Deur Wilbrie en Annelize Fourie

’n Groot woord!

Wat beteken die woord deugsaamheid nou eintlik? Dit klink soos een van daardie woorde wat ’n mens behoort te ken, maar wat is beteken dié woord wérklik? Hedendaagse woordeboeke definieer “deug” as “sedelike voortreflikheid; goedheid”. Dit is “korrekte optrede en denke; goedheid van karakter”. Deugsaamheid is ook al gedefinieer as “onderwerping aan ’n standaard van wat reg is”. In die volksmond verwys die woord daarna: Om te streef om die regte ding te doen.

’n Mens lees ook van dié spesiale woord op verskeie plekke in die Bybel.
In 2 Petrus 1:5 lees ons die volgende: “En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis…” Spreuke 11: 16 sê weer dat ’n deugsame vrou gesteld is op haar goeie naam; mense wat niks ontsien nie, is gesteld op rykdom. Paulus skryf in Filippense 4:8: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” Ons sien dus dat God op verskeie plekke ons aanspoor tot deugdelike optrede, dat Hy van ons verwag om so op te tree in ons elke dag se doen en late.

Maar hoe doen ek dit prakties? Hoe maak ek dié groot woord deel van my alledaagse bestaan?

As jy jou oë oopmaak in die oggend en jou wekker op jou foon afskakel, begin sosiale media konfrontasies jou dag oorneem. Boodskappe op ‘whatsapp’ het, nadat jy aan die slaap geraak het, oor en weer gevlieg, jou ‘vriende’ het foto’s op Facebook gedeel, bekendes se kommentaar oor die politieke situasie het op Twitter weergalm – en so kan ’n mens aangaan. Al hierdie dinge kan jy sommer op jou foon sien, en te danke aan vandag se tegnologie volg die medium ons oral waar ons gaan… of moet ek eerder sê ons volg die medium oral waar ons gaan?

Maar waarvan getuig jou boodskappe? Waarvan getuig dié wat jy aanstuur of weer na kyk? Wat beskou die groepies waarop jy is, as snaaks of aanvaarbaar? Kan jy sê dat jou handel op sosiale media van deugdelikheid getuig? Van ’n strewe om af te sien van dit wat onrein is? Of loer jy gou na die foto, want niemand sal mos weet ek het hom gesien nie!
Wat maak ek met al hierdie inligting wat op my vingerpunte is? Deel ek dit? Lag ek daaroor en kyk weer en weer? Of meet ek dit aan God se beginsels? Die Here se beginsels van die korrekte optrede, om die regte ding te doen en om rein te lewe?

Wanneer jy en jou vriende of familie om die kampvuur gesellig kuier, wat is die trant van julle gesprekke? Sal jy ’n onderwerp verander waarmee jy ongemaklik voel? Sal jy doelbewus iets sê of vir iemand opkom as daar geskinder word van iemand anders? Of lag jy saam, borduur verder voort en is jy die voorbok? Dit is seer sekerlik moeilik om op te staan en nie saam met die stroom te gaan nie, want dan staan jy juis soos ’n seer oog uit wanneer jy die gesprek in ’n ander rigting stuur. ’n Deugsame vrou is gesteld op haar goeie naam, ten spyte van ander mense se opinies. Jou karakter word nie geopenbaar as jy alleen in jou kamer sit nie, maar juis tussen ’n klomp mense waar jy na vore moet tree en die ‘regte’ ding moet doen.

Het jy diep gesprekke met jou kinders waarin jy vir hulle die regte goed wil leer? Ja, dit gaan tyd vat om ’n vertrouensverhouding met jou kind op te bou. Om vir jou kind ’n voorbeeld en rolmodel te wees is seker aanvanklik maklik as hulle klein is. Maar dis juis wanneer hulle kan begin verstaan, wanneer hulle goed begin bevraagteken, dat jy as ouer bo alle twyfel die regte pad moet stap. Hulle oë is fyn, hulle ore oop en hulle harte ontvanklik.

As ons ten spyte van ons kennis van die regte dinge (deugde) wat ons moet doen, want ons lees daarvan in die Woord van die Here en sy Gees roep ons gereeld tot verantwoording oor wat ons veronderstel is om te doen, nog steeds doen wat sleg is, is dit nie deugsaam nie. Die strewe om die goeie te doen is ’n direkte afkeur van dié dinge wat sleg is. Ons sal steeds val en baie keer verkeerd handel, maar as jou voorneme en jou dade wys dat jy goed wil doen, sal God jou help om ook daarin te volhard.
Daar is mense wat nooit stilstaan nie. Nooit bepeins en dieper kyk na die dinge wat verby is en wat in die toekoms lê en wag nie. Aankarring, voortkarring en deur alles karring sonder om terug te staan en jou lewe in oënskou te neem.
Terugkyk…
Reflekteer…
Besef…
Lê ons groei en verdieping as mens nie in daardie drie waarhede opgesluit nie? Neem dan tyd en bepaal of Spreuke van jou praat wanneer die deugsame vrou beskryf word…

Om lief te hê beteken dat jy die onuitstaanbare sal liefhê, anders is dit geen deug nie…
Vergifnis beteken dat jy die onvergeeflike sal vergewe, anders is dit geen deug nie…
Hoop beteken dat jy sal bly hoop as alles hopeloos is, anders is dit geen deug hoegenaamd nie…
– GK Chesterton

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Picture of Cobie Steyn
Cobie Steyn
Ek bly op Lydenburg, is getroud met Abel Steyn, wat predikant is van die Gereformeerde Kerk Lydenburg. Ons het 3 kinders (1 dogter en 2 seuns) wat almal al groot en uit die huis uit is. Ek het onder redakteurs Ansie du Plessis en Mariana Venter begin artikels skryf. Sedert Mei 2009 is ek redakteur van die blad. Dit is vir my ʼn voorreg om die blad so saam te stel dat die inhoud sal bydra tot geestelike verryking en geloofsgroei vir vrouens. Opgeleide onderwyseres in Afrikaans en Engels (min skoolgehou); 9 liefdesverhale by Lapa gepubliseer. Beroep tans: Voltydse PA vir blinde predikant.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top