Wat is die belangrikste aspekte wat in ons persoonlike gebede moet voorkom?

Deur Prof. Ben de Klerk

Ons het die wonderlike voorreg dat ons Here Jesus die groot Priester is (Heb. 10:21-22) deur wie ons met vrymoedigheid na die Here in ons gebede kan gaan. Daarom kan die Heilige Gees ons aanspoor om volhardend en gedurig te bid. Omdat ons ontsag het vir ons Here wil ons nie aan die een kant slordig in ons gebede wees nie, maar aan die ander kant steeds spontaan soos kindertjies tot ons Vader bid. Daarom is dit goed om te vra wat die belangrikste aspekte in ons gebede is.Aanbidding en verootmoediging

 Ons gebede tot God is veral aanbidding. Wie bid wil die Here verheerlik met ons houding, ons woorde en gedagtes. Ons behoort daarom woorde te soek wat God prys. Die Bybel voed ons gees om die Here te loof en te prys. Nie net die Psalms nie, maar ook ander dele in die Bybel gee voedsel vir lofprysing. Luister na die lof in die Bybel, sing in jou hart die lofpsalms, want gebed sonder lof is arm. Daar is ook ’n verskil tussen lofprysing en dankiesê. Lof is om aan God eer te gee vir Wie Hy is en dank is om Hom te dank vir Wat Hy doen.

Wie die Here prys, besef hoe onwaardig hy/sy is. Daarom is dit bevrydend om vir die Here te sê hoe klein en sondig ons is. Voor ons die woorde gesê het, het die Here ons op grond van Christus se werk vergewe. Hy wil uit ons hart hoor hoe ons oor ons lewe in sy teenwoordigheid voel. Daarom behoort ons nie die skuldbelydenis te “bêre” tot aan die einde van die gebed en dan met ’n  formuletjie (vergewe ons ons skulde, amen) afsluit nie.

Dankiesê en smeking

 Daar is soveel om die Here voor te dank. Ons behoort eintlik elke dag op ’n ontdekkingsreis te gaan om alles weer nuut te ontdek wat die Here vir ons doen. Die grootste is natuurlik sy oneindige liefde waarmee Hy ons liefhet deur Christus se offer. Ons kan ook vir die kos en klere en blyplek oorgenoeg hê om voor te dank. Dit is die maklike dankiesê. Moeiliker is om die geestelike seëninge by die naam te noem.

Dikwels is die mees uitgebreide deel van ons gebede smeking. Ons is so afhanklik van die Here en Hy is ’n Vader wat vir ons sorg. Daarom kan ons vir ons daaglikse behoeftes met vrymoedigheid vra en Hom vertrou dat Hy ons sal versorg met wat vir ons goed is. Ons kan veral smeek dat die Here ons sal laat groei in ons geloof, dat ons al meer Christus se beeld vertoon, dat ons krag sal kry in beproewing en dat ons die liefde wat die Heilige Gees in ons uitstort, sal deurgee aan elkeen wat Hy op ons pad bring.

Voorbidding en vasgryp aan die Here se beloftes

 Ons moet nie nalaat om voorbidding te doen nie. Liefde en gebed gaan dikwels saam. Wanneer ek vir iemand bid, groei my liefde vir so iemand en ek kan nie anders as om te bid vir hulle wat ek liefhet nie. Voorbidding raak ook die wêreld om ons met sy siekes, armes, woestaards en selfs vir dié met wie ons minder goed klaarkom of met wie ons verskil. Die Here leer ons in die Bybel dat ons moet vasgryp aan wat Hy belowe het (bv. Neh. 1:5-11). Die Bybel het ’n Ou en Nuwe Testament. In ’n testament word beloftes aan erfgename gemaak. Baie van God se beloftes is al vervul en ander nog nie, maar ons kan aan hulle vasgryp. Een van die belangrikste voorbeelde is wat Jesus in Luk. 11 belowe. Wie bid en dank vir die Heilige Gees sal die Gees se leiding en troos ontvang. Gryp vas aan hierdie fantastiese belofte en bid dit vir jouself en vir ander.

Ons kan nie al hierdie aspekte van die gebed in elke gebed uitsê nie. Die gebed word ook nie gemeet aan hoeveel van die aspekte voorkom nie. Wie besef dat gebed ons in die allerheiligste God se teenwoordigheid bring, sal met ontsag en met vrymoedigheid bly bid, want Jesus Christus is ons voorspraak in die hemel en God se Gees leer ons bid en dra ons sukkelende gebede geheilig voor ons Here.

Maak 'n Verskil Deel Met Iemand

Picture of Grietjie Prinsloo
Grietjie Prinsloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Lees meer

Verwante Artikels

Kyk die video – Teken in GK Vroueblad

DIE GEREFORMEERDE VROUEBLAD  Skrifgetrou;  Aktueel;  Prakties Vir die gelowige vrou van vandag! Kyk na hierdie video om te sien hoe om in te teken… … En teken in!

idee

Jou brein het sy eie idees

Die meeste van ons het al gevoel dat ‘n emosie ons uit die bloute beetpak en dat ons geen beheer daaroor het nie. ’n Mens

Selle

Selle… lewe…

Van alles wat God geskep het, is lewe die allerwonderlikste. Berge, riviere, oseane sing so skoon oor God dat dit ons asems wegslaan, maar as

druk

Ken jy my?

Ek het iemand onlangs die volgende hoor sê: “Ek wil graag by jou kom kuier, want ek ken jou nie. Ek wil jou graag beter

top