Die trauma van verlies

Dr. Trudie antwoord

My man het drie jaar gelede verongeluk, vyf dae na sy verjaarsdag. Aangesien hy op ʼn vakansiedag verjaar het, het ons altyd op ʼn heerlike romantiese wegbreek gegaan gedurende daardie tyd. Ek is nog redelik jonk (in my dertigs) en almal om my sê dat ek net moet vasbyt. Ek gaan oor die “aanvanklike” pyn en hartseer kom.

Maar, elke jaar rondom die herdenking van sy dood, ervaar ek vir weke voor die tyd emosionele simptome wat my hele lyf beïnvloed. Ek word stil en keer heeltemal in myself, sonder om dit te bedoel. Ek verloor alle belangstelling en ek raak emosioneel amper afgestomp. Hoe nader die datum kom, hoe angstiger word ek daaroor. Ek het hierdie jaar selfs vir my werkgewer gesê dat hy asseblief belangrike besluite vir my moet los tot na my man se herdenking. Ek vertrou myself of my vermoë om besluite te neem glad nie. 

Ek weet nie of dit ek is wat myself toelaat om so in ‘n “staat” te gaan, en of ek regtig nie beheer het daaroor nie. Al wat ek weet, is dat dit nou al 3 jaar is en ek ervaar sy dood nog steeds asof dit gister was.

Wanneer sal die Here se genade my verlos van hierdie pyn? Laat die Here toe dat my lewe tot stilstand kom elke jaar, omdat hy my wil herinner aan wat ek gehad het? Of  is die hele idee van vorentoe beweeg nie vir my beskore nie?

 Jy is deur ʼn baie moeilike tyd. Dit wat waarskynlik een van die hoogtepunte van die jaar vir jou was, omdat jy altyd uitgesien het na ʼn besondere wegbreek saam met jou man, is nou een van die traumatieste tydperke in jou lewe. Jou hele wese, jou liggaamsgeheue, jou emosies, en al jou gedagtes was vir jare so ingestel dat jy gedurende hierdie tyd groot vreugde saam met jou man sou beleef. Nou is dit egter die tyd van die jaar waarteen jy met jou hele wese die meeste opsien.

God het ons op ʼn wonderlike wyse geskape om die aardse pyne waardeur ons moet gaan te oorleef. Een daarvan is hoe ons breine reageer wanneer ons deur ʼn traumatiese ervaring gaan. Ons ervaar nie die volle impak van ʼn traumatiese gebeurtenis dadelik nie. Ons beleef as’t ware ʼn voortdurende verwerking van traumatiese gebeure. Sodra ʼn mens voel dat dit beter gaan, kom jy in ʼn situasie wat jou weer terugsit. Al verstaan jy self  nie hoekom nie, of waarom jy nou weer so opsien teen alles nie. Dit is asof jou regterbrein (wat veral sintuiglike stimuli in jou geheue stoor), en jou linkerbrein (wat veral woorde in jou geheue stoor), nie met mekaar kommunikeer nie. Daarom begryp jy nie altyd waarom iets jou sneller nie. Dit is ook die rede waarom elke persoon ʼn traumatiese gebeurtenis anders ervaar.

In werklikheid ervaar jy dus nou twee tipe snellers in afwagting van die datum toe die noodlottige gebeurtenis plaasgevind het: Aan die een kant is daar verskillende sintuiglike herinneringe wat in jou brein vasgesteek het wat jy nie in woorde kan omsit nie, en aan die ander kant is daar rasionele herinneringe oor wat gebeur het wat jy nie vir jou kan inprent nie. Natuurlik sal dit stres by jou genereer ente groot groep hormone en oordragstowwe in jou brein aktiveer wat ʼn baie negatiewe invloed op jou konsentrasie sal hê. Jou gevolglik gebrekkige konsentrasie en onverstaanbare emosies kan jou verder so afstomp dat ook jou gedrag heeltemal negatief  beïnvloed word. Dit alles kan veroorsaak dat jy uiteindelik in ʼn totale energielose staat kan beland. Uiteraard sal jy dan nie soos gewoonlik kan optree nie.

Wat jou vrae omtrent God se genade betref, kan jy gerus aan Job dink. Hoe traumaties moes dit nie vir hom gewees het toe hy al sy besittings verloor het, sy kinders almal skielik dood is, sy vrou hom gelos het en hyself baie siek geraak het nie? Hy het, anders as ons (vgl. Job1:1-2:10), glad nie verstaan waarom alles met hom gebeur het nie, aangesien hy die vroomste man in die Ooste was. Hy het, net soos jy, ook God se bedoeling oor wat met hom gebeur het bevraagteken. Inteendeel, hy het nog verder gegaan en vir God uitgedaag om vir hom te antwoord waarom hy nou so swaar moet kry (Job 13:18, 22-23).

Eers nadat God vir Job geantwoord het deur sy almag aan hom te verduidelik (Job. 38-41), het Job erken “Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit… ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie… ek het U nie verstaan nie” (Job 42:2-3). Job moes dus leer: Wat God uitvoer, is groter en hoër as wat ons ooit kan dink.  Ook jou swaarkry gaan dus nie in die eerste plek oor jou nie, maar oor wat God besluit het in sy almag en sy groot verlossingsplan.

Jy moet met jou pyn veral konsentreer op onse Here Jesus Christus wat Homself nie vasgeklem het aan sy Goddelike bestaan nie, maar Hom verneder het om aan mense gelyk te word (vgl. Fil.2:6-7). Toe het Hy Homself nog verder verneder om in ons plek die volmaakte offer vir al ons sonde en ons gebroke bestaan te bring (Fil. 1:8; Heb.9:26a).  Indien jy kan  regkry om op die positiewe van Christus se ingrype in ons lewe te fokus, sal jy nie in ʼn energielose staat beland en heeltemal afgestomp raak nie. Jy het dus die verantwoordelikheid en vermoë om anders te dink oor die tyd van die jaar waarna jy so opsien.

Hiermee sê ek nie dat jou aardse verlies nie baie groot is nie, maar dat jy jou daarop moet toelê om bo die hier en nou uit te styg en jou gedagtes op dit wat Christus in ons lewe gebring het – ons verlossing van hierdie stukkende sondige bestaan – te rig. Dit sal ʼn positiewe invloed hê op jou hele ingesteldheid, veral gedurende die tyd van die jaar toe jou man van jou af weggeneem is.

Meer prakties

  • Laat jouself toe om stil te word en te huil. Moenie jou gedagtes en emosies onderdruk nie. Dit sal net die spanning in jou liggaam verhoog en jou kans om in depressie vas te steek, verhoog.
  • Dink doelbewus daaraan dat jou man totaal verlos is van sy aardse stryd. Die dood kon hom immers nie van die liefde van Christus skei nie (Rom. 8:38). Wat laasgenoemde betref, kan jy aan Christus se woorde aan die man wat langs Hom gekruisig is, dink: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.” (Luk. 23:43).
  • Maak al jou bekommernisse met gebed en smeking aan God bekend, en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan sal oor jou wag hou (Fil. 4:5-6). As dit vir jou moeilik is, weet dat die Heilige Gees vir jou intree (Rom. 8:26).
  • Oorweeg dit ook om van ʼn gebedsjoernaal gebruik te maak waarin jy alles wat swaar op jou hart druk aan God bekend kan maak.
  • Mag God jou die innerlike krag gee om vorentoe te beweeg!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *