Deur Dr. Trudie Grobbelaar
Ek is ’n weduwee wat net vir my seun gelewe het, maar is nou verby moedeloos met myself en voel so skaam daaroor. Hy is nou klaar met universiteit en het Australië toe geëmigreer waar hy ’n baie goeie pos aanvaar het. Dit voel egter vir my of ʼn baie belangrike deel van my lewe uit my geruk is. Ek vind myself gedurig in sy kamer, kyk met verlange na al sy foto’s, is skielik lus vir niks, het my eetlus verloor en dit voel selfs asof ek permanente ’n fisieke pyn in my hart ronddra. Ek weet as Christen, dat ek het nog baie seëninge het, maar waarom is dit vir my so seer en is ek totaal uitsigloos? Linda
Jou moedeloosheid verbaas my glad nie. Jy is ook nie selfsugtig nie. Vanweë die uitsigloosheid wat jy nou beleef, klink dit eerder of jy geweldig eensaam, waardeloos en doelloos voel. Dit alles is simptome van depressie, ’n algemene fase van die rouproses oor jou verlies. Jou lusteloosheid, verminderde eetlus en permanente fisiese pyn, versterk die moontlikheid van depressie.
Jy hoef egter nie skaam te voel nie! Christene is nie gevrywaar teen krisisse in hierdie sondedeurdrenkte wêreld nie. Jy moet saam met Paulus bid dat God deur sy Gees, uit die rykdom van sy heerlikheid vir jou die krag sal gee om innerlik sterk te word (Ef. 2:16). God het jou op hierdie pad geplaas met ’n doel (Rom. 8:28), moontlik om te besef dat Hy die Een is wat totaal in beheer is van jou lewe en om jou te leer om ten alle tye op Hom te steun.
Jy hoef ook nooit waardeloos of eensaam te voel nie. Mag jy Christus se liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, sodat jy heeltemal vervul kan word met die volheid van God (Ef. 3:19). Daarvoor het Christus vir jóú gesterf en sit Hy nou aan die regterhand van God, waar niks jou van sy liefde kan skei nie (Lees Rom. 8:35-39).
Gelowiges is nie gevrywaar teen depressie nie. Daarvan getuig talle persone in die Bybel, soos Moses (Num. 11:11-35), Job (Job 6:8-9), Elia (1 Kon. 19:4), Jeremia (Jer. 20) en die talle Psalms van Dawid wat op een of ander vorm van depressie of uitsigloosheid dui. Hulle het hul pyn aan God bekend gemaak en God het hulle elkeen op ’n besondere wyse gehelp. Kyk maar hoe sag het God met Elia gewerk: Hy het hom laat rus, eet, slaap, oefen en weer ’n doel gegee(1 Kon.19:5-19). So werk die Here ook met Moses in sy moedeloosheid (Num. 11:12-35) en met Job (Job 38:1-39:35).
God kan ook jóú verlammende innerlike pyn verlig as jy totaal op Hom fokus en al jou sorge aan Hom bekend maak (Fil. 4:6-7).
Praktiese wenke:
- Memoriseer Klaagl. 3:24. Gaan stap dan gereeld terwyl jy jou gedagtes daarmee besig hou. Oefening skei endorfiene af en vernietig streshormone soos kortisol en adrenalien wat jou boonop fisies baie beter laat voel.
- Hou, ongeag jou swak eetlus, aan om gesond te eet sodat jy jou liggaam se weerstand teen siektes en spanning opbou word.
- Kuier gereeld by positiewe vriende. Sluit aan by ʼn Bybelstudiegroep.
- Raak betrokke by projekte van jou gemeente of omgewing waar jy vir ander mense van waarde kan wees (Gal 6:2).
- Begin ’n nuwe stokperdjie/projek wat jou weer nuttig laat voel.
- Praat met iemand soos ’n pastorale berader, wat sal jou help om jou situasie te verwerk.
Baie sterkte!