Om geestelik te rus

Deur Jaai du Plessis

Om geestelik tot rus te kom moet ek die onrustigheid binne-in my onder oë neem. Ek gló die Here wat die hemel en die aarde gemaak het sluimer nooit in nie, én Hy sal my beskerm waar ek gaan, nou en vir altyd (Ps.121), maar hierdie onrus in my binneste wil nie meer heeltemal wyk nie..

Stres is ’n (vrees)reaksie en ’n proses wat die Here geneties in ons ingebou het om oorlewing te verseker. Dit staan bekend as die veg-of-vlug-reaksie. Dit het uitstekend te pas gekom in die verlede toe bedreigende situasies meer fisiek van aard was toe jy die leeu wat jy teëgekom het moes beveg, óf voor hom moes wegvlug, en daarna kon rus. Deesdae, in ons gebroke wêreld, is die bedreigings dikwels eerder verstandelike of psigiese ervarings van gevaar soos ’n sperdatum by die werk, verhoudingsprobleme of die bekommernis oor staatskaping en finansiële ruïnering.

Noodtoestand afgekondig…

Die senuweesisteem kan ongelukkig nie onderskei tussen vreesboodskappe komende van die leeu of van finansiële ruïnering nie, en daarom is die vertolking dieselfde en het dit dieselfde veg-of-vlug-reaksie tot gevolg. Die simpatiese afdeling van die outonome senuweestelsel dra boodskappe oor aan die hele liggaam om reg te maak vir ’n noodtoestand en beveel die adrenale kliere om streshormone af te skei om hierdie reaksie verder te versterk. Hierdie is ’n  biochemiese reaksie, vind onbewus en onwillekeurig plaas en beteken nie daar skort iets met jou geloof nie. Omdat ons die staatskapers nie met knuppels kan gaan aandurf nie bly die streshormone onbenut in ons bloed agter en bou die “onrus” kumulatief in ons liggame op tot op ’n vlak waar dit ons fisiek en emosioneel siek kan maak.

Reageer reg op die noodtoestand

Genadiglik het die Here ook vir ons verstandelike vermoëns ingebou en kan ons leer hoe om ons gedagtes, spiere en asemhaling so te beheer dat ons die gevaarlike fasette van die stresreaksie kan leer hanteer en die positiewe kant daarvan kan benut soos wat dit oorspronklik bedoel is. Een van die effektiefste benaderings in die hantering van stres is ’n  verandering in lewensstyl, gebaseer op ’n gepaste dieet, fisieke aktiwiteit en aktiewe ontspanning.

  • Dieet: Die kwaliteit van ons dieet staan sentraal, want dit beïnvloed ons algemene gesondheid wat ’n bepalende rol speel in streshantering. Konsentreer op natuurlike, vars voedselsoorte met so min bymiddels as moontlik.
  • Fisieke aktiwiteit is die effektiefste manier om die stresrespons te neutraliseer want dit verbrand die neweprodukte van die stresreaksie en veroorsaak ook ’n verhoging in die brein se “goedvoel”-stowwe. Dertig minute van nie-kompeterende oefening (soos stap) drie tot vier keer per week is gewoonlik genoeg.
  • Ontspanning van die spiere is noodsaaklik omdat spierspanning sowel ’n reaksie op stres as ’n oorsaak daarvan is. Ontspanning van jou asemhaling bevorder liggaamlike ontspanning en ontspanne, positiewe gedagtes bring kalmte en rustigheid. Bewys jouself ’n guns en reël ’n halfuur per dag waarin jy die volgende ontspanningsessie beoefen om daardie onrus in jou binneste tot rus te bring:
  • Kies ‘n stil plek in jou huis en sit in ’n gemaklike stoel wat jou rug, kop, en verkieslik ook jou bene, ondersteun. Of lê op jou bed. Maak jou oë toe.
  • Konsentreer daarop om diep asem te haal. Trek jou asem stadig in vir vyf tellings terwyl jy jou maagspiere uitstoot. Hou jou asem in vir agt tellings en blaas dan doelbewus ál die asem uit. Herhaal vyf keer.
  • Dink aan jou regterhand en maak ‘n klipharde vuis terwyl jy probeer om die res van jou liggaam slap te hou. Hou daardie vuis vir tien sekondes en laat los dan skielik en voel hoe jou hand ontspan tot meer ontspanne as voordat jy begin het. Doen dieselfde met jou linkerhand, elke arm, voet, kuit, bobeen, dan jou boude, maag, skouers, nek en kop. Voel elke keer wanneer jy laat los hoe die spanning uit jou uitloop soos water uit ’n bad uit. Let op spierspanning wat dalk oorgebly het (die skouers en nek is nogal hardnekkig) en laat dit los.
  • Raak weer van jou asemhaling bewus en laat los elke keer wanneer jy uitasem nog ’n bietjie verder. Konsentreer op jou liggaam en die ontspanning, hier en nou. As ’n gedagte by jou opkom, laat dit verbygaan soos ’n wolk. Na jou ontspanningsessie kan jy daaraan aandag gee. (4a: As jou tyd baie beperk is kan jy hier, na so tien of twintig minute, ophou. Maak jou oë oop, strek lekker en geniet die rustige gevoel wat jy met jou kan saamneem.)
  • Terwyl jy so rustig bly asemhaal en met elke asemteug verder laat los kan jy nou vir jou ’n mooi natuurtoneel visualiseer. Dit kan ’n plek wees waar jy al was (en gelukkig en tevrede gevoel het) of jy kan een opmaak in jou gedagtes (solank dit vir jou mooi, veilig en rustig voel). “Kyk” na al die mooi, “voel” die son op jou vel, “ruik” die vars berglug, “proe” die see op jou lippe, “hoor” die geluid van die water… wat ook al van toepassing is en vir jou aangenaam en ontspannend is. Hier waar jy geestelik rustiger geword het, kan jy gerus tot die Here bid en jou stapel bekommernisse aan Hom voorlê soos wat Hiskia gedoen het (2 Kon.19:14e.v.). Jesus het mos genooi: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal vir julle rus gee” (Matt.11:28). Dan is ons dankbaar saam met die psalmdigter: “Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring” (Ps. 94:19).
  • Wanneer jy klaar is, kan jy rustig weer bewus word van jou asemhaling, lekker strek en jou oë oopmaak. Neem hierdie rustigheid met jou saam en maak dit deel van jou menswees.

Wanneer ’n mens tot rus gekom het, is dit makliker om jou probleme rasioneel te benader, en die bekende gebed te bid:

“O Heer, gee my die krag om te verander dit wat ek moet verander,

en die lydsaamheid om te aanvaar dit wat ek nie kan verander nie,

maar bo alles: gee my die insig om tussen dié twee te kan onderskei.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *