Marguerite de Navarre – Koningin en diplomaat

 Vroue van die Reformasie

Deur Griet Swanepoel

Koningin Marguerite de Navarra… Aangename kennis. Nog nooit van jou gehoor nie. Nou moet ek jou soek in die geskiedenis sowat 500 jaar gelede…

Ek lees boeke uit my man se biblioteek en ek Google… En ek kry haar uiteindelik. Sy loer na my met diplomatieke agterdog met ’n groen papegaai op die vinger.  Hoe meer ek lees oor die era waarin sy gelewe het, hoe minder klink dit na die goeie ou dae.

Na die donker Middeleeue kom daar aan die einde van die vyftiende eeu verligting in die mens se gees.  Deur die donkerte van die katedrale skyn die goue straal van die evangelie uiteindelik weer in die kerk.  Die Bybel word weer aan die gewone mens op straat gebied. Daar word psalms berym. Die oplewing kom nie sonder verwoede teëstand van die duiwel nie.

Ek lees hoe die martelare vir die Protestante beweging met warm ysters en gloeiende kole gebrand is, hoe hulle op die brandstapel gegooi is en soos diere mishandel was vir hulle geloof.  Hoe dapper hulle moes kies vir die Pous of vir die Bybel. As hulle nie die Pous gekies het nie was hulle lewe niks meer werd nie. ’n Openbare belydenis tot die Protestantse geloof was ’n doodsvonnis.

Maar dan stuur die Here ’n Marguerite …

’n Intellektuele koninklike

Sy was deel van die destydse koningshuis. Haar ma, Louise van Savoy, het haar laat opvoed as ʼn intellektuele . Sy het die beste akademiese opleiding as ʼn vrou in daardie tyd ontvang. Sy was blootgestel aan politiek, kuns, letterkunde, teologie en diplomatieke onderhandelings van kleins af.

Sy trou op ʼn jong ouderdom met Charles, hertog van Alençon. Sy was ʼn ware ousus vir haar broer, koning Francis I, wat baie jonk die troon van sy oorlede vader moes opvolg. Sy was sy raadgewer en het naby hom en in sy binnekring beweeg.

Marguerite het haar staal gewys toe sy as jong vrou eiehandig met bemiddeling haar koning-broer uit gevangenisskap gered het toe hy tydens ʼn oorlog in Spanje gevang is.  Toe sy terugkeer moes sy verneem dat haar man haar tydens dieselfde oorlog ontval het.

Haar broer was ʼn koning met stewige bande met die pous en die Vatikaanstad. Die armes was die gepeupel en die adellikes het ʼn swierige lewe gelei.  Sy trou na haar man se dood met die jong Henry (III) d’Albret, koning van Navarra.

Die invloed van die Protestantse geloof op Marguerite se lewe

In 1520 word sy bewus van die geskrifte uit die Reformasie. Sy moedig die vertaling van die Bybel in Frans aan. Gee die Protestantse teoloë geleentheid om hulle standpunte te verdedig. Dit begeester haar so dat haar latere gedigte en letterkundige werk kritiek ontvang van die Rooms Katolieke universiteit in Parys. Sy word gewaarsku dat dit te skriftuurlik was. Die universiteit laat weet haar dat as dit nie was dat sy die koning se susters was nie, sou haar lot die brandstapel gewees het.

Dit het haar egter nie gekeer om fondse te skenk vir Reformatoriese teoloë, asook skuiling te gee vir vlugtelinge van die Protestantse beweging nie. Só het sy skuiling verleen aan Johannes Calvyn toe hy na Genève gevlug het. Sy was ʼn moederlike figuur vol barmhartigheid. Sy het ook uitgereik na die armes, word daar van haar vertel.

Aan die einde van haar lewe wy sy haar tyd aan briewe en poësie. Haar letterkundige meesterstuk, die Heptameron word beskou as ʼn monument vir Franse vroue uit haar era.

Marguerite se kinders

Sy het kinders in haar laat dertigs gehad. Sy verloor haar seun op Kersdag in 1530. Haar enigste oorlewende kind is ʼn dogter, Jeanne d’Albret.

Selfs koninklikes se groot vrees was om ʼn seun te verloor.  Siektes soos builepes, pokke en sifilis het verwoesting gesaai in die tyd.

As diplomaat kon sy haar kontakte met die Vatikaan tot voordeel van die Protestante gebruik. Haar dogter word ʼn uitgesproke Protestant wat ook haar kleinseun, Henry, opvoed in die Protestantse tradisie.

Dan kom die duiwel weer met ʼn geslepe plan. Marguerita se broer, koning Francis 1, se seun Henry II trou met Catharine de Medici. Sy reël ʼn troue vir haar Katolieke dogter, Margaretha, met die Protestante Henry de Navarra, Marguerite se kleinseun. Sy weet hy gaan die troonopvolger wees. En hy is ʼn Protestant.

So staan twee vroue teenoor mekaar. Marguerite de Navarra se gelowige Protestantse dogter, Jeanne, teenoor Catherine de Medici, die hardvogtige magsugtige Katoliek. Twee pole.

Die bloed-bruilof

Die troue sou in die geskiedenis bekend staan as die bloed-bruilof.  Catherine de Medici het ʼn duiwelse plan beraam. Die bruilof was ʼn plan om die Hugenote na ʼn huweliksfees toe te nooi en hulle dan te vermoor.  Die stadspoorte word gesluit sodat niemand van hulle kon ontsnap nie. So verloor duisende Hugenote hulle lewe tydens Bartholomeusnag op die wreedste manier denkbaar.

Koning Henry IV, eertydse Protestant neem die Katolieke geloof aan vir die troon en vir sy posisie.

Die goue draad van bewaring loop verder…

Hy was egter soos sy ouma, die Protestante goed gesind. Hy gee vir hulle dorpe waar hulle waar hulle godsdiensvryheid het en vaardig later  in 1598 die Edik van Nantes uit wat vir ʼn ruk vrede bring.

Hy was bekend as “goeie Henry”.

********************

Marguerite de Navarra, ek het baie geleer en slaap vanaand diep dankbaar oor my  godsiensvryheid…. Diep getref oor wat mense met agendas aan ʼn kerk kan doen.

Diep hartseer oor die bloed en trane wat betaal is vir my geloofsbelydenis – my kosbare Gereformeerde tradisie.  Ek verdien niks daarvan nie.

Ek hoop ons sal mekaar eendag van aangesig tot aangesig ontmoet.  Ek het lank na jou gesoek, maar het jou gekry. En dit was ʼn baie verrykende ervaring.

 

Bronne:

Kerkgeskiedenis vir kinders vertel:  H Scholtemeyer, Pro Rege, 1969

https://en.wikipedia.org/wiki/Henry_II_of_France

https://af.wikipedia.org/wiki/Edik_van_Nantes

https://en.wikipedia.org/wiki/Jeanne_d%27Albret

https://en.wikipedia.org/wiki/Marguerite_de_Navarre

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *