Deur Prof. Ben de Klerk

 Ek vermoed dit is ʼn dame wat per sms die volgende vra: “Dankie vir die lering oor gebed. Kan u ons meer oor intersessie en gebed leer?”

Ons gebruik nie dikwels in Afrikaans die begrip “intersessie” nie. Intersessie beteken volgens ons Verklarende Woordeboek voorspraak of tussenkoms. Die Engels “intercession” word in Afrikaans vertaal met voorbidding, voorbede, bemiddeling en ʼn “prayer-meeting” met voorbiddingsdiens. Intersessie is ʼn wonderlike begrip want dit beteken dat ons vir persone of organisasies intree by God en hierin vertoon ons Christus se beeld. Hy is die groot Voorbidder wat altyd vir ons by die Vader intree (Rom. 8:34; 1933/53) en vir ons by God vir ons pleit (1983). Meer nog, wanneer ons nie weet hoe en wat om te bid nie, tree die Heilige Gees vir ons in (1953), pleit Hy vir ons (1983, Rom. 8:26) met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie.

Opgeroep tot intersessie

Daar is plekke in die Bybel waarin die Here ons oproep om voorbidding te doen. Een voorbeeld is 1 Tim. 2:1 en 2 waar ons opgeroep word dat met voorbidding vir alle mense gebid moet word, ook vir dié wat regeer en almal wat gesag uitoefen. Ons behoort ons te verbind om in al ons gebede behalwe om die Here te loof en te dank, Hom te smeek, ook voorbidding vir ander te doen. Ons kan met vrymoedigheid voor die Here verskyn omdat Christus die groot Priester is wat ons toegang tot God gee, omdat ons geheilig is deur sy bloed en omdat ons die belofte het dat die Heilige Gees ons in ons gebede sal lei.

Ons tree nie net in en pleit vir mense en organisasies omdat die Here ons beveel om dit te doen nie, maar ons wil omdat die Here sulke persone en organisasies op ons pad bring. Meer nog, omdat ons deur ons voorbidding hulle in God se teenwoordigheid bring en so, sonder dat hulle dit dalk weet, Christus se liefde aan hulle deurgee. Liefde en gebed gaan saam en ons kan die omvang van ons liefde ook meet aan die omvang van vir wie almal ons voorbidding doen. Wanneer ons vir iemand bid, groei ons liefde vir so iemand en deur selfs vir Christus en ons vyande te bid, kom ons Christus se opdrag na om selfs ons vyande lief te hê.

Die omvang van intersessie

 Die voorreg om in te tree en te pleit vir ander, is omvattend. Ons kan dit met konsentriese sirkels vergelyk. Die binneste sirkel is die mense wat die Here elke dag op ons pad bring: Lewensmaats, kinders, ouers, familie, kollegas by die werk, huishulpe en tuinwerkers. Dit beteken nie dat ons net eers vir die binneste sirkel voorbidding moet doen en dan vir ander nie. Die Here bring deur radio, televisie en nuusblaaie mense op my pad: Byvoorbeeld die vervolgde Christene in Soedan en ander plekke waar Isis Christene teiken en onthoof. Betogers wat eiendom vernietig en mense verhinder om hulle werk te doen. Die voorbidding is nie net dat hulle harte sal verander nie, maar dat die Here hulle in hulle kwaad sal stuit. Ons behoort die nuusgebeure dop te hou en selfs met skietgebede vir die wat in nood verkeer, in te tree. Die gelowige se voorbiddingsgebede kry so vlerke en op hierdie manier laat die Here ons die grense deurbreek waarin ons gebede verkeer deur bysiende net vir eie omstandighede te bid.

Voorbidding raak ook die wêreld om ons met sy siekes, armes, woestaards en selfs vir dié met wie ons minder goed klaarkom of met wie ons verskil. Laat ons onthou dat die gebed van die gelowige groot krag het.

Leer oud en jonk om vir ander in te tree

 Ons kinders leer nie gebede deur reëls vir gebede te gee nie. Hulle leer deur voorbeeld. Dikwels is ons saam met die kindjie in sy/haar binnekamer en luister ons na hulle opregte en soms verrassende gebedjies. Ons kan hulle begelei om met hulle gebede die grense van hulle ervaringswêreld te deurbreek. Ons verswakte bejaardes kan met hulle gebede uit die siekekamer oral in die wêreld kom. Wanneer ons ons gebede begin deur die Gees te vra om ons te lei, en ons onder sy leiding vooraf dink oor wat ons moet bid, sal ons gebede verryk word.

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Picture of Grietjie Prinsloo
Grietjie Prinsloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top