n nuwe orrel amptelik in gebruik geneem – een wat ingevoer is van die gemeente uit Apeldoorn, Nederland nadat die kerk daar gesloop is omdat dit in dit in ’n industriële gebied gestaan het. Die orrel is ingevoer teen die koste van R12 700 en is deur ’n paar lidmate self geïnstalleer.
Ds. Pieter Kurpershoek is tans ons predikant en die veertiende predikant en hierdie gemeente.
Ons het op 25 Oktober 2015 ons 125ste bestaansjaar gevier.
Vandag is die lidmate net so vernuftig en dienend aan die werk in Middelburg as so baie jare tevore…
Middelburg gemeente reik uit na Belfast Kinderhuis…
Die Belfast Kinderhuis Diensgroep is al vir ’n paar jaar deel van Middelburggemeente se uitreik na buite. Die doel van die uitreik is om ook Jesus se liefde prakties te gaan uitleef daar waar die behoefte so groot is.
Elke maand is daar ander vrywilligers wat aanmeld om saam met die diensgroep ʼn partytjie te gaan aanbied aan al die kinders wat gedurende die maand verjaar het. Met groot sorg word al die lekkernye dan aangery na Belfast. Die tafel word feestelik gedek en dan kom die groot bederf!
Die kinders kry heerlike bederfpakkies: koeldrank, roomys en kolwyntjies met ʼn kersie vir elkeen om dood te blaas. Na ʼn bietjie eet en geniet bied ons ook elke jaar iets spesiaals aan. Hierdie jaar bied Hannetjie Venter vir hulle ʼn Monkeynastics-program aan wat telkens vet pret is! Elke kind wat agtien jaar oud word ontvang dan ook ʼn Bybel in die taal van sy of haar keuse.
Elkeen wat betrokke is by hierdie uitreik word elke keer so geseën deur hierdie spesiale interaksie met die kinders. Ook ons skoolkinders word hieraan blootgestel en ervaar telkens weer ʼn diepe dankbaarheid oor alles waarmee hulle geseën is.
Die maak van kaartjies
Elke jaar met ons eerste sustersvergadering kom die dames bymekaar en span elke kreatiewe breinsel in. Ons maak dan die mooiste (vir ons!) kaartjies op die ‘scrapbook’-manier. Oud en jonk kom bymekaar – van negejariges tot dié wat drie en tagtig is. Daar is geen reg of verkeerd nie – die kaartjies word net met liefde gemaak. So tussendeur maak ons koffie – al vergeet ons soms om dit te drink. Selfs dames wat keer op keer sê hul kan dit nie doen nie, maak die mooiste kaartjies.
’n Mens word so geïnspireer deur die ander dat jy nie anders kan as om ook mooi kaartjies te maak nie. Skoon karton word vooraf gesny sodat dit in die lang koeverte kan inpas.
Hierdie kaartjies het ʼn spesiale doel: ons kosbare bejaardes. Almal bo sestig jaar word met hul verjaarsdag met een van hierdie spesiaal gemaakte kaartjies bederf – mans en vrouens. Ons probeer dit só maak dat dit gepas is vir beide geslagte. Indien daar nie genoeg kaartjies vir die hele jaar is nie, kom ons sommer op ʼn Saterdagoggend weer bymekaar en maak nog kaartjies. Dis ʼn heerlike ontspanne kuiertyd waarna ons elke jaar uitsien.
Deelname aan die Mannaprojek
Hier in Middelburg is ʼn projek aan die gang naamlik die Mannaprojek. Kerke in die dorp kry geleentheid om op verskillende maande gevriesde kospakkies na die SAVF se maatskaplike kantore te neem. Dit word dan weer op Maandae, Woensdae en Vrydae uitgedeel aan boemelaars, bedelaars of mense wat kom vra vir kos. Daar is van tyd tot tyd selfs gesinne wat daar kom eet. Die kos word daar warm gemaak en gegee om daar te eet.
Die idée is om tuis na elke ete ʼn ekstra bord kos te vries. Ons het dit verander omdat ’n mens nie altyd plek in jou vrieskas het vir los bakkies kos nie. Ons reël vooraf wie almal gaan kos maak en wie kan kom pak en dan word die gaar kos tydens een van ons Sustersvergaderings kerkkombuis toe gebring en daar verpak. Op dié manier kry jy op een slag ʼn groot hoeveelheid kospakkies wat dan by die SAVF se maatskaplike kantore afgelewer word. Ons het spesiale langwerpige bakkies met ʼn deksel wat goed seël vir hierdie doel aangekoop. Dit verpak baie beter in ʼn vrieskas as die ronde bakkies en pakkies wat in plastieksakkies gevries word.
Weereens word daar so tussendeur gekuier en koffie gedrink. Dis mos wat ons vrouens baie goed kan doen.
Belfast Rusoord
Elke Oktobermaand, as deel van ons vergaderings, bak ons kleinkoekies. Almal wat bydra bak sommer by die huis en bring dit kerkkombuis toe. Hier verpak ons dit in sakkies met ʼn mooi lintjie en kaartjie. Die dag daarna besoek ons Belfast Rusoord en deel aan elke bejaarde ʼn pakkie koekies uit. (Dié wat diabete is word net baie goed dopgehou deur die verpleegpersoneel.) Ons probeer om net na middag-ete daar te wees. Sodoende kry ons meeste bejaardes nog in die eetsaal. Van ons gaan eetsaal toe, ander gaan pakkies by die kamers uitdeel en ʼn ander groepie gaan na die woonstelle. Sodoende glip een nie verby kamer toe en mis so ʼn pakkie nie.
Die dankbaarheid van die bejaardes laat jou skoon ʼn traan in die oog kry. Dis heerlik om die kommentaar op die uitdeel van die koekies aan te hoor:
- “Dankie, dankie, dankie!”
- “Julle is dierbaar.”
- “Sê vir almal dankie!”
- “Hoe’t jy geweet ek het nou-net tee gemaak?”
Vir baie is dit die enigste mense wat hul nog besoek. Ander verstaan weer nie dat hul iets verniet kan kry nie. Dis die wonderlikste voorreg om ʼn glimlag op hul gesigte te sit met iets so eenvoudig soos ʼn pakkie koekies. Daar is van hulle wat dadelik die ketel gaan aansit en net wil kuier. Maar dan is daar ook die hartseer tye as die buurman se deur onbeantwoord bly en jy moet hoor hy is die vorige aand oorlede. Met dankbaarheid weet jy dat hy darem verlede jaar deel van ons liefde ervaar het.
Ek dink die geselsies en drukkies wat ons daar kry beteken vir ons baie meer as vir hulle. Dit laat ’n mens net weereens besef hoe kosbaar ons bejaardes is.
Vir ons lesers wil ons net sê: Besoek jou familie so veel as moontlik – of hul in hul eie huise bly of in ʼn ouetehuis. Dalk is hulle môre nie meer daar nie.
Donasies
Deur die loop van die jaar maak ons fondse bymekaar. Ons het ʼn koekblikprojek wat loop. Een suster gee vir ʼn volgende dame op die lys ʼn lekkerny in ʼn koekblik en die een wat ontvang gee donasie vir susterskas. Dit word herhaal na die volgende suster op die lys tot en met ons laaste vergadering van die jaar.
Elke suster betaal ook ʼn bedrag van haar keuse elke maand in die susterskas in. Hierdie jaar het ons weer ʼn oggendtee gehou vir fondsinsameling. By die SAVF se Izak Badenhorstsaal het ons saam ʼn heerlike oggend gekuier met plaaslike sangers as ons kunstenaar – ons probeer dit elke jaar plaaslik hou. Ons spreker was Elna Schoeman, ʼn puik spreker van Bethal wat almal met haar positiewe geaardheid geïnspireer het. Die gasvrouens kon hul tafels dek soos hulle wou – dit het feestelik gelyk. Ons voorsien al die drinkgoed en die bestuur sorg vir drie sout- en drie soet-eetgoedjies vir elke tafel. Met hierdie oggend het ons ʼn paar duisend rand ingesamel.
Met ons afsluiting aan die einde van die jaar gaan eet ons gewoonlik saam, hou die laaste vergadering van die jaar en kies ook die nuwe bestuur vir die volgende jaar. Hier besluit ons op twee of drie liefdadigheidsorganisasies waartussen ons die fondse wat ons deur die jaar bymekaar gemaak het, verdeel.