Jesus se volkome oorgawe aan sy Vader

Deur Ankie de Klerk

“Vader, in u hande gee Ek my Gees oor” (Luk. 23: 46).

In hierdie woorde wat Jesus aan die kruis sê kom die gerigtheid deur sy hele lewe op aarde na vore: Om die wil te doen van sy Vader.

Ons gedenk weer die gebeure rondom die laaste Pasga wat Jesus saam met sy dissipels gevier het. ’n Mens staan in jou gedagtes stil by die intense lyding wat ons Heiland vrywillig verduur het – vir die mensheid wat voortbeur met selfsugtige haas ter verwesenliking van ’n spul ideale, waarvan baie nie gerig is op enige vlak van gehoorsame navolg van God se wil nie!

Jesus Christus se getroue navolging en uitleef van sy Vader se wil kom duidelik na vore in etlike insidente tydens sy menswees op aarde.

In opdrag van sy Vader

Hy het op die ouderdom van twaalf jaar saam met Josef en Maria die Pasga in Jerusalem gaan vier. Hy was ná die fees nie tussen al die pelgrims wat teruggekeer het nie. Toe hulle na ’n soektog van drie dae uiteindelik by die tempel uitgekom het, waar Jesus al die tyd was, het Hy verwonderd gereageer: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” (Luk. 2: 49). Dit was vir Hom lekker en vanselfsprekend om daar te wees, maar ons kan uit die gebruik van die woord moet  aflei dat Hy in opdrag van sy Vader daar was. En dat Hy gehoorsaam so gemaak het.

Jesus voldoen aan die Vader se wil

Dan lees ons in Matt. 3: 13 – 17 die weergawe oor Jesus wat deur Johannes die Doper gedoop word. Hoe sou dit vir enigeen van ons predikante en teologiese leiers gevoel het as Jesus gevra het om deur een van hulle gedoop te word? Ons is nie verbaas nie as ons lees dat Johannes sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?” (v. 14). Jesus se antwoord gee die deurslag: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” Hy doen wat God die Vader wil.

Jesus onderwerp Hom aan die Vader se plan

Die versoeking deur Satan in die woestyn het direk gevolg na Jesus se doop. Hy is deur die Heilige Gees na die woestyn geneem en Hy bly gewillig daar vir veertig dae lank, al het Hy honger gely en al is Hy die hele tyd (volgens Markus en Lukas) deur die duiwel versoek. Dit moes ’n uitmergelende tydperk gewees het, om só geestelik en liggaamlik afgetakel en aangeval te word. Hy het Hom egter volkome aan God se plan vir Hom onderwerp.

Jesus dink aan wat sy Vader wil hê

Net nadat Petrus gelei is om te bely dat Jesus die Christus, die Seun van God is, begin Jesus om sy dissipels voor te berei vir wat met Hom gaan gebeur – dat Hy doodgemaak sal word en op die derde dag weer uit die dood opgewek sal word. Petrus reageer heftig daarteen. Dan sê Jesus vir Petrus: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê” (Matt. 16: 23 en Mark. 8: 13). Hier kry ons weer die duidelike boodskap dat Jesus selfs enige aksie om teen sy versoeningsdaad (en daarmee sy onderdanigheid aan sy Vader se wil) in te gaan, teen sy lyde en sterwe om die straf vir die mensdom op Hom te neem, ten sterkste veroordeel.

Jesus vra na die Vader se wil

So is die gebed wat Jesus vir sy dissipels voorhou en wat ons as die Onse Vader ken, nog ’n weerspieëling van hoe hulle én ons in Jesus se voetstappe moet volg. Die derde bede lui: “Laat u wil geskied…” Net voordat die soldate met Judas Iskariot op die voorpunt Hom kom arresteer, bid Jesus in die tuin van Getsémane en vra dringend, met angssweet wat op sy voorkop vorm, of die lyding wat voorlê by Hom kan verbygaan. Direk nadat Hy dit gebid het, plaas Jesus Homself gewillig onder God se besluit hieroor: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

Jesus doen altyd wat sy Vader wil

In sy gesprekke met die Skrifgeleerdes kom Jesus se oorgawe aan sy Vader baie duidelik na vore (Joh. 8: 28, 29): “Daarna sê Jesus vir hulle: ‘Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, en dat Ek niks uit my eie doen nie maar net verkondig wat die Vader My geleer het. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil.’” ’n Aantal verse verderaan lees ons: “Ek het immers ook nie uit my eie gekom nie, maar Hy het My gestuur” (v. 42). In Joh. 12: 49 en 50 verklaar Hy weer: “Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat. En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe beteken. Wat Ek sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het.”

Jesus gehoorsaam aan die Vader tot in die dood

Die apostel Paulus skryf ’n lofgedig oor Jesus se gesindheid in Fil. 2: 5 – 11 en lig daarin uit dat Jesus Homself só volkome aan God die Vader oorgegee het dat Hy Homself verneder het, “Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”

Wat ’n wonderlike Verlosser het ons, Een wat deur sy Vader gestuur is, en wat perfek gedoen het wat nodig was om ons vir ewig by Hom in heerlikheid te kan verwelkom!

Halleluja!

 

 

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Grietjie Prinsloo
Grietjie Prinsloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top