Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Deur Jo van Rooyen

Daardie pad wat teen die berg oploop en dan verdwyn, waarheen gaan hy?  Wat lê anderkant daardie berg en hoe lyk dit as jy bo-op staan?  Selfs ʼn skildery van ʼn pad wat wegraak in die verte fassineer en prikkel die verbeelding. Waarheen gaan daardie pad? Bestaan so ʼn pad werklik? Veel erger as jy in Europa “toer” en paaie wat afdraai na vreemde, eeu-oue stede,  ou geboue, operahuise, tuine  moet geïgnoreer word,  want hulle is nie op die reisplan ingesluit nie!

Hoe lekker is dit nie om soms, gewapen  met fles en toebroodjies,  sommer net te ry, vreemde afdraaipaaie te volg en nóg ʼn stukkie versteekte mooi te ontdek nie. As mens die dag regtig pad vat, moet jy darem weet waarheen jy op pad is. Watter pad jy ook al volg is jou eindbestemming altyd jou huis met sy baie verpligtinge.  Al reisend  volg jy bakens, bekende dinge langs jou pad wat jou help om jou bestemming  te  bereik.  In ʼn vreemde land is daar nie  bekende bakens wat jou lei nie. Jy is afhanklik van padtekens en ʼn padkaart, selfs soms op die aanwysings van vreemdelinge  en  hul vreemde tale.  Jy moet eenvoudig vertrou en hoop dat julle mekaar reg verstaan het en dat hulle weet waarheen jy eintlik op pad is. Is ons nie maar in ʼn vreemde land op pad na ons werklike woning nie? … in  die wêreld maar nie van die wêreld nie…

Ja, wanneer ʼn mens so toer wil elke pad jou verlei.  So ook die paaie van ons aardse bestaan, kronkelend, vol keuses… wat ons soms vreemde paaie laat loop, maar  daar is vir ons bakens.  Ons moet  op die  betroubare padkaart, God se Woord, staatmaak.  Lewenslank  is ons oppad…

Net soos wat die kerk op ʼn stadium vreemde paaie geloop het, ander weë as Christus tot verlossing verkondig het en daar manne (en vroue!) van die Reformasie moes kom wat weer die een en enigste ware pad as’t ware moes kom aanwys het.

Geseënd is ons, die gereformeerde kerke van 2017, om te weet dat Jesus Christus sélf die weg, die waarheid en die lewe is (vgl. Joh. 14:6) en dat ons slegs déúr Hom na die Vader toe kom.

Geseënd is ons wat glo en weet dat toe Christus opgevaar het, Hy ons nie alleen en rigtingloos, sonder padkaart, agtergelaat  het nie. Hy het ons sy Gees gegee. Met die oë en  ore van jou hart oop vir die stem van die Heilige Gees sal jy die ware pad vind. Ons stap nie hierdie aardse pad “alleen my lam”, soos Amanda Strydom so mooi sing nie, ons stap die pad al luisterend agter ons ware Herder aan; ons stap saam  met ander gelowiges skouer aan skouer.  Nooit stap ons alleen nie. Ons stap die lewenspad,  met ʼn doel,  ook saam met ongelowiges want daar is werk wat gedoen moet word, die Woord moet kristalhelder aan hulle ook verkondig word.

Van geboorte tot sterwe is ons op reis en Jesus Christus is die enigste Weg wat ons moet volg, die enigste pad na die ware Lewe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *