Marie Dentière – vurige redenaar

Vroue van die Reformasie

Deur Annamie Odendaal

ʼn Ooggetuie kan sekerlik iemand wat 4 eeue gelede geleef het die beste beskryf.  Mens kry so darem  ʼn idee van een oomblik uit ʼn veelbewoë lewe. Dis beter as niks, maar in hierdie spesifieke geval sal ek  baie  moet beduie oor als rondom die storie wat Calvyn in ʼn brief aan sy vriend Farel  oor Marie Dentière te vertel  gehad het…

Dit gaan oor ʼn amusante woordewisseling tussen hom en  Froment se vrou :

Marie Dentière was twee keer getroud: eers met Simon Robert, ʼn gewese monnik.  Hulle het altwee van die Belgiese stad Tournai gekom. Marie was hoof van die Augustynse klooster daar. Luther, ook ʼn Augustynse monnik, se skrywes het haar laat kennis maak met die Here se genade waarvoor sy haar nie in onsekerheid hoef af te sloof nie. By Luther het sy ook geleer hoe hoog die Here die huwelik aanslaan, en dat Hy beslis nie die kloosterlewe aanbeveel vir gelowiges nie. Sy kon nie langer deel wees van ʼn groep vroue wat die gewone lewe van trou en kinders hê met alle vreugde en moeite wat daarmee saamgaan, opoffer om die Here alleen te dien nie.

ʼn Non of monnik wat die eed van getrouheid verbreek, moes vir hul lewens vlug. Protestante is ook vervolg, dus was die paartjie in dubbele gevaar.  Hulle het in Straatsburg veiligheid gaan soek. Robert word ʼn medewerker van die Protestantse predikant Guillaume (William) Farel.  Hy (en Marie)  werk in dorpies naby Genève. Marie het ywerig saam met haar man gewerk en die evangelie vurig verkondig. Dit was ongewoon vir vroue om so saam met hul mans te werk, selfs in Protestantse kringe, maar só was Marie se geaardheid: onverskrokke en daadkragtig. Hulle was net vyf jaar (1528 -1533) getroud voor hy oorlede is. Uit die huwelik is verskeie kinders gebore – meeste bronne sê vyf.  Marie is hierna met Antoine Froment getroud, ʼn kollega van Robert en Farel wat in Genève gewoon het.

Uitgesproke redenaar

Calvyn skryf verder hoe sy in elke winkel en op elke straathoek gepreek het.  Voor  Calvyn vertel sy glo hoe  Farel gewaarsku het dat vals profete aan hul deftige (lang) gewade uitgeken kon word, terwyl  Calvyn en Farel self so aantrek.  Toe Calvyn beswaar maak en boonop wys op die korrekte weergawe van ʼn teksvers, het sy teengekap en gekla oor sy tirannie, basies omdat hy mense dwing om presies reg aan te haal en so hul vrymoedigheid demp. Hy sluit die vertelling af deur te sê hy het die saak maar daar gelaat, want net die Heilige Gees sal sulke mistastings kan regstel.

 Skrywer van voorwoord vir ʼn preek van Calvyn

Marie was dus so ʼn vurige redenaar dat sy haarself nie eers in toom kon hou toe iemand wat sy self as gesagsfiguur gerespekteer het, haar teregwys nie.  Al het haar uitgesprokenheid Calvyn goed geïrriteer, het hy haar nie by die owerhede gaan aankla omdat sy die predikante in die openbaar gekritiseer het nie – iets wat heelwat ander wel oorgekom het. Is dit omdat hy haar hart geken het en haar luidrugtigheid verdra het ter wille van haar ywer en liefde vir die Here? Hoogs waarskynlik (en ook omdat sy sy medewerker Froment se vrou was) want omtrent vyftien jaar later het hy haar sowaar gevra om ʼn voorwoord te skryf vir ʼn preek wat hy wou publiseer oor – glo dit nou – die gedeelte in 1 Timoteus 2 oor vroue se kleredrag!

Ek is oortuig dat lewenservaring haar skerp kante gladder geskuur het, en dat Calvyn met tyd meer waardering vir haar gekry het.  Hy het seker ook geweet dat meer vroue die preek sal lees omdat hulle vertroue in Marie gehad het.  In haar voorwoord noem sy Calvyn ʼn man wie se suiwere leer by uitstek verdien om gelees te word.

Opspraakwekkende publikasies

Dentière meen ook dat vroue wat baie begaan is oor hul uiterlike voorkoms, gewoonlik nie vreeslik begaan is oor hul innerlike skoonheid nie. Sy waarsku dat vroue oor die algemeen baie meer omgee vir modieuse klere en duur versierings as mans. Dis dinge wat hulle weglok van diens aan God.

Klink dit soos ʼn voorste feminis? Ek vra dit omdat die bekendste en opspraakwekkendste geskrif wat Marie gepubliseer het, deesdae gebruik word om haar as feministiese voorloper te vereer. Die opskrif van hierdie publikasie is: ʼn Baie nuttige brief, geskryf deur ʼn Christenvrou uit Tournai aan die koningin van Navarre, suster van die koning van Frankryk, teen die Turke, Jode, valse Christene, Wederdopers en Lutherane. Hierin skryf sy: ( my Afrikaanse vertaling van die Engelse vertaling  van die oorspronklike Frans):

Het Jesus nie vir ongeletterdes en idiote net so seker as vir verfynde edelmanne gesterf nie? Het Jesus gesê, “Gaan preek die Evangelie aan wyse here en slim doktors?”  Het hy nie gesê, “aan almal” nie?… Het ons twee evangelies, een vir mans en ʼn ander een vir vroue?… Een vir geleerdes en een vir die massas?… ons vroue, nes mans,  behoort nie God se openbarings aan ons weg te steek en in die grond te begrawe nie.”

Marie kritiseer in haar brief die meer gematigde Protestante (lees Lutherane en Wederdopers) nadat hulle Calvyn en Farel gedwing het om Genève vir ʼn paar jaar te verlaat. Verder betoog sy dat alle mense – vrouens ook – volgens die Skrif ewe waardig geag word om die blye nuus die hele wêreld vol uit te dra. Haar brief was ondermynend genoeg om die owerhede te laat regop sit en alle verdere publikasies deur vroue vir die res van die 16e eeu te verbied.  Hulle het ook alle moontlike kopieë van haar ope brief laat konfiskeer.  Haar man het jare lank vergeefs in die hof geveg dat die kopieë aan hom oorhandig moet word.

Haar heel eerste publikasie is die derde geskrif van die drietal wat van haar bekend is.  Dit is eers aan Froment toegedig.  Hy het waarskynlik belangrike insette gelewer, maar die toon en taalgebruik stem baie ooreen met haar ander skryfwerk.

Dentière se geskiedskrywing

Genève was ʼn onafhanklike stadstaat.  Met die instroming van Protestante het daar groot wrywing tussen Katolieke en Protestante ontstaan.  Die hertog van Savoy het saam met verskeie naburige Katolieke magte die stad eers onsuksesvol binnegeval en ʼn jaar later beleër om beheer vir die Katolieke terug te wen, maar is met die hulp van ʼn weermag uit Bern verslaan. Farel was van Bern afkomstig en die stad was polities teen Savoy gekant.

Marie het die gebeure rondom die omverwerping van Genève se vorste en die instelling van ʼn Protestantse owerheid beskryf in ʼn gloeiende lofsang aan die Protestante.  Hul leiers was helde en die teenstanders boewe – nou nie heeltemal so ewewigtig as wat ons hedendaagse geskiedskrywers die relaas sou wou lees nie. Tog is dit geskiedkundig van groot waarde.

Bybels getrou

Oral waar Marie gepraat of geskryf het, was sy uitgesproke Protestants en Bybels getrou. Haar oproep tot bekering van werksheiliging na vreugdevolle en dankbare vashou aan die Here se belofte van genade is die grondtoon in haar geskiedskrywing en in haar kritiek teen almal wat die Here se werk teenstaan, of dit nou Katolieke of mans of Jode of dergelike onheiliges is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *