Vroue van die Reformasie
Deur Jozelle Smit
In 1539, in die Italiaanse stad Ferrara, is die hof van die Hertog van Este, wat in beheer was van die stad gekenmerk deur die spanning tussen Hertog Ercole II en Hertogin Renée. Ercole het beheer van die stad oorgeneem na sy vader se dood. Ferrara was in hierdie tyd ʼn glorieryke stad omdat die Hertogshuis hard geveg het om hul onafhanklikheid te behou onder die gereelde aanslae en bedreigings van hul “bure” – die Pous aan die een kant en die republiek van Venesië aan die ander kant.
Hertogin Renèe, die dogter van Koning Louis XII van Frankryk, was ʼn baie intelligente vrou, opgevoed in die Protestante geloof. Die spanning in die hertogshuis het hoogtepunt bereik toe die hertogin se swaer begin het om protestestante te vervolg en terug te stuur Frankryk toe.
Dit is te midde van hierdie kontrasterende omstandighede waarin die Here die 12-jarige Olympia Morata gebruik wanneer sy opgeroep word om die jongste dogter van die hertogspaar te onderrig. Dit was ʼn posisie van groot eer wat haar te beurt geval het te danke aan haar pa. Baie vroeg in haar lewe het haar pa, ʼn lektor in Latyn en Italiaanse literatuur, gesien dat sy dogter ʼn gawe het. Hy het haar daarom groot gemaak met ʼn liefde vir klassieke literatuur en haar opgevoed in die Protestantse geloof. Op die ouderdom van twaalf was sy Latyn en Grieks magtig wat haar baie merkwaardig gemaak het.
Dit is wonderlik om te sien hoe die Here hierdie dogtertjie, en later vrou, gebruik het om die geloof te bevorder. In 1547, op 22-jarige ouderdom keer Olympia terug huis toe waar sy help om haar siek vader te versorg. Na haar pa se dood later in hierdie jaar, keer sy terug na die hof van die hertogdom. Sy word egter haar eertydse posisie geweier. Die spesifieke rede vir haar afdanking is nie bekend nie, maar die oortuiging bestaan dat daar valse aantygings oor haar gemaak is, op grond van haar Reformatoriese agtergrond en geloof.
Begeerte om God waarlik te leer ken
In hierdie neerdrukkende omstandighede keer Olympia terug huis toe – sonder enige vooruitsigte om haar studies te kan voltooi. Maar ʼn nuwe begeerte ontvlam in haar hart: Om die ware God van die Skrif te leer ken.
Net so onverwags as wat die skielike staking van haar studies haar getref het, betree ʼn nuwe karakter haar lewensverhoog: Andreas Grunthler, ʼn mediese dokter van Schweinfurt, Duitsland. Hy het dieselfde gereformeerde geloofsoortuigings as Olypmia gehad, hulle deel ook ʼn liefde vir literatuur, gedigte en akademiese studies. Die paartjie trou aan die einde van 1549.
Politieke bedreigings
In sterk kontras met die voorspoed wat Olympia in haar persoonlike lewe beleef, het die politieke situasie in Italië ondraaglik geword vir die Protestante. Die enigste opsies op hierdie stadium was om te vlug of om doodgemaak te word.
Andreas en Olympia het gevlug en die 500 myl lange reis van Ferrara na Schweinfurt aangepak. Met al sy godsdienstige beperkings en vyandelikhede ten spyt was Duitsland veiliger as Italië. Hier het die egpaar tuisgegaan by vriende en familielede. Hulle is versterk in hulle geloof omdat hulle nou vrylik toegang gehad het tot teologiese boeke, Bybelstudie en ook deel was van ʼn kerk. Dinge wat maar net ʼn idille was in haar tuisdorp, Ferrara, waar protestante nou swaar gebuk gegaan het onder die vervolging van Pous Julius III.
Vertaalwerk
Hier het Olympia, nou ʼn toegewyde vrou en ma, die projek voltooi het wat sy alreeds in Ferrara begin het – die vertaling van psalms in Grieks. Haar vertaling van die Psalms was nie akademies gerig nie, alhoewel haar breedvoerige kennis van die Griekse taal en die Woord duidelik na vore gekom het. Die doel met hierdie vertalings was om dit wyd te versprei onder Reformatore wat die Septuaginta goed geken het, sodat alle gelowiges regoor die wêreld die Here saam kon loof. Dit is waarskynlik so dat haar man gehelp het om die Psalms te toonset.
Hierdie vertalings van Olympia kan as een van haar glorierykste prestasie gesien word nie. So het sy bekendheid verwerf en deur die vertaling kon sy Reformatore aanmoedig om te volhard.
Getrou onder alle omstandighede
Die dreigende oorlog en verwoesting in Schweinfurt in 1553, dwing die gesin om na Heidelberg te vlug nadat hulle hul huis en besittings verloor het toe die dorp afgebrand is. Hulle word eers gevangene gehou in ʼn naburige dorp waaruit hulle egter ontsnap.
Die verwoesting en oorlog het groot ellende en siektes tot gevolg gehad. In hierdie tyd word Andreas ’n professoraatskap aan die Mediese fakulteit van die Universiteit van Heidelberg aangebied.
Olympia se gesondheid het nooit weer volkome herstel nie – na aanleiding van die simptome wat sy in haar briewe en gedigte noem word daar afgelei dat sy aan tuberkulose gely het. Sy word ook ʼn pos by die universiteit aangebied alhoewel die besonderhede daarvan nie bekend is nie. Indien sy ʼn amptelike pos aangebied is, sou sy die eerste vrou gewees het wat hierdie eer te beurt geval het. Sy het die pos egter van die hand gewys as gevolg van haar swak gesondheid.
“I long to fade away,
so great is my confidence in Christ,
and to be with him in whom my life thrives.”
Met die woorde van haar laaste gedig, sterf Olympia Morata op die 26 Oktober 1555 – kort voor haar 29ste verjaarsdag.
Wat merkwaardig is van haar kort lewe is hoe die Here sy getrouheid in haar lewe geopenbaar het en hoe sy onder alle omstandighede – hetsy die gemak van die hof van ʼn hertogdom of die felheid van vervolging – getrou gebly het.
Wanneer ek haar lewensverhaal lees, wonder ek hoe haar lewe sou wees as dit verloop het soos wat sy dit self beplan het. Maar die Here het die beste geweet: haar grootste gawe, haar akademiese vermoëns, wat eers teleurstelling gebring het, was aan die einde dié gawe waarmee sy haar grootste bydrae tot die Reformasie gemaak het – alles tot eer en verheerliking van die Here.
Bronne gebruik :
http://heroinesofthefaith.blogspot.co.za/2012/02/olympia-morata.html
http://www.reformationitaly.org/2011/01/olympia-morata-champion-of-the-reformation/