Jeanne d’Albret

Vroue van die Reformasie

Deur Jaai du Plessis

Jeanne was die enigste kind van Henry d’Albret en Marguerite de Valois, Koning en Koningin van Navarre. Hulle het die koninkryk van Bearn naby die Spaanse grens besit. Haar pa was ’n beminde en bekwame regeerder. Haar ma (suster van Koning Francis I van Frankryk) was besonder geleerd, diep gelowig en onder die indruk van Luther en Calvyn. Sy het gesorg vir uitstekende onderrig vir haar dogter.

Met Jeanne se skerp verstand, en báie sterk wil, sou sy toegerus wees om ’n onverskrokke leier in die Hugenote-stryd te wees.

Toe sy op twaalfjarige ouderdom in ’n politieke huwelik ingedwing is, het haar sterk wil duidelik gewys. Sy het haar teenkanting uitgebasuin asook ’n amptelike verklaring aan  Koning Francis I geskryf. Toe die huwelikseremonie nogtans plaasvind moes sy met geweld gedra word tot by die altaar. Na drie-en-’n -half jaar het die politieke klimaat verander en is die huwelik ontbind op grond daarvan dat dit teen haar wil geskied het… en nooit volvoer is nie.

Later is sy met Antoine de Bourbon getroud. Al was dit weer ’n politieke huwelik het sy geen beswaar aangeteken nie. Hy was bekwaam en sjarmant en hulle het vir baie jare gelukkig saamgeleef en twee kinders gehad, Henry en Catherine.

Sterk Calvinis

Verskille in geloofsoortuiging het ’n  breuk tussen hulle veroorsaak. Dit het Jeanne se sterkte, hierdie keer van karakter, uitgewys. In 1560 het sy aangekondig dat sy ’n Calvinis is. Antoine het nie haar toewyding vir die Reformasie gedeel nie. Sy onbeslistheid het na vore gekom. Hy was ontrou in die huwelik en sy geloofsoortuigings was afhanklik van die politieke gewin wat dit hom kon bied. Na veel gewik-en-weeg het hy verklaar hy is Rooms Katoliek. Jeanne het hom bearbei, maar sonder sukses. Dit het haar nie afgeskrik nie. Haar bekering is nie gemotiveer deur politiek of mode nie. Haar wil, hierdie keer in diens van God gestel, was onwrikbaar. Anders as haar ma het sy besluit om openlik vir die Reformasie te veg.

In 1561 het die Katolieke teen-aanval begin. Catherin de’Medici, die skoondogter van Francis I, moeder van die minderjarige Koning Charles IX, en invloedrykste vrou in sestiende-eeuse Europa (Wikipedia n.d. verwys na Strage, 1976: xi), was die regent van Frankryk en aanvanklik simpatiek jeens die Reformasie. Haar prioriteit was egter om beheer oor Frankryk te behou en sy het die Calvinisme verwerp. Sy het Jeanne probeer beïnvloed, maar uit haar sterk bewoorde reaksie was dit duidelik dat níks haar sal wegkeer van die Calvinisme nie. Antoine en Catherine het haar daarna uit Parys uitgewerk. Toe mede-Calviniste sien watter prys sy vir haar standpunt betaal het haar sterkte húlle versterk.

Bevorder die Reformasie in Bearn

In 1562, siek aan Tuberkulose en sónder haar seun, is sy weg, Bearn toe. Sy het die Reformasie daar ywerig bevorder en die vertaling van die Nuwe Testament in haar mense se taal (Baskies) gefinansier. Haar herorganisasie van die ekonomiese- en regstelsels was so goed dat dit tot in die 18de eeu in plek gebly het.

Antoine is gewond terwyl hy die Katolieke help veg het. Alhoewel hy sy minnares opgekommandeer het vir sy versorging het Jeanne haar daarheen gehaas, maar hy is dood voordat sy by hom kon uitkom. Hierna het sy dadelik gereël dat Protestantse leermeesters weer na haar seun omsien.

Eerder sterf as om God in die steek te laat!

Die Spaanse Koning en die Pousdom het probeer om haar van haar godsdienstige beleid te laat afsien. Haar reaksie was: “Although I am just a little Princess, God has given me the government of this country so I may rule it according to His Gospel and teach it His laws. I rely on God, who is more powerful than the King of Spain”(Roelker, 1968: 216, aangehaal deur Manzer, n.d.). Sy het voortgegaan met die hervorming en ’n Calvinistiese Akademie gevestig. Spanje en die Pousdom was woedend, en Catherine het haar probeer muilband.

Toe die derde burgeroorlog in 1568 uitbreek moes sy met haar kinders vlug na die Protestantse vesting, La Rochelle. Hier kan die krag van Jeanne se diens aan God  – en sy krag aan die werk deur haar – die beste gesien word. Haar insette was van onskatbare waarde vir die Hugenote. ’n Teologiese skool is gestig en sy het die dosente se salarisse grootliks self betaal. Haar liggaam het swakker geword maar haar vasberadenheid was sterker as ooit. Sy het aan Catherine en Charles IX geskryf rakende ’n vredesooreenkoms. Toe hulle dit verwerp, het sy gerapporteer hulle almal eerder wil sterf as om hulle God in die steek te laat. In 1570 het Charles IX die Vrede van St. Germain onderteken en die Hugenote het groter godsdiensvryheid as ooit tevore geniet.

Alles ten goede…

Catherine wou die hele Frankryk verenig en het aangevoor dat Henry, Jeanne se seun, met haar dogter Marguerite trou. Vir Jeanne was dit ’n sielestryd. Sy het gevrees dat Henry sou swig onder die druk en weer die Katolieke geloof aanneem. Sy was begaan oor Frankryk, en het dit ook ter harte geneem toe daar gesuggereer is dat haar hardkoppigheid in hierdie geval ten koste van die Reformasie kon wees. Sy het aan Henry geskryf: “You have doubtless realized that their main object, my son, is to separate you from God, and from me… you can understand my anxiety for you… I beg you, pray to God” (Roelker, 1968: 373-374, aangehaal deur Manzer, n.d.).

Haar gesondheid was swak. Sy het ineengestort. Vier dae lank het sy in toenemende pyn gelê. Haar predikante het op haar versoek Ps.31 en Joh. 14-18 voorgelees en voortdurend gebid. Sy het berus en God gevra om haar te verlos. Sy het aan Tuberkulose gesterf op 9 Junie 1572.

Jeanne se verhaal eindig nie by haar dood nie. Haar dogter Catherine was as Calvinis by die Hugenote betrokke. Haar seun, (Katolieke) Koning Henry IV van Frankryk, se Edik van Nantes (1598) het alles waarvoor Jeanne en die Hugenote geveg het, vervul.

Dit waaraan Jeanne haar lewe gewy het, is deur die samewerking  tussen haar seun en dogter bewerk: hy het die Edik van Nantes opgestel en sy het gehelp dat die Hugenote dit onderteken.

VERWYSINGS:

I: Abraham, Valerie, Five Important Women of the Reformation You Should Know About. 2015, Oktober 15. Beskikbaar: http://www.romanroadsmedia.com-women-of-reformation/ (2017, Augustus 16).

II: “Catherine de Bourbon” . Wikipedia online. Beskikbaar: http://www.wikipedia.org (2017, Augustus 21).

III: “Catherine de’ Medici: In 1533, at the age…” . Wikipedia online. Beskikbaar: http://www.wikipedia.org (2017, Augustus 21).

IV: Manzer, Marilyn B., Reformed Royalty: The Strength of Queen Jeanne d’Albret. n.d. Beskikbaar: http://www.reformed.org (2017, Augustus 16).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *