Deur Jo van Rooyen
Afskeid is swaar al sê een of ander slim Engelse filosoof: “To part is the lot of mankind”. Om afskeid te neem van ʼn geliefde wat weg trek, dalk immigreer of van ʼn geliefde wat jy aan die dood afstaan, bly swaar.
Ons moeders van die grensoorlogdae onthou steeds hoe swaar ons van ons seuns moes afskeid neem: Hulle is na ʼn versamelpunt geneem met tandeborsel, onderklere, ʼn sportbroek of twee en ʼn nuwe klein toerits-Bybel met ʼn briefie van Ma daarin versteek. Niks meer is toegelaat nie. Die aflaai was erg want die groet van jou seun-man moes nie emosioneel wees nie – nie voor sy maats, toekomstige maats en in die teenwoordigheid van die hardebaard “soldate in uniform” nie. Sy herhaaldelike preek tydens die rit soontoe: “Ma, as Ma huil sluit ek permanent aan!”
Tuis was sy kamer leeg, maar sy klerekas steeds vol. Geen vuil koppie langs sy bed nie. My kind is weg en ek weet nie eers waarheen nie. Daardie afskeid was baie moeilik. Ek en sy beste maat se ma het dikwels saam tande gekners en geween. Dit was twee moeilike jare vir die grens-ma’s. Die langhaar seuns het onherkenbaar, as fris jong manne met borselkop en skurwe elmboë, huis toe gekom. Net om na ʼn paar dae weer te moet teruggaan en nooit het die afskeid makliker geword nie.
Afskeid van watter aard is moeilik.
Die dissipels van Jesus Christus moes ook afskeid ervaar. Hulle moes toekyk hoe Hy, hulle groot vriend en leier, hulle leermeester, voor hul oë van hulle af weggaan en hulle agterlaat. Hulle het toe reeds die groot wonderwerk, sy oorwinning oor die dood beleef. Hy het hulle voorberei op die afskeid wat sou kom. Hierdie wonder, sy opstanding uit die dood, is sonder twyfel na sy kruisiging aan hulle bevestig deur sy verskyning aan hulle as ware en lewende wese. Hy het saam met hulle geëet en vir die twyfelaar Tomas gesê: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande”.
Nou gaan Hy weer weg en hulle kan nie saam nie. Hy neem afskeid van hulle en hierdie wêreld om weer terug te keer na sy Vader se huis maar met dié troos dat hulle, sy dissipels, en ons, sy kinders, die krag van die Heilige Gees sal ontvang en dat ons nie alleen agtergelaat word nie. Sy afskeid is tydelik en relatief, want Hy is, deur die Heilige Gees, steeds met ons soos wat Hy toe reeds aan die dissipels belowe het. Daarmee saam kom die groot belofte en versekering dat Hy weer op die wolke sal kom net soos wat Hy gegaan het. Christus vaar op na die Vader en laat ʼn erfenis van hoop en vertroue na, met die sekere wete dat, wanneer Hy weer kom, die dood finaal oorwin sal wees en dat sy kinders saam met Hom die Lewe sal ingaan.
“Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie” (Hand. 1: 7). Nie eers sy troue volgelinge wat saam met Hom op aarde was, is toegelaat om God se groot geheim te ken nie. God alleen weet wanneer daardie wonderbare wolk weer sal verskyn, daarom moet ons as lewende offers bly leef, uiteindelik sterwe, om eendag, saam met Hom, daardie dag te kan beleef. Soos sy dissipels stip na die hemel gekyk het, moet ons ook ons oë stip op Hom gerig hou tot Hy weer kom op die wolke op daardie laaste en finale dag wat net God ken.