Hoe kan ek die erediens van Sondag voortsit in die lewe van elke dag?

Die hele lewe is ʼn erediens.

Alles wat ons dink en sê en doen behoort ingestel te wees op die eer van die Here. Vir die gelowiges is ons diens, of dit nou diens aan ons gesin, werkgewer of medemens is, altyd tot die eer van die Here – erediens. Ons kan dit noem die erediens van die lewe!

Deel van ons lewens-erediens is wanneer ons saamkom as gemeente van die Here, die samekoms van die gemeente, die erediens op Sondae. Dit is dan die oomblikke wanneer die huisgesin van die Here as ʼn eenheid saamkom om Hom met hulle diens te eer. Hierdie diens is lofprysing, skuldbelydenis en toeëiening van vergifnis, luister en gehoorsaam van die Woord, aanbidding en dankie-sê (ook deur liefdegawes) en omhelsing van die seën van die Here.
Hoe pas die erediens van die gemeente dan in by die erediens van die lewe van elke dag? Ons hele lewe is erediens, ons kom ook gewoonlik Sondae saam in die gemeente se erediens, word versterk en kry perspektief, en dan word ons met die seën van die Here weer uitgestuur na die lewe van elke dag. Die seën is so belangrik dat ons met “amen” die seën ons eie moet maak, want as geseëndes kan ons vir almal wat die Here op ons pad bring tot seën wees.

Toegerus om elke dag God te eer

In die erediens van die gemeente word ons toegerus om die erediens in die lewe voort te sit.

Die lofsang van die gemeente behoort in ons huise voortgesit te word. Die skuldbelydenis in die samekoms van die gemeente moet ons sensitief maak vir die oortuigingswerk van die Heilige Gees. Die Gees oortuig ons van sonde waarvoor ons afgestomp geraak het en verseker ons dat Christus ons verlos het van elke sonde en ons bose binnekant. Die Woord wat sentraal in die gemeente se erediens staan, is elke dag ons GPS om God te kan eer. Die liefde wat ons in die samekoms van die gemeente van God en mekaar ervaar, word die dryfkrag van ons optrede teenoor God en ander in ons elke dag se lewe. In die Nagmaal gee ons ons sonde, bekommernis en probleme aan Christus af en eien sy vergewing, die ewige lewe en al sy ander seëninge toe. So leer ons om elke dag ons sonde af te gee en sy genade toe te eien.

Onverskrokke draers van die Woord

Wat baie belangrik is, is om die Woord verder te dra. Ons maak die preek met die “amen” na die preek, ons eie. Nou is dit nie meer die dominee se preek nie, maar die gemeente s’n. Die ryk inhoud van die Woord, asook die praktiese toepassing daarvan in die prediking moet buite die kerkgebou gehoor word. Die Skrifgedeelte en die preek mag nie ʼn skoot in die vlakte wees sonder enige weerklank nie. Daarom is vertel en toepas van die Woord deur woorde en dade en gesindheid ons groot roeping.

Deel van die erediens van die lewe is om Jesus Christus se Koningskap te verkondig in ons huise, by die skool, by ons werk, in die ouetehuis, op die sportveld en pawiljoen, teenoor wie die Here op ons pad bring.

Ons is die draers van die stem van die Here ook in die politiek en die ekonomie. Daarom mag ons nie stilbly oor geweld, korrupsie, die vernedering van die armes in die samelewing en die verspreiding van pornografie nie. Ons moet self onderskei wat die regte manier is om teen die verkeerde dinge te getuig: ʼn brief in die koerant, ʼn getuienis uit ʼn gemeente of sommer net in een tot een gesprekke.

Ons roeping is ook om die mooie uit te wys: in God se skepping, hoe die liefde van die Here deurgegee word aan die minderbevoorregtes, hoe die Heilige Gees deur die Woord deurbrake maak in lande waar Christene vervolg word – om maar net ʼn paar dinge te noem.

Die Here stort by elke samekoms van die gemeente sy seën in ons binnekant. So gee Hy ons gawes wat ons nie self kan produseer nie. Met die gawes in ons, word ons bemagtig om in die volle lewe in te gaan en die beeld van Christus met ons oë, hande, voete en monde aan die wêreld daarbuite voor te hou!

Ons hele lewe is erediens en dan kom ons saam in die gemeente se erediens, word versterk en kry perspektief, en dan word ons met die seën van die Here weer uitgestuur na die lewe van elke dag.

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Picture of Cobie Steyn
Cobie Steyn
Ek bly op Lydenburg, is getroud met Abel Steyn, wat predikant is van die Gereformeerde Kerk Lydenburg. Ons het 3 kinders (1 dogter en 2 seuns) wat almal al groot en uit die huis uit is. Ek het onder redakteurs Ansie du Plessis en Mariana Venter begin artikels skryf. Sedert Mei 2009 is ek redakteur van die blad. Dit is vir my ʼn voorreg om die blad so saam te stel dat die inhoud sal bydra tot geestelike verryking en geloofsgroei vir vrouens. Opgeleide onderwyseres in Afrikaans en Engels (min skoolgehou); 9 liefdesverhale by Lapa gepubliseer. Beroep tans: Voltydse PA vir blinde predikant.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top