Hoe kan ons die preek wat ons gehoor het, uitdra en uitleef in ons omgewing?

Die eggo van ʼn preek

Hierdie is ʼn belangrike vraag. Hoekom? Paulus skryf aan die gemeente in Tessalonika en hy dank die Here dat die Woord van hulle af weerklink het selfs verder as hulle onmiddellike omgewing (1 Tess 1:8).  Die preke van Paulus-hulle het soos ʼn eggo deur die woorde en manier van lewe van die gemeente al verder getrek. ʼn Preek mag nie stol in die banke of in die gebou waar dit gepreek is nie. Die preek moet saam met die lidmate uit na hulle huise, werksplekke en waar hulle ook al kom. Die vraag is dan: Hoe kan ons die preek uitdra en uitleef?

Hoe luister ek na die preek?

 Die eerste belangrike voorwaarde vir die verdere eggo van die preek is die manier waarop ons behoort te luister na die preek. Wanneer ons net luister om self versterk of vertroos of vermaan te word, maak ons ʼn groot fout. Ons moet versterk, getroos en vermaan word, maar dit is nie al nie. Ons moet so gefokus luister dat ons die hele tyd vir onsself afvra: Hoe kan ek hierdie boodskap vir my lewensmaat, my kinders of kollegas of vriende vertel? Ons is draers van God se boodskap aan die wêreld. Verder moet ons vra: Hoe kan ek ander troos, versterk en vermaan met my verduideliking en eie toepassing van die preek? Verder is dit belangrik om gedurende en na die preek ʼn persoonlike verbintenis te maak om die boodskap uit te dra en om nie die preek dood te swyg nie.

Vertel in jou eie woorde oor

Die enigste manier om ʼn preek te onthou en te kan uitdra is om die preek in jou eie woorde vir iemand te vertel. Begin dalk by jou huismense, en kyk dan wie die Here op jou pad bring aan wie jy die preek in jou eie woorde kan oorvertel. As die preek net by die ore ingaan en nie by die hart en mond uitgaan nie, sal ons baie gou vergeet wat die Here in sy Woord en deur sy dienskneg gesê het. As ons onmiddellik na die diens met medegelowiges oor die boodskap kan praat en ook luister na wat hulle in die Woord en preek getref het, het ons klaar iets om verder oor te dra. Sommige lidmate het ʼn goeie gewoonte om belangrike dinge gedurende die preek neer te skryf. Dan kan ons met ʼn e-pos of ander elektroniese apparaat die gedagtes en toepassing van die preek nog verder, selfs na ander lande, oorbring.

Vertel! Getuig!

Nou kom die belangrike toets: Gaan ons stilbly of Maandag en die ander dae van die week die preek in ons eie woorde met ons eie toepassing oordra? Dit vra geloofsmoed om te praat met bekendes en selfs met onbekendes, want ons is soms soos introverte wat moeilik getuig van ons geloof. Ons is ekstroverte wat baie kan sê oor politiek, sport en sensasionele nuus in die media. Jesus gee ʼn wonderlike belofte wat ons moet aangryp (Matt. 10:32): “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is”. Dit kan ook deur die eggo van die boodskap gebeur. Hy waarsku egter ook dat as ons swyg en so Hom verloën, sal Hy ons ook verloën voor sy Vader wat in die hemel is.

Behalwe dat ons met ons lewe, wat voortdurend na Christus se beeld verander, wys die preke word uitgedra, is die gesprekke van gelowiges oor die boodskap op die regte tyd en plek deurslaggewend. Die Here belowe Hy sal ons deur die Heilige Gees die regte woorde op die regte tyd gee. Om die preek te kan eggo in ons eie woorde en toepas op ons en ander se omstandighede moet ons oefen. Ons kan die goeie gewoonte om te vertel aanleer as ons maar net ses Sondae na mekaar ons dissiplineer om te praat oor wat ons gehoor het. Dalk sal ons oor wat met ons getuienis gebeur, verwonderd staan en die Here dank dat Hy ons die moed om te praat gegee het.

Bid dat God se Woord gepreek word soos dit hoort

Ons behoort verder ook vir ons dominee te bid dat Hy ons met die verduideliking van wat in die Woord staan en met die toepassing daarvan sal help om prakties verder die Woord uit te dra. Selfondersoekend sal ons moet vasstel of ons nie selfsugtig net vir onsself versterking, vertroosting en vermaning gesoek en gekry het nie en nie gedink het aan die verdere eggo van die Woord in ons omgewing nie.

 

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Picture of Grietjie Prinsloo
Grietjie Prinsloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top