Dr. Trudie antwoord…
Ek is baie frustreerd. Hoewel ek in ‘n gelukkige huwelik staan, kry ek dit nooit reg om gelukkig te wees nie, moontlik weens my ongelukige kinderjare. My probleem is dat ek my kinders ten alle koste so gelukkig as moontlik wil hou. Iets keer my selfs om hulle aan te spreek as ek weet dat hulle onaanvaarbaar optree. Ek probeer dinge regruk deur vir hulle baie liefde te gee, maar my kinders ruk net al hoe meer hand uit. Ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek voel ‘n totale mislukking as ma.
In vandag se lewe, is ouerskap nie maklik nie
Die probleme waarmee die meeste ouers sit, is dat hulle nie meer weet hoe om hulle kinders aan te spreek as hulle onaanvaarbare gedrag toon nie. Kinders word van kleins af gebombardeer met sondige wêreldse gebruike deur al die verskeie vorme van die media sowel as groepsdruk. Boonop word dit stelselmatig deur meer en meer mense, selfs deur Christene, gerasionaliseer as aanvaarbaar onder die vaandel van sogenaamde “liefde”. Paulus gee ons wel die opdrag in God se Woord om mekaar se laste te dra, maar dan met die voorwaarde dat dit uitvoering sal gee aan God se wet (Gal 6:2).
God het van die begin af vir die mens grense gestel
Die mens is aanvanklik in volkome harmoniese verhoudings met Hom, mekaar en die skepping geskape. God het vir hulle net een “grens” gestel wat van hulle gehoorsaamheid vereis het: Hulle mag nie van die boom van kennis van goed en kwaad geëet het nie (Gen. 2:17). Satan het hulle egter met ‘n leuen verlei om daaraan ongehoorsaam te wees (Gen. 3:5). Die verskriklike gevolge van hierdie oortreding beleef ons as mense in hierdie gebroke wêreld nog elke dag.
Satan loop vandag nog rond soos ‘n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). Hy gebruik ons weerloosheid soos wanneer ons ongeliefd voel, bang is vir verwerping, verliese, fisieke swakhede, om ons te verlei om buite God se grense te lewe. Die gevolg daarvan gaan gewoonlik gepaard met innerlike pyn wat ons probeer verlig deur ongesonde gedrag.
Die grense waarbinne ons nou moet leef, word deur Jesus, ons Verlosser, geopenbaar in sy samevatting van al die gebooie
In Matt. 22:38-39 lees ons: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”.
Niks en niemand mag dus belangriker as God wees in ons lewens nie. Om as gelowige binne hierdie grense te bly, moet jy vir jou kinders dieselfde grense stel. Boonop moet jy jouself afvra: Hoe kan ek vir my naaste en dus ook vir my kinders lief wees, as ek nie ook vir myself lief is en respek het nie?
Verder word ons gewaarsku in Spreuke : Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie… (13:24); en ‘… wie ‘n ongemanierde seun het, het geen vreugde nie. (17:21).
Wat jou ongelukkige kinderdae betref
Dit is dit duidelik dat, wat ook al die oorsaak daarvan was, daartoe moes lei dat jy maklik onseker voel oor jouself. Eintlik leef jy dan onbewus in ‘n leuen wat Satan aan jou voorhou, want hoe kan jy so maklik twyfel oor jou waarde as jy kosbaar is vir God? Hy het jou nog voor die skepping, uitverkies om deur Jesus Christus sy kind te wees? Jy het deur die bloed van sy Seun die belofte gekry om verlos te word van hierdie gebroke bestaan (Lees Ef. 1:5-7) en weer totaal met God versoen te word (Kol. 1:21).
Verder het Hy jou so hoog geag dat Hy van sy kinders aan jou toevertrou het. Die verantwoordelikheid rus op jou en jou man dat julle hulle, met die hulp van die Heilige Gees, Christelik moet grootgemaak. Dit beteken dat julle die grense wat God vir sy kinders daargestel het, aan hulle moet voorleef en aan hulle moet leer.
Dink na oor die volgende:
Jou ongelukkige kinderjare kan veroorsaak dat jy jou só in jou kinders se pyn inleef, dat jy hulle altyd gelukkig en tevrede wil hou ongeag wat die konsekwensies daarvan mag wees.
- Leer jou kinders om al hoe meer te stry teen hulle sondige natuur en om daarna te streef dat God, deur die Heilige Gees, hulle gedrag moet bepaal (Gal. 6:17-18). Dan sal hulle uiteindelik leer om binne die grense wat God vir ons gestel het, te leef. Dit beteken dat hulle in werklike liefde moet leef, want God is liefde (Lees 1 Joh. 4:16).
- Indien daar nie aan kinders grense gestel word nie, sal hulle waarskynlik baie selfgesentreerde volwassenes word met min empatie of respek vir ander. En in ons gebroke bestaan is dit gewoonlik die begin van ‘n bose kringloop van verderf.
- Jy en jou man het waarskynlik saam die doopbelofte afgelê en daarom moet julle as ‘n span saamwerk om die regte grense neer te lê vir julle kinders.
- Kinders wat tussen die grense wat daar vir hulle gestel is leef, is gelukkige kinders. Hulle het sekuriteit.
- Hou aan om julle opvoedingstaak ‘n gebedsaak te maak!