Om rustig te slaap

Deur Griet Swanepoel

“Ek was besig om saggies en rustig heen te gaan – tot my vrou my op die vloer in die gang gekry het!” vertel ʼn pasiënt vir my, “as my vrou op die toneel verskyn dan bly niks meer dieselfde nie!”

Hy maak grappies maar is duidelik dankbaar dat sy hom betyds gekry het.

My oë vang die donkerblou naellak op sy tone. Dit pas nie by die statige man nie.  Hy sien ek kyk daarna en begin te lag…

“Dis my kleindogter, sy wou die vorige aand my tone mooi maak en ek het haar maar begaan.  Dis mos maar wat ʼn oupa met ʼn mooi vierjarige- kleindogter moet doen. Ek hoor my potblou toonnaels het sowaar ʼn opskudding in die ongevalle veroorsaak – hulle het eers gedink ek het ʼn erge suurstofnood,” vertel hy en geniet weer die komiese situasie.

Hy het vroegoggend die vorige nag by die huis inmekaar gesak en daar bly lê omdat sy bloedsuikervlak te laag was.

“Ek het sommer self besluit om my eie insuliendosis aan te pas nadat ons gesin dié aand bietjie geil uitgeëet het.  Een fout het toe nie ʼn ander fout reggemaak nie,” sê hy verskonend.

“Ek was amper, amper weg!” sê die statige man.

Toe hy later rustig slaap na al die drama van die vorige nag gaan ek gou teedrink. Toe onthou ek wat met een van my man se kamermaats op universiteit gebeur het.  Hy moes tydens sy gemeente-prakties saam met die dominee na ʼn sterfbed toe gaan. Dit was in die middel van die nag. Al die familie was daar. Hy het glad nie geweet wat om te verwag nie. Die dominee het vir hom as student gesê om maar in die hoek te staan.  Hy moet net waarneem. Die sterwende oom het doodstil en wasbleek teen die kussings gelê. Die dominee het gelees en gebid. ʼn Perfekte afskeid vir ʼn gelowige, het die student gedink. Die oom het sy laaste asem stadig uitgeblaas. Almal het gedink dis verby. Toe gebeur die onverwagse. Sekondes later spring die oom met verwilderde oë regop, kyk rondom hom en fokus op die dominee. Hy is angsbevange.

“Dominee,  ek het nou amper my gat gesien!” (bedoelende nou sy graf).

Vyf dae later kry hulle dieselfde oom in die koöperasie.

Ek is al een in die teekamer wat Afrikaans verstaan en ek geniet maar die ou storie so by myself.

Why are you laughing, sister?” wil een van my kollegas weet.

It’s a long story,” sê ek maar. Die storie sal nie werk in Engels nie, dink ek.

Die res van die nag verloop rustig.  Terwyl ek werk, het my man tot laatnag vir ons gemeentekamp voorberei. Ons tema is: “Ons woestynreis op pad na die beloofde land”. Dit is ʼn oor ʼn paar dae. Hy is besig met ʼn blokkiesraaisel en ʼn preek oor dié tema.

Toe ek vroegoggend by die huis aankom, wag hy my in met sy koffie en my koppie tee. Ons luister saam na die oggendnuus. Daar is nie goeie nuus nie. Dit is net aardbewings en vloede. Dié dele van die wêreld is flenters gewaai en geboue staan verdrink in die water. Ons kyk saam na al die skrikwekkende natuurrampe.  Ons luister na nóg korrupsieskandale  en nóg ʼn wrede  plaasmoord.  En die vreeslike droogte in die Kaap. Ons is skoon stil en dan so dankbaar dat ons nie van hierdie koninkryk is nie.

Hy bring nog ʼn koppie tee.

“Hoe was jou nag?” wil hy weet.

Ek vertel hom van my pasiënt – die statige oupa met sy blougeverfde toonnaels. En ek herinner hom aan sy kamermaat se eerste “sterfbed-ondervinding” tydens sy gemeente-prakties.

“Hoe vorder jou preek?”

Hy is opgewonde om my te vertel. Dis goeie nuus: die reis deur die woestyn klink na ʼn daaglikse stryd om te oorleef. Daar is egter manna en kwartels, water uit die Rots. Die wolkkolom in die dag en die vuurkolom in die nag. Klere wat nie verslyt nie. Daar is ʼn oase met sewentig palmbome en twaalf fonteine by Elim. Genade op genade – op pad na die Beloofde land.  Alles verniet vir dié wat in die Here glo.

Dit maak my rustig.  Ek gaan slaap in vrede.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *